Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
My agitprop, jou agitprop
Dr. Blade Nzimande (ANC) by ’n foto van oudpres. Wladimir Lenin van Rusland. Lenin en die moderne ANC is vernuftige gebruikers van agitprop (agitasie en propaganda). Foto: Schalk van Zuydam

Die omstrede verklaring van die FW de Klerk-stigting ná vanjaar se staatsrede het heelwat openbare debat ontlok. Die stigting het onder meer na die ANC se standpunt dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom is as Sowjet-agitprop verwys.

Apartheid is nie hier onder die soeklig nie, maar wel die woord “agitprop” en die herkoms en moderne gebruik daarvan.

Die woord “agitprop” is ’n portmanteau, of samevoeging, van twee Russiese woorde, “agitatsiya” en “propaganda” (agitasie en propaganda). Dit verwys na die politieke kommunikasiestrategieë en instrumente van die Sowjet-era se departement van agitasie en propaganda, wat deel was van sentrale en streekkomitees van die Kommunistiese Party van die Sowjetunie.

Agitprop verwys dus na die mobilisering of opstokery van burgers om die regime te ondersteun, dikwels deur kuns, literatuur, drama en kommunikasie.

Agitprop verwys dus na die mobilisering of opstokery van burgers om die regime te ondersteun, dikwels deur kuns, literatuur, drama en kommunikasie.

Ontevredenheid onder die Russiese intelligentsia met die bewind van tsaar Nikolas II het kunstenaars aangemoedig om sentimente teen die Romanofs in hul kuns uit te druk. Alternatiewe kuns (grafika, topografie en ontwerp) en uitdrukkingsvorms het spoedig nuwe tendense en denkrigtings soos konstruktiwisme, produktiwisme en suprematisme in Rusland opgelewer. Die topografiese nalatenskap van die bewegings sluit nuwe lettertipes in wat serif en sans serif kombineer.

Benewens dié ontwikkeling en bydraes, is jong kunstenaars ná die revolusie opgelei om ’n nuwe kuns, soos sogenaamde heroïese (heldhaftige) realisme, vir die proletariaat te skep. Sommige van die ander politieke nalatenskappe volg.

Lenin se agitprop-treine

Ná die Bolsjewistiese Revolusie in Rusland in 1918 het Wladimir Lenin verskeie sogenaamde agitprop-treine (“agitpoedza”) Rusland laat deurkruis. Rusland was gewikkel in ’n burgeroorlog tussen Bolsjewiste en ondersteuners van tsaar Nikolas II wat tot 1923 sou duur.

Die doel van die agitprop-treine – stoombote is ook later gebruik om mense langs die Wolgarivier te bereik – was om propaganda onder die Russiese Rooi Leër en sy ondersteuners te versprei en die revolusie te konsolideer.

Die eerste agitprop-trein wat na Lenin genoem is, het Moskou in Augustus 1918 verlaat. Verskeie ander sou volg. Kunstenaars het die treine versier met revolusionêre slagspreuke en propaganda.

Elke trein, wat gemiddeld 16 tot 18 waens gehad het, het ’n biblioteek, telegrawe, kameras, ’n drukpers en radiosenders en -ontvangers gehad. Pravda (voorheen die Kommunistiese Party se amptelike koerant), pamflette en literatuur wat deur kunstenaars aan boord saamgestel is, was hier beskikbaar.

Rolprente en teater was die belangrikste instrumente van die agitprop-treine en daarna. Miljoene ongeletterde Russe kon só bereik word. Vertonings (“agitki”) het op of langs die treine plaasgevind en sogenaamde agitasieburo’s (“agitpunkty”) is by treinstasies ingerig waar burgers bereik kon word.

Ander agitprop-instrumente was die gebruik van tradisioneel Russiese poppekasteater, waar die hooffiguur, Petroesjka, as ’n politieke hofnar aangewend is. Voorts is sogenaamde agitasiehofsake, of hofdramas, opgevoer wat die gevolge van politieke wangedrag (politieke opposisie) uitgebeeld het.

Kitchener, Uncle Sam

Voorbeelde van Westerse agitprop van ongeveer dieselfde tydperk sluit in die bekende beeld van die Britse oorlogstaatsekretaris, veldmaarskalk lord Kitchener, wat sy vinger na die leser wys met die woorde: “Your country needs you.”

Dié bekende beeld van Alfred Leete­ is op 5 September 1914, ongeveer ’n maand ná Brittanje se oorlogsverklaring teen Duitsland, as ’n advertensie in London Opinion gepubliseer. Kitchener, ’n Britse held ná die Anglo-Boereoorlog, het besef dat hy ’n groter weermag vir die Eerste Wêreldoorlog sou nodig hê en het spoedig met ’n werwingsveldtog begin.

