Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Eendag wat nooit vir haar aangebreek het
Esté Gross

Ek lees nou die dag ’n berig van ’n vrou wat op ’n tamaai onvoltooide kwilt afgekom het.

Die vonds was in Chicago in die huis van Rita Smith, wat onlangs op 99-jarige ouderdom oorlede is.

Elke gedeelte van die projek is in fyn besonderhede uitgelê en geskets en netjies in ’n plastiekhouer gebêre. Alles vir ’n eendag wat nooit vir haar aangebreek het nie.

Die handwerk-entoesias wat die ontdekking gemaak het, Shannon Downey, was emosioneel oor die handwerk.

Sy sê: “Dit het persoonlik en intiem gevoel om te sien hoe sy dit gelos het. Die oomblik toe ek die stukkies lap sien, het ek net geweet dat ek dit moet voltooi, maar dit is groter as enige iets wat ek al vantevore aangepak het.”

Iemand anders sou waarskynlik nie twee keer daaraan gedink het om die houer gevul met lappies weg te gooi nie, maar vir Shannon was dit die vergestalting van ’n onvoltooide droom, iets waarmee sy haar kon vereenselwig.

Vir Shannon was dit die vergestalting van ’n onvoltooide droom, iets waarmee sy haar kon vereenselwig.

En sy het gou agtergekom sy is nie die enigste een nie.

Sy het hulp gevra op sosiale media en het binne ’n dag duisend vlytige vrywilligers gekry wat wou hand bysit. Volgens die berig “A Thousand Needle Workers Volunteer to Finish Dead Woman’s Quilt” (bbc.com, 24.10), deur Rozina Sini, het nie een van die mense Rita eens geken nie.

Waarom sou soveel vreemdelinge aanklank vind by die projek? Dalk besit ons almal iewers ’n ongeborduurde droom wat wag om geleef te word. Baie van die planne word weggebêre vir die mitiese eendag wat jou altyd een voor bly.

As jy iemand help stik aan ’n droom kry jy miskien ook ’n mate van klaarheid oor die onvoltooide doolhofdrome wat soms woed in jou eie binneste.

As jy iemand help stik aan ’n droom kry jy miskien ook ’n mate van klaarheid oor die onvoltooide doolhofdrome wat soms woed in jou eie binneste.

Die passie en deursettingsvermoë waarmee Rita geleef het, het mense ook aangegryp. Sy was glo ’n skoolsuster wat haar lewe gewy het aan ander en het volgens haar seun gereeld groot projekte aangepak wat haar jare geneem het om te voltooi.

Daar is ook iets te sê oor om vrede te maak met sommige van jou eie planne wat nooit vergestalting gekry het nie.

Net dalk is alles nie jou taak om te voltooi nie. ’n Kruispad, afdraai, cul-de-sac en selfs ’n doodloopstraat is nie noodwendig ’n mislukking nie, maar was dalk nog altyd deel van die roete op pad na jou bestemming.

Hoe anders sal die wêreld nie lyk as ons mekaar se drome help stik en nie pal uitmekaar trek nie.

Rita se onvoltooide kwilt is na my mening haar grootste meesterstuk.

Ná voltooiing gaan dit uitgestal word in ’n plaaslike ateljee as ’n bewys van wat ’n gemeenskap saam kan vermag.

Met haar onvoltooide werk het sy, deur dit vir ander te los, ’n duisend dromers aanmekaar gestik.

Meer oor:  Esté Gross  |  Drome
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.