Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: My aanbod aan die parlement

Ek het ’n aanbod vir die parlement: As julle regtig nie geld het om staatskaping behoorlik te ondersoek nie, sal ek deur skarefinansiering vir julle geld by die publiek kry. Sal R3 miljoen genoeg wees?

Max du Preez

Ek sal nóg verder gaan en al die uitstekende ondersoekende joernaliste en ander navorsers wat hieraan werk, oorreed om uiteensettings van hul ondersoeke en dokumente aan julle beskikbaar te stel. Dan is julle huiswerk gedoen. Wat het julle nóg nodig?

Die ANC en pres. Jacob Zuma self sê daar gaan ’n regterlike kommissie van ondersoek na die verslag van die vorige openbare beskermer (OB), “State of Capture”, kom. Maar dit word ál duideliker dat dit waarskynlik die pad van die Seriti-kommissie van ondersoek na die wapenskandaal gaan loop: Dit gaan jare neem, veral as die mandaat breër as net die OB se verslag geformuleer word, en op ’n toesmeerdery uitloop.

Die parlement het met die optrede teen die SAUK bewys dat ondersoeke deur portefeuljekomitees die vinnigste manier is om teen misbruike, wanbestuur en korrupsie in die staat en sy ondernemings op te tree. Tjoef-tjaf, en toe is Hlaudi daarmee heen, ’n nuwe raad aangestel en die SAUK op die pad na herstel geplaas. Dit is uiters dringend dat dieselfde met veral Eskom, maar ook die SAL, Prasa, Transnet, Denel en ander gedoen word. Nie net word baie miljarde rande se staatsgeld deur dié staatsondernemings gesteel en vermors nie, maar dié wanbestuur kan ook regstreeks tot ’n finale en verdoemende kredietafgradering lei.

Ondersoekende joernaliste en navorsers het aan die hand van die gelekte Gupta-e-posse en ander dokumente onteenseglik bewys dat daar ’n groot skroef los is, só groot dat dit ons ekonomie en ons ganse politieke etos ondermyn. Maar nou hoor ons die parlement het nie genoeg geld om dit behoorlik te ondersoek of selfs ’n getuienisleier te bekostig nie. Ons soek so R80 miljard om in die staatskas terug te betaal, en die parlement kan nie ’n paar miljoen bekostig nie?

Vier politieke leiers staan hier in die beskuldigdebank, en al vier praat baie graag oor hoe ons korrupsie en staatskaping moet uitroei: die hoof van regeringsake in die parlement, adj.pres. Cyril Ramaphosa, die ANC se hoofsweep, Jackson Mthembu, die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, en die ANC-LP en voorsitter van parlementêre komitees, Cedrick Frolick. As dié vier regtig wil hê die parlement moet staatskaping en staatsondernemings behoorlik ondersoek, sál dit gebeur.

Die parlement, die vergaderplek van ons verkose verteenwoordigers, is die regte plek waar die staatskapers en korruptes wat met ons geld en instellings speel, uitgewys en vasgevat word

Die onus rus veral swaar op Ramaphosa en Mantashe, want hulle het gehelp dat Zuma in 2012 by Mangaung as president herkies word. Staatskaping, magsmisbruik en korrupsie het daarna merkbaar na ’n hoër rat oorgeskakel.

Daar is maar min wat Suid-Afrika uit die Amerikaanse politieke stelsel kan leer, maar ons kan wel kyk na die manier waarop die kongres en die huis van verteenwoordigers spesiale ondersoeke doen. Lede het spanne navorsers wat hulle vir die ondervraging voorberei. Enigiemand kan verplig word om voor die komitees te verskyn en die ondervragings word soms erg robuus.

Die parlement, die vergaderplek van ons verkose verteenwoordigers, is die regte plek waar die staatskapers en korruptes wat met ons geld en instellings speel, uitgewys en vasgevat word. Daarna kan die uitgewysdes strafregtelik in die howe aangekla word.

Die opposisiepartye het die laaste tyd goed en met heelwat impak saamgewerk. Dalk moet hulle saam ’n span ondersoekers en spesialiste aanstel sodat niemand wat voor hulle verskyn, met moord wegkom nie.

Die meeste belastingbetalers sal maar te gretig wees om ’n bydrae te lewer. Laat weet my, ek sal help.

Meer oor:  Geld  |  Staatskaping  |  Parlement  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.