Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'n Bank is deur die bank aan sy eie kant
Johan van Wyk

Om te sê ’n bank is soos ’n mooiweersvriend wat jou ’n sambreel leen as dit droog is, maar dit terugvat as dit begin reën, is dalk ’n bietjie onbillik, hoewel dit nie heeltemal onwaar is nie.

Laat ons nou maar eerlik wees: Was dit nie vir die handelsbanke nie, sou byvoorbeeld min kommersiële boere in Suid-Afrika steeds op hul plase gewees het om die land en sy mense van kos te kan voorsien. Gee dus maar die duiwel wat hom toekom.

Nie dat die banke nie daarby baat vind nie. Of dat dit net boere is wat deurloop nie. Die banke vat hul pond vleis van almal, en dit geskied nie bloedloos nie. Wel in magtelose afhanklikheid.

Soos die platsak lieplapper wat met sy vuis op die kroegtoonbank geslaan en geëis het: “Gee my ’n dubbelbrandewyn of . . . !” Toe die gespierde kroegman nader staan en vra “Of wat . . .?”, het hy gepiep “Of ’n bietjie water, asseblief”.

Standard Bank se besluit om met die oog op “aanlyn bankdienste” 91 van sy 621 takke in Suid-Afrika te sluit het my dus laat wonder wie ’n bank die belangrikste ag: Sy kliënte of sy aandeelhouers se winste. Jy hoef nie ’n vuurpylwetenskaplike te wees om die antwoord hierop te verskaf nie. Moet ek nou my tjekboek in die see gooi en my spaargeldjies onder die matras bêre, of in ’n gat in die grond?

Jy kan oorkom soos die deurtrekkerseuns van die bedlêende boer wat by hulle pa, voor hy dalk die emmer skop, wou weet waar hy sy goue Krugerponde begrawe het. Hy wys met twee vingers afwaarts. Hulle begin grou onder die katel, maar kry niks. Toe hy wonder by wonder herstel en hulle wou weet hoekom hy hulle mislei het, het hy gesmaal: “Ek was te swak om met twee vingers boontoe te wys!”

Daar is skynheilige clichés soos “Ons is deur die bank aan jou kant”, terwyl almal weet dat ’n bank aan sy eie kant is.

Hopelik was dit vir hulle ’n les, soos dit vir die banke ’n les behoort te wees dat kliënte en diens en nie die aandeelhouers se winste nie, eerste kom. Het hulle vergeet van die ou slagspreuk, “The customer is always right”?

Terwyl by slagspreuke, wat gaan die volgende een wees in die nadraai van oppervlakkige, niksseggende, skynheilige clichés soos “Ons is deur die bank aan jou kant”, terwyl almal weet dat ’n bank aan sy eie kant is.

Dink die mense wat hierdie onsinnige nonsens teen groot koste fabriseer, en ons in herhalende advertensies daarmee teister, ons is onder ’n kalkoen uitgebroei?

Die enigste slagspreuk in die geskiedenis van die bankwese in Suid-Afrika wat sin gemaak het, was oorlede Volkskas s’n onderkant die afbeelding van ’n nederige eenskaarvoorploegie: “Arbeidsaamheid”. Dis weggesmyt, en kyk hoe lyk ons nou!

My wyse, saliger ou vader het my laat beloof om nooit die Nasionale Party, die NG Kerk en Standard Bank te verlaat nie.

Ek probeer regtig baie hard, maar hulle vreemde kirpatse maak dit ál moeiliker om by die laasgenoemde, oorlewende twee te bly.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Ekonomie  |  Hulp  |  Bank  |  Finansies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.