Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
My geselserige oggend by die haarkapper . . .

’n Haarsny is vir my ’n klein spa-behandeling, ’n verposing van ’n paar minute, waarná jy uitstap en effens beter oor jouself voel. Dalk nie heeltemal soos ’n feniks wat uit die as herrys nie, maar tog.

Daar is eintlik net twee soorte haarkappers – geselsers en swygers.

Bun Booyens

My gunsteling-haarkapper was ’n vrou, oorspronklik van Swellendam, wat elke keer aan die begin net gesê het “Meneergh, maargh jou harghe is so dík!” en dan begin knip het, en soms tussendeur saggies geneurie het. Heerlik.

Die geselser sal egter, sodra jy gaan sit, ’n stukkie aas uitgooi (“So, hoe lyk julle naweekplanne?”) om ’n gesprek op dreef te kry.

Ek probeer dan om dinge met ’n kort, generiese antwoord te smoor (“Hang af van die weer”), maar selfs dit bied genoeg vastrapplek vir ’n geselser wat sy sout werd is. “Wel, óns ry Vrydag Langebaan toe . . .”

Dan weet jy daar is nie uitkomkans nie, jy gaan die volle verhaal moet trotseer – die weer wat vanjaar so anders is, die petrol wat so duur is, die kortpad waarvan niemand weet nie . . .

Ek stereotipeer nou, maar jy gaan noodwendig ’n manlike barbier se ontleding van die landspolitiek moet aanhoor en, tensy jy wal gooi, gaan ’n vrouestilis jou wil vertel van haar ooraktiewe skildklier. Die ander kant van die munt is dat daar eintlik ook net twee soorte klante is – geselsers en nors mense soos ek.

Vanoggend was daar ’n Olimpiese geselser in die salon se stoel agter my. Geen onderwerp was te nietig om te opper nie, geen detail te klein om weg te laat nie.

Dié klant het elke sin met die woord “nou” begin en só ’n soort virtuele teenwoordige tyd geskep wat dit laat klink het of alles sommer nou net hier buite aan’t gebeur is. “Nou is die skoon-ouers op pad en hulle bly mos altyd te lank . . . Nou is my swaer al weer werkloos . . . Nou ry jy teen die bult uit en daar bo is vier chalets . . . Nou sit dié ene al drie dae by die huis en wag.”

Vir die Olimpiese geselser agter my was geen onderwerp te nietig, geen de- tail te klein om weg te laat nie.

Die storie rol net voort, sonder interpretasie, sonder gevolgtrekkings. Geen begin, middel of einde nie, als net een groot buffet, alles uit die onmiddellike verlede. Dis asof die verteller deur mure kan loop om betyds van een toneel na die ander te beweeg.

Wanneer die haardroër aangeskakel word, word die vertelling bloot harder. “NOU KOM MENSE VAN VER AF!” En: “NOU HET DIE OPERASIE MOS NIE EINTLIK GEHELP NIE!”

Die aantal karakters groei aan tot ’n parade met 20, 30 meelopers. Die haarkapper kry net hier en daar kans vir ’n “ja” en “sjoe” en “dis maar hoe dit gaan”.

Daar is nie brieke nie. As die haarkapper nie nou vinnig werk nie, vrees jy, gaan hierdie verhaal die hede inhaal. Die storie gaan vorder tot hier buite op die parkeerterrein en die verteller gaan sê: “Nou stap ek by die haarsalon in en . . . O hel, hier sit ek dan nou!”

Dan is daar hopelik ’n bietjie stilte.

Meer oor:  Stories
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.