Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Musk verstom met breinskyfie

Daar is die elektriese Tesla en die SpaceX Starship. Wat is volgende vir Elon Musk? Gertrude, die “gerekenariseerde” vark.

Gertrude, die vark wat ’n rekenaarskyfie in haar brein ingeplant gekry het.

Hy het al suksesvol ’n bemande ruimtetuig die lug ingestuur.

Hy het die hindernisse wat groot motormaatskappye as versperrings beskou het gou oorkom en sy elektriese motor is ’n ongekende sukses.

Wat is volgende in Elon Musk se visier?

Heel moontlik sy grootste uitdaging tot nog toe, want hierdie keer gaan dit babatreetjies verg.

Maar Musk pak dit weer eens op sy gewone manier aan – vol bravade en geesdrif.

Die eerste teken van sukses wat hy wel behaal het, se naam is Gertrude. ’n Vark.

Musk het haar en twee ander varke onlangs op ’n aanlyn mediakonferensie aan die wêreld voorgestel. (Hy het dit sy Drie Klein Varkies-demonstrasie genoem.)

Gertrude het ’n elektroniese inplanting in haar brein wat haar in staat stel om digitaal met ’n rekenaar te kommunikeer.

Nee, Gerty kan nog nie tik nie.

Die muntgrootte rekenaarskyfie in haar kop het 1 024 haarfyn elektrodes wat aan die serebrale korteks gekoppel is.

Dié buitenste laag van die brein is verantwoordelik vir motoriese beheer en sensoriese terugvoering aan die brein.

Die skyfie, wat deur ’n chirurgiese robot in die kop ingeplant word, tel elektriese seine in die brein se neurone op en versterk dit tot waarneembare golwe.

In teorie behoort inligting ook ander kant toe te kan vloei en golwe in die brein geplant te kan word.

In Gertrude se geval is die skyfie verbind tot dié deel van die korteks wat haar reuksintuig beheer.

Terwyl sy tydens die demonstrasie aan haar kos gesnuffel het, kon elektroniese aktiwiteit op ’n rekenaarskerm gesien word.

Die doel van sy groot vertoon was volgens Musk nie om borgskappe te werf nie, maar om wetenskaplikes te lok wat aan die projek wil kom werk.

Hy het gesê die drie varke is “gesond, gelukkig en kan nie van normale varke onderskei word nie”.

Daar is ook ’n vark waarby die toestelletjie reeds sonder enige newe-effek weer verwyder is.

Die inplanting is “bietjie soos ’n Fitbit in jou skedel met dun draadjies”, het hy gesê.

“Ek kan selfs ’n Neuralink in my hê en julle sal dit nie weet nie. Miskien het ek regtig een.”

Neuralink is die maatskappy in San Francisco wat hy in 2016 gestig het met die doel om ’n toestel te ontwikkel wat kommunikasie tussen die menslike brein en die rekenaarwêreld moontlik maak.

Denkende rekenaars

Dit kan ’n deurbraak wees in die behandeling van talle neurologiese siektes, soos Alzheimer se siekte, demensie en sekere soorte gehoorverlies, asook die nagevolge van beserings aan die rugstring.

En uiteindelik kan dit die brein dalk in staat stel om hande te vat met kunsmatige intelligensie (KI).

Musk het hom al baie oor die moontlike gevare van denkende rekenaars uitgespreek, maar blykbaar reken hy nou dat dit beter is om KI van die mens se kant af te benader.

Die Neuralink-skyfie kan later beteken dat KI ’n “verlengstuk van jouself” word, sê hy.

Hy noem dit “supermenslike kognisie”: Om die brein se krag so te verhoog dat hy enige rekenaar ore sal aansit.

Musk self het $100 miljoen van die $158 miljoen gegee wat Neuralink tot nou toe ontvang het om die program van stapel te stuur.

Die maatskappy het middel verlede jaar reeds aangekondig hy werk aan so ’n inplanting, waarvan ’n battery-en-kommunikasietoestel agter die persoon se oor sou pas – baie soos sekere gehoorstukke.

Die nuwe weergawe van die skyfie word egter in geheel in die skedel ingeplant en kommunikeer via Bluetooth met ’n rekenaar.

