Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Afskeidsbrief aan ’n ou, ou vriend

Beste Ou Brak

Ek ken jou al so lank en dis die eerste keer dat ek met jou praat.

Antoinette Louw

Soos in rêrig, êrig praat. Vierkantig in die oë.

Ek wonder of jy my in die oë kan terugkyk. Of sal jy jou kop wegdraai?

Is jy bereid om my te sien? My werklik te sien. Die mens binne die vlees en bloed. Met emosies. En drome. En ja, vrese – maar laasgenoemde ken jy mos alte goed.

Ek voel ek moet met jou praat, want ek kan nie meer aangaan nie. Of laat ek dit eerder anders stel (want met ons donker geskiedenis sal jy my dalk net verkeerd opneem).

Ek wil nie meer met hierdie verhouding met jou aangaan nie. En ek gaan nie om verskoning vra nie. Of doekies omdraai nie. Daarvoor stap ons al te ’n lang pad saam.

Meer as 25 jaar.

Meer as 25 jaar lank byt jy aan my hakskene. En dis al rou gebyt en gehap.

Ek kan dit nie meer toelaat nie. Verstaan jy?

Nee, ek dink nie jy verstaan nie.

Jy verstaan nie dat ek amper nie meer kan loop nie. Want dis net te seer. Die pyn is oorweldigend.

Al wat ek kan doen is lê. En lê en lê. En lê . . . Lê.

“You often feel tired,” skryf Alexander den Heijer, “not because you’ve done too much, but because you’ve done too little of what sparks a light in you.”

Ek lees hierdie aanhaling en ek ween. Want ek is bewus – so ontsettend bewus van elke boek wat ek nie lees nie, want ek het nie die krag nie. Van vriende wat ek nie sien of bel nie, want ek is te moeg.

Van vriende wat ek as gevolg daarvan verloor, want ek doen nie moeite nie. (En wie, sê ek vir myself, wil in elk geval uithang saam met ’n ou donker wolk?)

Van al die stories wat ek deur die jare wou skryf en nie het nie en verlore gegaan het, want ek twyfel in myself.

Van toneelstukke en kunsuitstallings en flieks wat ek so bitter graag wil sien – maar om te stort, aan te trek en verder as die voordeur te gaan is net te veel vir my.

Ek sien hoe my lewe verbygaan. Maar ek haal nog asem. En dit tel tog vir iets.

Ek sit voor die rekenaar en skryf vir jou hierdie brief. Dit tel tog vir iets?

Want ek het mense wat vir my lief is. En dit tel vir iets. My ma en pa. My skoonma. My geliefde en ons hondjie, Lilly.

Hulle grom terug vir jou, hulle wys tande – al kan ek dit nie self doen nie. Hulle gaan haal pleisters en plak dit op my brose hakke.

Ja, dit tel baie. So ontsettend baie.

So, Ou Brak. Ek sien jou. Sien nou vir my en los my uit.

Ek het genoeg gehad. Ek neem my lig terug.

Liefde-groete,

Antoinette

Meer oor:  Antoinette Louw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.