Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
My nagskofpad is besaai met vermiste mense
Esté Gross

Die pad tussen jou huis en werk is die landskap wat aan jou die bekendste is, met tonele en ’n see van gesigte wat soos ’n teesakkie in jou geheue intrek.

Dit is altyd dieselfde mense en motors, straatsmouse, voetgangers en bedelaars waarmee jy in ’n bepaalde uur skouers skuur.

En so is ek vandag weer op voor sonop en vertrek in die nou al bekende vroegdonker landskap, belig met dienstige straatlampe, om betyds te wees vir my skof.

Ek ry by die hek uit en sien die hawelose man wat in die inham van die leë, verwaarloosde herehuis se stoep lê en slaap. Jy sien hom nooit gedurende die dag nie, maar die nag het ’n manier om die anonieme mens wat ongesiens in die maalkolk van die dag verdwyn, se broosheid as enkeling bloot te lê.

Weggesteek, byna toegemessel, agter ’n linie bourommel en bakstene, lê die silhoeët in die selfgemaakte loopgraaf waarin hy teen die onvoorspelbare skuil.

Hy lê onder ’n moedelose, natgereënde stuk geel spons, ’n kombers en koerante.

Hy lê onder ’n moedelose, natgereënde stuk geel spons, ’n kombers en koerante. Gisteraand se reën is die rede vir die swartsak wat oor sy lyf span.

Ek versnel tussen wit strepe wat soos morsekode die nag ontsyfer, met die groeiende bolmaan wat loei verby die laning pers jakarandabome. Ek weet al waar om te swenk vir die slaggate.

In Empireweg vleg die karretjiemense oor die donker uitgestrekte pad deur die Melkweg voordat die wolke ooptrek en die nag se vryheid oopvlek.

Ek dink aan die man wat ek eenkeer gesien het, toe hy ’n matras uit ’n vullisblik gehaal, dit oor sy skouer gegooi en in die donker verdwyn het. Het hy dit deur daardie nag gemaak?

Dit is later vroegdag en die lug is blou toe ek ná werk huis se kant toe keer.

Ek ry verby ’n plankdun man wat met vuurhoutjievingers in die lang gras vroetel, op soek na sy besittings wat hy in die donker onder ’n graspol versteek het.

Dit voel asof die nag se droefheid soos ’n waterverfskildery in die dag oorgespoel het.

Dit voel asof die nag se droefheid soos ’n waterverfskildery in die dag oorgespoel het.

Op die hoek sit die vrou met haar bedelkind op die heup. Waarheen gaan die lewe dié meisietjie abba?

Ek kyk op na die glasgebou waarin die wolke weerkaatsend oor die aardlinge dans. Elkeen op sy eie pad wat hy self moet uittrap.

En ek dink aan Koos Doep:

“Ek bly opsoek na lank vermiste mense / wat om my is, maar onbereikbaar ver / wat langsaam uitgekring het oor my grense / nog lokkend, maar afsydig soos ’n ster.”

Miskien is daar meer as een manier om vermis te wees.

Soos wanneer jy elke dag onsigbaar in die son staan, jou sente tel vir jou voortbestaan in die hoop dat ’n beter lewe jou sal soek en, miskien eendag, ook sal vind.

  • Gross is ’n omroeper, nuusleser en joernalis.
Meer oor:  Esté Gross
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.