Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Bloedneus vir al die swaarkry
Retha Fick

Die afgelope vier maande was ’n wilde wipwarit.

Ons was skaars gewoond aan maskers dra, verrimpelde hande en vreemde konsepte soos druppelbesmetting en komorbiditeite, of #BlackLivesMatter tref ons. Skielik wroeg ons oor velkleur, terwyl ons eintlik nog besig was om uit te pluis wat die verskil tussen isolasie en kwarantyn is.

Ons wyn raak op en ons vriende koop vreemde sigarette by vreemde mense in vreemde motors by die parkie. Ons hoor hoe wetstoepassers deel is van die verskaffingsketting en leer om ’n wit leuentjie te gebruik om oor ’n provin­siale grens te kom.

Oornag het die wêreld afgewentel tot inperkingsregulasies, onrusbarende siektesyfers en die inploffing van ekonomieë.

Ons skud ons kop in ongeloof oor ons regering se soms onbegryplike besluite en lomp hantering van die krisis.

Die mense is kwaad. En honger.

Die nuwe normaal is ver verwyderd van die bekende en die beminde. Mense word siek en sterf – meestal alleen. Hospitale word vol en ons harte loop oor van bekommernis. Nog ’n allerverskriklike hoewe-aanval steel drie mense se lewe, en daarmee saam enige optimisme wat ons dalk nog oorgehad het.

Misdaadstatistieke wys wat ons reeds weet – dinge word erger, nie beter nie.

Nog ’n vuishou tref ons verlede week: Berigte oor korrupsie in die regerende party – met tenders vir toerusting wat veronderstel was om lewens te red. Miljoene rande wat na bewering eenvoudig gesteel is.

Die nuwe normaal is ver verwyderd van die bekende en die beminde. Mense word siek en sterf – meestal alleen.

Die nuus behoort ons nie te verbaas nie, skryf ’n kollega op ’n aanlyn nuuswebwerf. Korrupsie is deel van die ANC se DNS. Asof dit ons beter moet laat voel . . .

In sy weeklikse nuusbrief klink die president kwaad en belowe (weer) dat mense aan die pen sal ry. Weer kan ons maar net kop skud. Het enigiemand al ’n kader in ’n oranje oorpak gesien?

Angstigheid is nou ons metgesel. Hoeveel slegte nuus kan ons nog verwerk?

Ons wens die wipwarit wil eindig, die treintjie tot stilstand kom. Ons sal selfs die agterna-naarheid uitstaan – as die rondrukkery net wil ophou.

Pleks daarvan om bekommerd te wees oor dit waaroor jy geen beheer het nie, verskuif jou energie na wat jy kan skep.

Twee sesjarige seuntjies in Londen bied dalk vir ons belangrike perspektief. Die BBC berig Sondag oor Ayaan en Mikaeel wat onlangs sowat R835 000 met hul limonade-stalletjie op die sypaadjie voor Ayaan se huis ingesamel het. Waarvoor?

Vir die kinders in Jemen.

Dié twee beste maatjies het gehoor van die 12,3 miljoen kinders in Jemen wat weens die voortslepende konflik en nou ook die pandemie dikwels nie kos het om te eet nie.

“Hulle het rêrig baie, baie, baie maer arms. Jy kan die bene sien,” vertel Ayaan in ’n video-opname.

“Dit het my baie hartseer gemaak. Ek het besef ons is gelukkig om geld te hê. Mense kan ’n groot verskil maak.”

Mikaeel: “As ons nie die mense van Jemen help nie, gaan hulle vir altyd honger wees. Party kan siek word en doodgaan.”

Adeela, Ayaan se ma, vertel: “Die inperking was baie moeilik hier in Brittanje, maar ons het gesien daar is ’n groot humanitêre krisis in Jemen, met meer as 24 miljoen mense wat krepeer. Ons wou alles doen wat ons kon om te help – al is dit min.”

Roy T. Bennett het geskryf: “Pleks daarvan om bekommerd te wees oor dit waaroor jy geen beheer het nie, verskuif jou energie na wat jy kan skep.”

Noem dit oorwin die kwaad deur die goeie. Noem dit ’n uitklophou vir die boosheid in ons wêreld. Noem dit lig maak in die duisternis.

Maar doen dit ook vir jou eie kophou, jou eie emosionele behoud.

  • Fick is nasionale inhoudsredakteur van Media24 se Afrikaanse dagblaaie.
Meer oor:  Koronavirus  |  Swaarkry  |  Maskers  |  Armoede  |  Honger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.