Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Kragveld wat die deur toe hou vir jonges
So word hulle ontneem van ’n ander soort geboortereg – die reg om ’n eie toekoms te bedink en te bou.

Julian Müller (Beeld, 5 Januarie) se ontleding van hoe nostalgiese verlange na ’n verbeelde “goeie ou verlede” mense se toekomsvisie aantas, vestig die aandag op ’n ongemaklike waarheid: Nostalgie, as ’n verheerliking van die verlede, is besig om ’n breedlopende negativisme oor Suid-Afrika te voed. Dit is veral ouer mense wat hulle daaraan skuldig maak.

En jongmense, soos ek dit by my werkplek beleef, is moeg daarvoor. Hulle is sat vir ouer mense se volgehoue skeptisisme oor alles wat hulle opgewonde maak en beskou as werkbare of onontginde geleenthede. En die nuk om dit dan af te maak as tipiese, jeugdige droombeelde sonder drakrag.

Die negativiste se taalarsenaal getuig daarvan: “In ons tyd was dinge darem . . .” ; “Dít sal nie slaag nie, ek waarborg jou dit”; “Niks goeds kan daaruit kom nie”; “Skryf dit op jou maag en vee dit met die hemp dood” enso(jansalie)voort.

Met genoeg mense wat so praat, word ’n vrugbare teelaarde vir epidemies van swartgalligheid geskep. Miskien skep dit ’n gevoel van solidariteit in ellende, maar oplaas is dit bloot net nóg ’n prikkel tot lamlendige motivering oor ongeveer alles.

Hê deernis met die jonges wat woon in die huis van negativiste. Want waar en hoe sal hul toekomsdrif vorm kry wanneer ouer mense, as die veronderstelde rolmodelle, in afwagting van die ergste lewe? En vermakerig te kenne gee: “Probeer gerus, maar verwag niks.”

Daarmee saam kom wesenlik slordige, koerslose emosies in die spel – woede, vrees, afsku, selfbejammering en verlekkering in eie slagofferskap. Dit voed en teer op mekaar en skep algaande ’n uitdyende kragveld van negativisme en daadloosheid.

Jongmense wat uit die aard van hul beperkte lewenservaring inherent onseker is, spartel om nie ingesuig te word in dié kragveld nie.

So word hulle ontneem van ’n ander soort geboortereg – die reg om ’n eie toekoms te bedink en te bou. Volgehoue negativisme is die meganisme wat hulle daarvan kan ontneem.

Soos dit angswekkend vertel word in ’n verhaal deur Franz Kafka: ’n Man staan voor die deur van die “Reg”. Dit is ’n deur wat juis vir hóm oopstaan na die toekoms. Jaar ná jaar sit die man by die oop deur en wag hoopvol dat die deurwagter hom toestemming sal gee om in te gaan. Hy het naderhand, van al die sittende ywer en fyn dophou, elke vlooi in die deurwagter se baard leer ken. Toestemming het egter nooit gekom nie.

Oud en naby sy dood vra die man op ’n dag: “Hoekom het niemand behalwe ek al die jare gewag op toestemming om by dié deur in te gaan nie?”

Waarop die deurwagter antwoord: “Die deur is oop. Niemand behalwe jý kan daar ingaan nie. Die deur was vir jóú bedoel. Ek gaan die deur nou sluit . . .”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.