Daar is ander maatskappye ook wat aan dieselfde tegnologie werk en boonop word inplantings reeds lankal suksesvol gebruik teen Parkinson se siekte en epilepsie.

Die Neuralink-skyfie.

Wat maak Neuralink s’n dan anders, indien enigsins?

Wel, eerstens is daar Elon Musk self.

Sy demonstrasie is weer eens met groot fanfare aangekondig en die hele projek gaan vanweë sy betrokkenheid baie meer aandag (geld) trek as enigiemand anders s’n.

Ten tweede het hy reeds met SpaceX en Tesla bewys hy het die vermoë om verskillende kenners byeen te bring en hulle aan te spoor, asook om innovering te bespoedig.

Prof. Graeme Moffat, neurowetenskaplike kenner van die Universiteit van Toronto in Kanada, meen die vordering wat Neuralink reeds van verlede jaar af tot nou gedoen het, is “omvangryke spronge”.

Hy skryf dit toe aan die grootte, draagbaarheid en draadlose kenmerke van die skyfie.

Die Stanford-Universiteit se dr. Sergey Stavisky sê Neuralink se vordering is “indrukwekkend” en dit “beklemtoon waarlik die voordeel daaraan verbonde indien mens ’n groot, multidissiplinêre span het wat op ’n probleem fokus”.

Prof. Ken Shepard, kenner van biomediese ingenieurswese aan die Columbia-Universiteit, sê Musk se projek is “baie goed gefinansier en gefokus”.

“Hulle sê hulle het reeds honderd mense wat daaraan werk.

“Dit is ’n indrukwekkende hoeveelheid hulpbronne vir iets soos hierdie. Ek dink dit gee hulle ’n ware voorsprong bo ander groepe.”

Hoe werk die brein?

Iemand wat hierdie veld besonder goed ken, is die wetenskaplikes David Borton en Arto Nurmikko van die Brown-Universiteit in Providence, Rhode Island.

Hulle het self ’n neurosensor ontwikkel wat die breinaktiwiteit van varke en ape kan meet.

“Neuralink het, met hope kreatiwiteit, dit reggekry om baie wat reeds in hierdie veld ontwikkel is, suksesvol in hul projek te knip en te plak,” sê Nurmikko.

Die tegnologie is dalk nie uniek nie, maar die vraag is hoe sterk die moontlikheid nou is dat dit wel in mense ingeplant gaan word. “Dit is die hangende vraag. En die antwoord kan baie maklik ja wees.”

Wetenskaplikes wys wel daarop dat daar nog baie werk is wat gedoen moet word.

Die lewensduurte van die skyfie moet byvoorbeeld nog getoets word, want die menslike liggaam is nie ’n gunstige omgewing vir byvoorbeeld dun elektrodes nie.

Elon MuskFoto: Reuters

Volgens Shepard is die wyse waarop Neuralink daardie elektrodes met behulp van ’n robot in die brein heg, al klaar noemenswaardig.

Die uitdaging is volgens hom nou om die hoeveelheid elektrodes te vermeerder, asook om hul konnektiwiteit met die rekenaarskyfie te verbeter.

Die beskikbare bandwydte sal ook moet verbreed omdat ’n duisend elektrodes baie data kan insamel en Bluetooth net ’n beperkte hoeveelheid inligting tegelyk kan oordra.

Ari Benjamin, rekenaar-neurowetenskaplike aan die Universiteit van Pennsylvania, meen egter die grootste probleem lê aan die biologiese kant van hierdie grootse uitruilproses.

Die menslike brein se kompleksiteit gaan Musk-hulle se grootste struikelblok wees.

“Neuralink sal die opgeneemde breingolwe moet dekodeer en een of ander tyd gaan hulle hul vasloop teen ’n muur – ons gebrek aan ’n basiese begrip van hoe die brein werk.”

Dit is moeilik om iets te dekodeer “wanneer jy nie die neurale kode het waarin daardie goed gekommunikeer word nie”, sê hy. – Reuters, Scientific American, BBC

Meer oor:  Spacex Starship  |  Tesla  |  Elon Musk  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.