Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Doenlys vir burgemeester Msimanga

Sonder die EFF se steun sal die DA nie belangrike besluite in Tshwane deurgevoer kan kry nie, skryf Sarel van der Walt. 

Sarel van der Walt

’n Week gelede het Julius Malema, die EFF-leier, op ’n mediakonferensie van die EFF in Braamfontein, Johannesburg, gesê Herman Mashaba, die nuwe Johannesburgse DA-burgemeester, kan ’n les by sy Tshwane-ampsgenoot, Solly Msimanga, leer.

Mashaba, het Malema gesê, behoort minder media-onderhoude toe te staan. Hy moet eerder soos Msimanga sy moue oprol en begin werk.

In die sowat een maand wat Msimanga en die DA die Tshwane-metroraad in Pretoria regeer, het Msimanga al heelparty regmerkies by die inwoners gekry.

In dié tyd het hy verskeie aankondigings gedoen en stappe geneem wat meestal positief deur die inwoners ontvang is.

Nou wag die Pretorianers op daadwerklike stappe om sake wat hulle grensloos irriteer en hulle regstreeks raak, reg te ruk.

Die lys is lank, maar sluit in die Tshwane-oproepsentrum waar die inwoners klagtes moet aanmeld, die swak bestuur van die stad se munisipale rekeninge, die lisensie-afdelings, besoedeling, rommelstrooiery en korrupsie.

Baie Pretorianers sal ook van die stad se busdiens begin gebruik maak as dit betroubaar is en die busbestuurders nie so baie staak nie.

Die Tshwane-oproepsentrum moet doeltreffender en gebruikersvriendelik word.

Die telefone moet as ’n eerste stap beantwoord word, en die publiek moet deurentyd, byvoorbeeld deur SMS’e, op hoogte gehou word oor wat aan hul klagtes gedoen word.

Dit geld ook die administrasie van die inwoners se munisipale rekeninge.

Sommige maande ontvang jy jou water-en-ligte-rekening, en dan skielik vir maande nie.

Baie kry ook nie eens meer rekeninge per e-pos nie en jy raai maar wat jou rekening behoort te wees.

Voorts is baie mense se dag al ontsier deur besoeke aan die lisensie-afdeling. Gebruikersvriendelikheid was nog nooit hier die wagwoord nie. Baie sal sê bevoegdheid ook nie.

Duidelike aanwysingsborde oor wat jy waar moet doen en wat die proses is om te volg, sal al klaar ’n stap in die regte rigting wees.

Hoewel Malema dié slag vir Msimanga ’n klop op die skouer gegee het, is die EFF die party wat die DA in die Tshwane-metroraad kan maak of breek.

Streng finansiële bestuur en beter beplanning sal die stad ook miljoene rande bespaar wat elders aangewend kan word tot voordeel van die Jakarandastad en sy inwoners.

Die DA het onder meer in die aanloop tot die verkiesing op 3 Augustus gesê die stad se tenderproses sal onder sy bewind meer deursigtig wees om korrupsie te voorkom.

Verlede week het Msimanga strafregtelike klagte by die polisie ingedien teen drie gewese lede van die ANC-administrasie, asook teen drie munisipale entiteite.

Dit is gedoen op grond van twee forensiese verslae. Volgens Msimanga kan nóg korrupsieklagte later teen ander mense aanhangig gemaak word.

Enkele ure nadat hy as uitvoerende burgemeester aangewys is, het Msimanga aangekondig dat die dae van bloulig-begeleiding deur die strate van die hoofstad iets van die verlede is.

Net die president sal in die toekoms dié voorreg geniet.

Dié aankondiging het byval by Pretorianers gevind, want dit was ’n irritasie vir baie van hulle om alewig pad te gee vir politici in motors met getinte vensters.

Ongelukkig is dit buite die jurisdiksie van metrorade om ’n beperking te plaas op die grootte van die presidensiële kavalkade wat byna daagliks baie mense se bloeddruk op die Ben Schoeman-hoofweg tussen Pretoria en Johannesburg laat opskiet.

Vra vir enigiemand wat daagliks tussen Johannesburg en Pretoria reis hoeveel keer hulle al vir dié sirkus met blou ligte moes padgee.

So ’n magsvertoon hoort eerder tuis by die president van ’n piesangrepubliek.

Die groot groep metropolisielede wat hom begelei, kan beter aangewend word in diens van die Pretoriase publiek, wat hul salarisse betaal.

Msimanga se aankondiging dat die metroraad nie meer duur motors vir politici en senior amptenare sal aankoop nie, is ook goed ontvang.

Toyotas en Hyundai’s is mos goed genoeg.

Ook sy besluit om lede van die DA se koalisie-vennote (die ACDP en die VF Plus) in sy burgemeesterskomitee op te neem en ook in ander komitees, was vir baie mense ’n positiewe stap.

Deesdae is al hoe meer Tshwane-metropolisielede op straat te sien.

Dit het darem al die laaste paar maande onder ANC-bewind begin gebeur, en sal hopelik help met misdaadbekamping.

Maandag kondig Msimanga boonop stappe aan hoe die metropolisie sal toesien dat waterbeperkingsmaatreëls toegepas word.

As dit nie gedoen word nie, sal Pretoria en omstreke weens die knellende droogte binnekort sonder water wees.

Hoewel Malema dié slag vir Msimanga ’n klop op die skouer gegee het, is die EFF die party wat die DA in die Tshwane-metroraad kan maak of breek.

Sonder die EFF se steun sal die DA nie belangrike besluite deurgevoer kan kry nie tensy die ANC hom steun.

Die EFF sal daarom baie druk op die DA uitoefen om meer vir die armes te doen in ruil vir sy voortgesette steun.

* Sarel van der Walt is ’n politieke joernalis van Netwerk24 in Pretoria.

Meer oor:  Tshwane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.