Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
My suster, die vroedvrou

Dit is nie reg dat een vrot appel nou klaarblyklik almal se indrukke oor private vroedvroue beïnvloed nie, skryf Marenet Jordaan.

Vroedvroue se werk was die afgelope tyd in die kollig. Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images

Iewers in Pretoria is daar ’n huis met ’n muur vol helder voetafdrukke van pasgebore babas. Die huis lyk dalk soos enige ander huis in die omgewing, maar dit is letterlik die geboorteplek van gesinne.

Dit is die plek waar vroue ma’s word. Boonop is die huis net ’n klipgooi weg van ’n private hospitaal wat spesialiseer in die versorging van vroue, asook ’n entjie weg van een van die grootste staatshospitale in die land met ’n toegewyde kraamafdeling.

Hierdie huis is ook die tuiste van ’n span vroedvroue wat weet wat dit beteken om lewe en dood in hul hande te hê. ’n Span vroue wat al in sommige gevalle die vierde kind van ’n vrou gehelp het om hul eerste lewenslig te aanskou.

Dit is by die huis dat my eie suster dae aaneen deurbring. Nee, dae én nagte aaneen. Waar sy swanger vroue se hande vashou en babas weeg. Waar sy baie vreugde ervaar, maar ook al lang trane gehuil het.

My suster: die vroedvrou.

Moet alle vroedvroue dan nou oor dieselfde kam geskeer word?

In die afgelope paar weke is daar wyd in die media berig oor Yolande Maritz, ’n private vroedvrou van Pretoria. Na bewering het sy die dood en gestremdheid van talle babas veroorsaak.

Netwerk24 het ook berig oor die hartseer verhale van Maritz se vermeende slagoffers.

Dit is goed en reg dat sulke beweerde wandade ontbloot word. Dit is immers die rol van die media: om diegene in posisies van mag verantwoordbaar te hou – en wie het meer mag as iemand wat ’n baba in die lewe help bring?

Moet alle vroedvroue dan nou oor dieselfde kam geskeer word? Moet selfs die private ondersoeker Mike Bolhuis ingryp – en so ver gaan as om glo te sê dat klagtes teen “enige vroedvrou” vir hom aangestuur moet word?

Dit is bitter onregverdig. Selfs aspirantjoernaliste leer op dag een dat daar meer as een kant aan ’n saak is. Objektiwiteit is ’n illusie, ja, maar nie die audi alteram partem-beginsel nie. Moet daar nie ook gekyk word, of selfs net gepraat word, met organisasies soos die Private Practicing Midwives’ Alliance (PPMA) of die Vereniging van Vroedvroue van Suid-Afrika nie?

Verhaal van ’n vroedvrou

Aangesien ek nie die nuusagenda kan bepaal of beïnvloed nie, skryf ek dus nou maar eerder ’n persoonlike storie in die hoop dat dit mense daarvan sal bewus maak dat nie alle vroedvroue oënskynlik daarop uit is om geld te maak ten koste van hul pasiënte se welsyn nie.

Hierdie rubriek gaan oor my eie suster wat al bykans tien jaar as private vroedvrou werk. Vantevore het sy in ’n staatshospitaal se kraamsaal gewerk. Sy het ’n meestersgraad in verpleegkunde, en is besig met ’n doktorsgraad wat spesifiek oor privaatvroedvroupraktyke handel.

My suster weet wat dit beteken om ’n baba te “vang”, want sy het al meer as 500 babas die wêreld help inbring. Daar is foto’s van haar saam met drie kinders uit een gesin – waarvan sy almal help “vang” het. Haar huis is vol spesiale geskenke wat gelukkige pasiënte vir haar aangedra het.

Sy kan al haar pasiënte onthou, en waarskynlik selfs die aard van hul geboorte-ervaring.

Watter ander mens sal in die middel van die nag opstaan en kilometers ver jaag om ’n swanger vrou tydens ’n tuisgeboorte te gaan bystaan? My suster is al amper gekaap op een só ’n middernagtelike tog.

Watter ander dokter sal maande ná die baba se geboorte steeds WhatsApp-boodskappe ontvang, en beantwoord, oor alles van borsvoeding tot min slaap.

Van vaste werkure is daar vir my suster nie sprake nie. Want daar is altyd ’n pasiënt wat amper aan die einde van haar swangerskap is. Sy is traag om vakansieplanne te maak, want sy kan nie haar pasiënte in die steek laat nie; sy stap die hele pad saam met hulle.

Sy gee om oor elkeen van daardie honderde babas. Om die waarheid te sê: sy kan al haar pasiënte onthou, en waarskynlik selfs die aard van hul geboorte-ervaring. Want, ja, soms is daar ’n keisersnit by een van die nabygeleë hospitale, eerder as ’n “normale” geboorte (wat ook nie die regte term is nie). In my suster se woorde: ’n mens is altyd eerder versigtig.

Een vrot appel . . .

Marenet Jordaan

My suster wéét wat sy doen en sy doen dit goed. Natuurlik sal ’n mens altyd iemand kry wat nie tevrede is nie. Dit is tog waar van enige beroep. Maar verreweg die meeste van die mense waarmee sy, en haar kollegas, te doen kry, verlaat daardie huis, of die hospitaal, met ’n bondeltjie vreugde en vrede in hul hart.

Daarom steek dit my dwars in die krop dat een vrot appel nou klaarblyklik almal se indrukke oor private vroedvroue gaan beïnvloed.

Dit is onregverdig teenoor elke private vroedvrou wat nagte om swoeg en sweet om vroue se geboorte-ervaring positief te maak. Vir elke vroedvrou wat aanhou lees en leer om seker te maak hulle is op hoogte van die jongste navorsing.

Boonop is dit ook onregverdig teenoor die duisende swanger vroue wat besluit om hul babas met behulp van vroedvroue in die wêreld te bring. Die aard van die mediaberiggewing oor Maritz maak dié keuse riskant in die oë van die wêreld en negeer die wonderlike ervarings wat soveel duisende vroue reeds aan die hand van privaatvroedvroupraktyke gehad het.

Ek gun my suster haar loopbaan as private vroedvrou. Sy is goed daarin en sy geniet dit.

Ek gun haar egter beslis nie die venynige opmerkings wat haar beroepswêreld op die oomblik toegesnou word nie – veral op sosiale media en in die kommentaarvelde op nuuswebtuistes.

Gelukkig weet ek sy sal, ondanks die toenemende druk uit alle oorde, steeds voortgaan om daarna te streef om van elke swanger vrou ’n gelukkige ma te help maak.

• Dr. Marenet Jordaan is ’n joernalistiekdosent aan die Universiteit Stellenbosch. Sy het vier susters, waarvan drie in die mediese omgewing werk.

• Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Mike Bolhuis  |  Yolande Maritz  |  Pretoria  |  Hospitale  |  Babas  |  Geboortes  |  Vroedvrou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.