Slegs twee jaar later was Leete se beeld die inspirasie vir James Montgomery Flagg se ikoniese voorblad op 6 Julie 1916 van die Amerikaanse tydskrif Leslie’s Weekly. Die voorblad, met die woorde: “I want you for the US Army. Enlist now”, en ’n vingerwysende Uncle Sam (die Amerikaanse regering), het dus terselfdertyd as ’n werwingsadvertensie gedien vir die Amerikaanse weermag, wat eers ’n jaar later tot die Tweede Wêreldoorlog sou toetree.

Agitprop maak dus ’n emosionele aanspraak op die gehoor en gaan dikwels gepaard met ’n opdrag, vermaning, motivering en/of beroep.

Kitchener en Uncle Sam se liggaamstaal is dreigend, selfs beskuldigend, terwyl Sowjet-era-agitprop, byvoorbeeld, dikwels gelukkige en gesonde werkende Russe uitbeeld. Ander beelde toon Russe in ’n uitgestrekte liggaamsposisie wat ’n strewe uitbeeld. Die doel is dus om politieke mag te verkry, te behou en/of te versterk.

Die herhaaldelike gebruik van teks, lettertipes, kleure, grafika, figure en beelde verkry mettertyd ikoniese status, ’n soort politieke handelsmerk en/of instrument van breinspoeling.

EFF en De Klerk

Die EFF se openbare j’accusevan oudpres. FW de Klerk ten tyde van die staatsrede bly omstrede. Wit Suid-Afrikaners dra apartheid en kolonialisme soos ’n Bybelse erfsonde en die aanklag teen De Klerk kan dus as ’n aanspraak teen elke wit mens beskou word.

Die FW de Klerk-stigting se volte face ná die hewige reaksie teen sy verklaring die dag ná die staatsrede beklemtoon die geskiedkundige sensitiwiteite om ras en die geskiedenis van Suid-Afrika.

Malema en sy vryheidsvegters smous en leef ’n soort Sowjet-agitprop waar die werkersklas as die ideale en ware heersersklas voorgestel en vereer word.

De Klerk en sy binnekring het hul politieke mondigwording en die grootste deel van hul politieke loopbaan ten tyde van die Koue Oorlog gehad. Sowjet-propaganda, of agitprop, was dus deel van hul daaglikse werklikhede.

Dit is wel ironies, selfs politieke geheueverlies, dat die FW de Klerk-stigting na agitprop verwys. De Klerk het immers in verskeie kabinette gedien waarvan, terugskouend, die NP-inligtingsdiens en die staatsondersteunde militêre vermaakkompleks wat onder meer Bosoorlog-flieks vervaardig het, agitprop geïnstitusionaliseer en beoefen­ het.

Daarteenoor is Julius Malema, Son of the Soil, in hedendaagse terme ’n kindersoldaat van die Suid-Afrikaanse bevrydingstryd. Hy is sedert negejarige ouderdom polities aktief en het reeds as 14-jarige politieke leiersposte in die ANC beklee.

Malema en sy vryheidsvegters smous en leef ’n soort Sowjet-agitprop waar die werkersklas as die ideale en ware heersersklas voorgestel en vereer word, en Sowjet-leksikon, soos kommissar en politburo, gebruik word.

Malema het selfs daarin geslaag om revolusionêre sjiek as agitprop-modegier te inspireer. Let maar op na jong mense met rooi barette, fop- militêre stewels en modieuse uitrustings. Kortom: Malema en die EFF se agitprop blyk binne dié dampkring te slaag.

ANC en Mandela-stigting

Ander behendige Suid-Afrikaanse gebruikers van agitprop is die ANC en die Nelson Mandela-stigting.

Mandela het as ’n politieke Lasarus ná sy dood verrys. Sy persona het ’n onvergelykbare agitprop-handelsmerk geword. Soos die ikoniese­ beeld van Ché Guevara, word ’n relatief jeugdige Mandela as ’n winsgewende politieke onsterflike onder jeugdige en ouer belhamels, verkramptes en verligtes bemark.

Daar lê die ding

My agitprop, jou agitprop. En daar lê die ding, Suid-Afrika.

Sowjet-era-agitprop leef dus voort in die praktyk en in die verbeelding van die 21ste eeuse Suid-Afrikaanse samelewing.

Tegnologiese vooruitgang sedert Lenin se treine ’n eeu gelede herskep agitprop deur middel van fopnuus, bots, troll armies, kuberkraking en parlementêre Petroesjkas wat die politieke mag van beelde, boodskappers en boodskappe verder in die hande van politieke kommissars en nomenklature versterk.

* Prof. Van Wyk is hoogleraar in internasionale politiek verbonde aan Unisa. Haar belangstellings sluit politieke amnesie (geheueverlies) en politieke nostalgie in.  

Meer oor:  Fw De Klerk  |  Jo-Ansie Van Wyk  |  Eff  |  Nasionalisme  |  Politiek  |  Kommunisme  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.