Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mymering in ’n begraafplaas
Gielie Hoffmann

Hy is nog nie reg vir seisoen van die volgende graf grawe nie, skryf Gielie Hoffmann.

‘En waar gaan Oupa se graf wees?”

Dit is een van daardie grou Augustus-dae. Die winter klou verbete vas met ’n wind wat deur jou waai. Om my is die veld vaal en die lug stowwerig.

Ek weet oor ’n maand sal die prentjie al anders lyk, met witstinkhoute wat groen begin uitloop. En oor twee maande sal die eerste reëntjie hopelik al geval het en sal ek opnuut weer verlief wees op die reuk van nat stof wat die nuwe seisoen bring.

Maar hier waar ek nou op my grootwordplaas staan, is dit alles nog net verbeeldingsvlugte. Ek en my susterskind het gaan stap en hy wou graag na die familie-begraafplaas gaan. Teen die voet van die kliprantjie lê ’n paar rye grafte.

Oupa Giel en ouma Sarie

Ek vertel vir hom by die eerste ry van my ouma en oupa; dat ek my naam by hierdie oupa gekry het. Dat dit my pa se ouers is wat hier lê: Oupa Giel en ouma Sarie. Oupa is tydens die Eerste Wêreldoorlog op die plaas gebore en het in die Tweede Wêreldoorlog geveg. Hy was ’n Smuts-man.

Ouma het grootgeword in die Kalahari, ’n nooi Van der Merwe, en sy en Oupa het mekaar ’n paar jaar nie gesien weens daardie oorlog nie.

Op albei van hulle se begrafnisse was ek ’n kisdraer. Ouma is begrawe op so ’n grou Augustusoggend, met die plaas swartgebrand die vorige naweek; Oupa laat in die lente met die plaas groen en vol lewe.

My peetkind is tien en het nou ook al genoeg seisoene in sy lewe beleef om te verstaan van lewe en dood.

Op albei van hulle se begrafnisse was ek ’n kisdraer.

Ek vertel hom van my groot-grootouers wat ek nooit geken het nie. Die Hoffmanns het reeds hier gebly aan die einde van die 19de eeu; sy ’n nooi Pretorius en hy later ’n majoor in die weermag.

Die Van der Merwes het hul laaste jare op die plaas kom bly, by hul dogter en ver van die Kalahari en is toe ook hier begrawe.

In een ry grafte lê geluk én hartseer; lewens vol van die tye waarin dit geleef is.

Om oorvertelde stories oor te dra aan hom voel amper surrealisties; ek voel soos die brug tussen ’n wêreld wat eintlik nie meer bestaan nie en ’n wêreld wat ek nie heeltemal verstaan nie.

Van ’n wêreld wat vol onsekerheid was, maar nou baie seker lyk. En van ’n wêreld wat vol sekerhede is, maar tans baie onseker voorkom.

Terugkeer na eenvoud

Twee rye in die begraafplaas is kindergraffies; almal op dieselfde dag begrawe nadat hulle giftige bessies geëet het. Die graffies, klein en sonder name, roer my elke keer. Dit was kinders uit die omgewing en hierdie was die naaste begraafplaas.

Om ’n nuwe seisoen in te gaan is nie ’n gegewe vir almal nie.

Om sin te maak van die tye waarin ons leef, is nie maklik nie. Ek skryf meestal oor die hier en die nou; elke week bring meer as genoeg inhoud om uitmekaar te trek en te ondersoek.

Tog wonder ek hoeveel van dit wat ons nou soveel suurstof en lewe gee regtig die toets van die tyd sal deurstaan.

Tog wonder ek hoeveel van dit wat ons nou soveel suurstof en lewe gee regtig die toets van die tyd sal deurstaan. Hoeveel van dit wat nou mense histeries maak regtig van belang is. En of die antwoord nie maar altyd ’n terugkeer na eenvoud is nie.

In ’n era van yolo en fomo, van #’s en triggers, smag ek dalk net na ons tyd se waterstrome, slange en olienhoutbome.

Net voordat ons uitstap, roep Rudi my terug. Hy staan op die oop stuk gras waar die volgende graf seker gegrawe sal word. Die jakaranda se takke hang laag hier, sien ek, en die grond is te klipperig om met ’n graaf aan te pak.

In die verlede het my pa-hulle met die hulp van ’n Caterpillar die graf gegrawe. Wanneer dit weer tyd is, sal ek seker die leiding moet neem.

Ek is nog nie reg vir daardie seisoen nie.

Meer oor:  Gielie Hoffmann  |  Grafte  |  Dood  |  Seisoen  |  Begraafplaas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.