Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
My stem voel nêrens tuis nie
Heindrich Wyngaard Foto: Verskaf

Max du Preez het onlangs mense hul oë laat uitvee toe hy in ’n nuusbrief van Vrye Weekblad geskryf het hy gaan in die munisipale verkiesing (“met lood in my hart en sooibrand in my maag”) vir die DA stem.

Du Preez meen die DA sou die ideale party vir mense soos hy kon gewees het. Die ideale party is sosiaal-demokraties, het ’n visie “vir ’n effektiewe en voorspoedige maar deernisvolle staat” en ook “werkbare planne om die ongelykheidsgaping te vernou”. Dit is, einde ten laas, ’n party “waar alle klasse, rasse, taalgemeenskappe, geloofsgroepe en streke kan tuisvoel”.

Maar die DA wat Du Preez tans ervaar, “is egter ’n spul keffers, bitterbekke en aftakelaars by wie swart en bruin gematigdes ál minder tuis voel en dus ál witter word”.

Indien dié waarneming akkuraat is, waar laat dit iemand soos hierdie rubriekskrywer wat – ten spyte van my gereelde kritieke beskouing van die DA – om elke hoek en draai mense aanmoedig om op munisipale vlak vir die party te stem? Dit doen ek omdat ek dienslewering sién gebeur in my tuismunisipaliteit, Theewaterskloof, en in die Wes-Kaap waar die DA regeer – en dit dan vergelyk met die talle slaggate van swak dienslewering waarvoor ek daagliks in Johannesburg, waar ek werk, moet wegswenk.

Maar vanwaar dan die ongemak om sélf my kruisie vir die party te trek? Du Preez help om dit te verwoord wanneer hy skryf die DA-leierskorps “bestee meer tyd en energie daaraan om kwansuise ‘identiteitspolitiek’ (. . .) onder elke bed te soek (. . .) as om ’n nuwe droom van ’n beter samelewing te droom”.

Die behoefte wat by hierdie kieser op nasionale en provinsiale vlak bestaan, is aan ’n alternatief vir die ANC en die DA – en dit is in hemelsnaam nie die “ras-onbeskofte” EFF nie.

Die feit is dat ek my heel gemaklik en sonder apologie ’n Afrikaanssprekende bruin Suid-Afrikaner noem en my weinig steur aan die beterweteriges wat dit wil afmaak. Noodwendig is dit dan strydig met die DA se beleid van nierassigheid (hoewel die leier, John Steenhui­sen, nie geskroom het om in die staatsrede-debat na die “coloured farmer” Ivan Cloete te verwys nie) en die party se afkeer van “identiteitspolitiek”.

Dit is ook ’n persoonlike identiteitsverklaring wat bots met die ANC se binêre swart-wit-beskouing van die mense van ons land – behalwe natuurlik wanneer hulle die godskreiende onderskeid tref tussen “blacks in general” (wat bruin insluit) en “Africans in particular” (wat bruin uitsluit).

Wat oorbly, is ’n aantal splinterpartye, sommige met goeie beleidstandpunte, soos Icosa, wat tog spreek tot die hart van die verwaarloosde plattelandse gemeenskappe, maar nie in die afsienbare toekoms op nasionale vlak ’n impak sal maak nie.

Die behoefte wat by hierdie kieser op nasionale en provinsiale vlak bestaan, is aan ’n alternatief vir die ANC en die DA – en dit is in hemelsnaam nie die “ras-onbeskofte” EFF nie.

Trek jy jou vinger af op die lys van die vyf grootste partye in die Nasionale Vergadering, bly nog die IVP oor (wat weinig vir ’n bruin, Afrikaanssprekende Kaapse kieser bied); en dan is daar die VF Plus. Hier is dalk ’n party om te oorweeg – spesifiek oor die klem wat hulle plaas, die enigste party werklik, op minderheidsregte.

Die uitdaging vir dié party is om ewe besorgd te klink oor plaasaanvalle as oor misdaad in bruin gebiede; om die toepassing van regstellende aksie te help regruk eerder as om dit sonder meer af te skiet; en om sportkwotas nie net as anti-wit te beskou nie, maar ook as geleentheidskeppend vir dié van wie geleenthede in die verlede weerhou is.

Maar die vernaamste dalk is dat die VF Plus sy “blanke” openbare beeld ’n bietjie “bruiner” moet poets.

  • Wyngaard is ’n aanbieder van aktualiteitsprogramme op TV en radio.
Meer oor:  Heindrich Wyngaard  |  Politieke Partye  |  Stem  |  Verkiesing  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.