Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
My gemengde gevoelens oor dorpe en duiwe
Johan van Wyk

Gemengde gevoelens is glo wanneer jou skoonma met jou splinternuwe luukse BMW oor ’n afgrond ry – jy is tegelyk verheug en hartseer.

Nie dat ek dit onderskryf nie. Ek was lief vir my skoonma. Soos haar dogter, was sy ’n goeie, slim vrou. Wat is ’n huis sonder ’n moeder? As jy my vra, sluit dit skoonma’s in.

Volwasse mans wat hulle skoonma’s agter hul rûe beswadder, het nog nie opgehou om met Dinky Toys te speel of hulle kinders verbied om tuinvoëltjies met ’n kettie te skiet nie.

Daarteen is ek so gekant dat ek my kleinseuns se gekoopte winkelketties skelmpies in die vullisdrom gegooi en hulle gehelp het om ’n wip te stel, op voorwaarde dat die voëltjies wat hulle vang, onbeseerd vrygelaat word.

Ja, natuurlik het ek geswyg dat ek in my kinderdae – uit onkunde – self voëltjies met ’n tuisgemaakte kettie geskiet het, gelukkig meestal mis. En as ek ’n tortelduif wel met ’n kettie en later ’n windbuks raakgeskiet het, het ek dit gebraai en geëet.

Miskien sal ek tog wel ’n duifpastei maak as hulle te veel word, maar dit sal nie sonder gemengde gevoelens wees nie.

Maar dit is lank terug en dinge het intussen baie verander. Pleks van hulle te skiet, kry duiwe en ander tuinvoëltjies nou fyn pitkos uit ’n selfvoerder en stropies uit ’n drupbottel op my werf. Op my hek staan: “Geen ketties en katte!” Net verlede week is mos berig oor wat huiskatte alles jag en verslind.

Om te verhoed dat ’n inwonende ringnekduifpaartjie se eiertjies uit ’n nessie van ’n paar stokkies by ’n klimop onder die stoep se veranda val (duiwe is mos slordige nesbouers), het my ondernemende, diereliefhebbende vrou selfs ’n veilige nessie uit ’n klein broodmandjie geprakseer. Ons wag in spanning dat die wyfie dit aanvaar en begin om eiertjies te lê.

Miskien sal ek tog wel ’n duifpastei maak as hulle te veel word, maar dit sal nie sonder gemengde gevoelens wees nie.

Soos wat ek beleef het met die nuus dat die bekoorlike Noord-Kaapse Karoodorpie Williston een van die aanspraakmakers is om Suid-Afrika se Dorp van die Jaar te word.

Ek gun Williston, my geboortedorp en Calvinia se buurman, die voordele wat dit kan bring, maar ons weet mos dat ’n dorp se bekoring in die gedrang kom wanneer dit “ontdek” en uitgevyl word. Wil Williston se mense en almal wat die Karoo hartstogtelik bemin, dit regtig hê?

Soos die Karooboer wat met Engels gesukkel het en nie “twyfel” in Engels kon kry nie gesê het toe ’n Engelssprekende besoeker wou weet of dit sal reën: “I twaaifel”.

Waaraan ek nie twyfel nie, is dat Williston, by wyse van spreke, ’n “Israeliet sonder bedrog” is. Soos toe sy Joodse handelaar tyd en dae nie die volle name van ’n Theron wat ’n perdesaal op skuld gekoop het, aangeteken het nie.

Toe sy boekhouer wou weet vir wie hy die rekening moet stuur, want daar is elf Therons op die boeke, was sy antwoord: “Stuur vir almal, die regte een sal kom betaal!”

Dít is hoe ek Williston wil hou.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Skoonma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.