Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Middelgrond
’n Derde termyn vir JZ in die lug
Henrey Jeffreys

Die nuus dat pres. Jacob Zuma glo sy naam in die hoed wil gooi in die stryd om die leierskap van die ANC in Desember, behoort nie te verras nie. Dis tipies Zuma.

Vir hom heilig die doel altyd die middel. Zuma is desperaat. Hy is nie seker wat in Desember of daarna met hom gaan gebeur nie.

Dit is nie ’n uitgemaakte saak dat sy voorkeurkandidaat, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, suksesvol sal wees teen die ander kandidate nie. Hulle almal is elk in eie reg gedugte kandidate wat Dlamini-Zuma se planne kan ontspoor.

Van al die kandidate vertrou Zuma net vir Dlamini-Zuma om hom te beskerm teen die einste aanklagte van korrupsie wat verlede week in die appèlhof ter sprake was en nou baie riskant lyk vir Zuma. Hy het gevolglik sy voorneme om homself beskikbaar te stel vir ’n ongekende derde termyn as ANC-leier bekend gemaak. Dit is moontlik dat hy nie die aweregse verloop van die saak in die appèlhof voorsien het nie.

Niks verhoed Zuma natuurlik om tot die stryd toe te tree nie.

Sy verklaarde voorneme om hom verkiesbaar te stel, is dié van ’n desperate man. Die gesegde lui mos dat desperate tye desperate stappe verg.
Zuma besef maar alte goed dat hy deur gewone ANC-lede op takvlak verkies sal word. Dit is waar sy gewildheid nog sterk is. Dit is dus ’n fout om sy moontlike kandidatuur te ignoreer.

’n Mens wonder wat Dlamini-Zuma daarvan dink. Van al die kandidate het sy die meeste om te verloor sou Zuma hom tot die wedloop voeg. ’n Zuma-kandidatuur sal ook probleme vir die ANC skep wat gehoop het op ’n skoon en probleemvrye wedloop. Zuma se toetrede sal die party op vele fronte nogmaals verdeel.

Niks verhoed Zuma natuurlik om tot die stryd toe te tree nie. Die ANC se grondwet sê niks van termynbeperkings vir die party se leier nie, anders as die land se Grondwet oor die staatshoof. Die ANC het gehoop om die kandidate te oortuig om ’n verenigde kandidatuur op die konferensie voor te sit. Dit is nou ’n verskiete droom.

Zuma se toegewing in die appèlhof het die NVG, wat hom tot dusver getrou bygestaan het, hoog en droog gelaat.

Tog is Zuma kwesbaar. Die toegewing deur sy swaargewig-regspan in die appèlhof dat die besluit van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) om die aanklagte teen hom te laat vaar irra­sioneel was, is ’n gevoelige slag wat in die hande van sy opponente speel.

Sou die NVG, soos wat verwag word, deur die appèlhof aangesê word om sy besluit te herroep en die aanklagte teen Zuma weer in te stel, sal dit nie noodwendig die einde van sy geveg wees nie.

Hy kan hom eenvoudig net weer tot die howe rig en die nuwe aanklagte betwis, insluitend ’n moontlike uitgerekte appèlproses. Hoe dit sy kanse op ’n derde termyn as ANC-leier sou beïnvloed, is onseker. Maar onthou, ons het hier te doen met dié grootste kenner van die kuns van politieke oorlewing.

Zuma se toegewing in die appèlhof het die NVG, wat hom tot dusver getrou bygestaan het, hoog en droog gelaat.

Dit is veral vir adv. Shaun Abrahams, hoof van die NVG, ’n terugslag. Hy is ’n stoere Zuma-ondersteuner. Onthou, hy sal geen ander keuse hê as om die aanklagte weer in te stel nie sou die appèlhof besluit om die aanvanklike besluit tersyde te stel. Dit is onwaarskynlik dat ’n appèl teen so ’n beslissing sal slaag.

Abrahams sal ook in gedagte hou dat Zuma ’n flou makou is wat nie veel vir hom sal beteken nie sodra hy uit die Uniegebou is. Abrahams moet nou probeer uitwerk wie van die ander kandidate hom ter wille sal wees, óf as ANC-leier óf as president van die land. Dit is ’n baie taai tameletjie, maar die soort loon wat jy kry as jy bewustelik jou vlag aan die mas van die verkeerde politikus vasspyker.

Meer oor:  Pres. Jacob ­Zuma  |  Anc  |  Rubriek  |  Politiek  |  Henry Jeffreys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.