Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Boom wat val sal nooit dieselfde wees
Aniki
Aniki Joseph

Die oomblik toe die swaar hekke oopskuif, speel die beeld soos ’n langsame toneel in ’n fliek voor my oë af. My motor se enjin stol. Ek behoort dit aan te sluit, maar bly sit verstar.

Die eens majestueuse boom kraak vir ’n oomblik. Tuimel dan magteloos aarde toe. Terwyl daar nog splinters in die lug opskiet, beweeg die manne met die sae weer nader. Hulle saag doelgerig. Tyd is geld. Daar wag elders nóg werk vandag.

Daar waar ’n paar uur gelede ’n volgroeide boom glorieryk teen die blou lug gepryk het, staan nou net ’n stom stomp. Gestroop van alle aardse glorie en funksie.

Laatmiddag klop die huiseienaar van die grond waarop die boom gestaan het, aan die voordeur. “Ek is regtig jammer,” sê sy. “Die boom se stam het ’n kraak ontwikkel. Ek het geen ander keuse gehad as om dit te laat afsaag nie.”

Ek glimlag flou. Stel haar gerus, maar in my binneste is ’n stem wat uitroep: “Dit was nie nét ’n boom nie. Dit was ’n hele ekosisteem!”

My siel eggo Joyce Kilmer: “I think that I shall never see / A poem as lovely as a tree.”

Ek is hartstogtelik lief vir bome. Dalk omdat ek weet hoe dit kleintyd gevoel het om in ’n boom te klim en hoe die bas van ’n boomstam voel wanneer jy dit omarm. Hoe om piekniek te hou onder ’n boom. Om die aandwind deur bome se blare te sien speel. Om voëls te sien dartel in lugvertonings in die blou lug bokant ’n boom waar hulle later nessies sal bou.

Nog ’n paar seisoene later pryk daar nege nuwe voëlnessies aan die boom se jong takke.

Die weke en maande vlieg verby, maar ek verkies om nie na die stomp te kyk nie, totdat ek op ’n dag weer deur die hekke ry en kyk om te sien. Dit is dan dat ek nuwe groen stingels sien wat reikhalsend na bo uitloop. Nog ’n paar seisoene later pryk daar nege nuwe voëlnessies aan die boom se jong takke.

Soms moet mens oplet na die tekens wat die heelal vir ons stuur. Dinge soos drome, sagte vere, onverwagse skoelappers, gladde rivierklippies en nuwe lote.

Ek leer dat mense soms gedwing word om pynlike besluite te neem sodat herstel en groei weer kan plaasvind.

Die boom lyk nie dieselfde as voorheen nie. Dit gaan waarskynlik nóóit weer presies lyk soos dit voorheen gelyk het nie, maar die oomblik dat dit daardie eerste groen lote uitgestoot het, het die pad na herstel begin.

Ons is almal maar net rentmeesters van soveel dinge. Van geld, van gesondheid, van verhoudings, van alles wat ons daagliks geniet. Ook van dit wat die natuur vir ons bied.

Ek is steeds vas oortuig daarvan dat elke keer wanneer ’n boom val, selfs al sou mens dit nie aanskou nie, dit ’n geluid maak wat mense nie hoor nie. “Only after the last tree has been cut down, then you will find that money cannot be eaten.” – Cree-Indiaanse spreekwoord.

Meer oor:  Boom  |  Bome  |  Natuur  |  Herinneringe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.