Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Bykans onmoontlike balans

‘Pandemic is not a word to use lightly or carelessly. It is a word that, if misused, can cause unreasonable fear, or unjustified acceptance that the fight is over, leading to unnecessary suffering and death.

Aan die woord is dr. Tedros­ Adhanom Ghebre­yesus, direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO).

’n Internasionale oortuigingsgroep, met pres. Donald Trump van Amerika aan die spits, het die narratief bevorder dat die viruspandemie een groot oordrywing deur wetenskaplikes is. Ook dat streng in­perkings heeltemal onno­dig is. In lande waar inper­kings wel toegepas is, hetsy te laat of betyds, het die ongeriefsindeks onder Jan en alleman tot ’n hewige teenreaksie gelei. Ook hier ter plaatse het vele wat pres. Cyril Ramaphosa se vinnige, streng inperkingsbesluit ondersteun het, hulle by die lawaai aangesluit.

Teenstrydighede met regulasies, lomp flaters deur ministers wat nie twee woorde kan praat sonder om te mompel nie, Bheki Cele se tirade teen gewone mense en ’n wanopgeleide weermag het hul saak gesterk. Die ontevredenheid was ’n onweerstaanbare brander om te ry en enige vorm van inperking het toe summier die teiken geword.

Dit het begin blyk dat ’n pandemie hom nie deur wetenskaplikes, ekonome, uitbrekers, regeringshoofde van groot moondhede of slim opposisiepolitici laat definieer nie.

Wat natuurlik waar is, is dat regerings wêreldwyd uitgevang is dat hul gesondheidsdienste en navorsingslaboratoriums in swak wedstrydvorm is weens voortdurende begrotingsnitte. En in Suid-Afrika veral deur gewoon onbevoegde bestuur en staatskaping.

Wat het verander?

Dit het begin blyk dat ’n pandemie hom nie deur wetenskaplikes, ekonome, uitbrekers, regeringshoofde van groot moondhede of slim opposisiepolitici laat definieer nie. Voorspellings, projeksies en gunsteling-“ander lande wat dit beter doen”, is gou deurmekaargekrap.

Die hoop dat die meeste mense tog nie verteenwoordig word deur die skisofreniese sosiale media nie, het nie beskaam nie.

En die een peiling ná die ander het gewys dat ’n stewige meerderheid die nut van inperkings en die gevaar van die virus insien.

Van die rasieleiers se dreigemente dat hier ’n reuse-opstand teen die inperking sou plaasvind – onder meer om ekonomiese redes – het niks gekom nie.

Nou blyk dit ook dat lande wat met ’n behoorlike inperking weggespring het, steeds beter af is as dié wat laat of sonder enige inperking was, al is dit hoogs relatief. En verskillende toetsingspatrone maak vergelykings uiters onbetrou­baar.

Tog, met beskikbare syfers voor die naweek, bevind Ramaphosa se regering hom met ’n sterftekoers van minder as 2% van diegene wat luidens amptelike verslae die virus opgedoen het.

Daarteenoor is die internasionale me­diaan van 4,8%, die Britte en Italië se 14%, Amerika se 4,8% en Swede se 7,7%.

Mettertyd het die regering wel besef hy moet – ook onder druk van sommige hofsake wat verloor is – van die regulasies aanpas. Sommige ministers is merkbaar stiller gemaak en die kommunikasiestrategie aangepas.

Gelukkig lyk dit of Ramaphosa kophou te midde van die uitbreekhisterie, kritiek uit alle oorde, politieke samesweringsteorieë en soms min hulp van selfs ANC-politici.

Net soos in vele lande word gestoei met die ongewone en onvoorsiene omstandighede en word dieselfde foute ook meermale gemaak.

Op ’n skaal van redelikheid lyk dit tog of Rama­phosa steeds heelwat beter as vele van sy internasionale ampsgenote vaar.

Die bykans onmoontlike balans, tussen die walgooi teen die pandemie en die noodsaaklike geleidelike oopsluit van die ekonomie, bly ’n uitdaging.

Gelukkig lyk dit of Ramaphosa kophou te midde van die uitbreekhisterie, kritiek uit alle oorde, politieke samesweringsteorieë en soms min hulp van selfs ANC-politici. En die ontsluiting uit inperking nugter en konserwatief hanteer.

Ons is sleg af, maar die te vinnige uitbreekmodelle is die heel slegste af.

Dit gee hom ook die staanplek om die druk van provinsies te weerstaan, om soos elders na strenger vlakke terug te keer. Só help hy juis ook paniek voorkom, wat plek-plek in provinsiale regerings dreig.

Die wrange erflating van die uitbreekfanatici is ongelukkig – ook in Afrikaanse voorstede – die versterking van die waan dat die virus nie so gevaarlik is nie. En daar word lustig gekuier. Dit is wrange vrugte wat gepluk gaan word.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Barnard Beukman  |  Skep 'N President  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.