Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Eeu ná die Spaanse Griep is korona hier
Annelie Botes

Met verstarring hoor ek van die korona-virus. Die simptome klink middelmatig, sodat ’n mens jou min hoef te steur: loopneus, hoofpyn, hoes, keelseer, koors, lyfpyne, ’n gevoel van ongesteldheid.

’n Eeu gelede het die wêreld byna tot stilstand geknars met die Groot Griep van 1918, ook bekend as die Spaanse Griep.

In ’n wêreld wat desjare veel dunner gesaai was met mense as vandag, is ’n geskatte 50 miljoen mense dood. Drie maal meer as in die Eerste Wêreldoorlog. Dit word beskou as die grootste uitwissingsramp nog.

Daar is baie bespiegelings en teorieë oor waar die Groot Griep ontstaan het. ’n Hospitaalkamp in Frankryk, waar dit van varke en hoenders oorgedra is na die mens?

Een kenner van die Groot Griep, Claude Hannoun van die Pasteur-instituut, is oortuig daarvan dit het in China ontstaan waar die bevolking dig is, en mens en dier teenaan mekaar leef.

Die eerste gevalle is in Januarie 1918 aangemeld, tydens die laaste maande van die Eerste Wêreldoorlog. Teen Desember 1920 het dit uitgewoed. ’n Feit waarmee almal saamstem, is dat die teelaarde vir die pandemie wanvoeding, swak higiëne en ’n samedromming van mense was. Normaalweg val virusse die jongstes en oudstes aan. Met die Groot Griep was dit opmerklik jong volwassenes, waaronder ’n magdom soldate.

Net in Oktober 1918 het 140 000 gesterf, met meer as 6 000 in die destydse Pietersburg.

Suid-Afrika is nie uitgespaar nie. Skynbaar het dit gekom van drie skepe wat in September 1918 in Kaapstad en Durban vasgemeer het. Net in Oktober 1918 het 140 000 gesterf, met meer as 6 000 in die destydse Pietersburg.

Op afgeleë plase het die Groot Griep gesinne getref, en dikwels is albei ouers dood. Dit was voor die jare van maklike kommunikasie, en die siek, verwese kinders het hulpeloos rondgedwaal totdat die ghong vir húlle geslaan het.

Wêreldwyd was gesondheidswerkers en ver­pleërs self te siek om sterwendes te verpleeg. Grafgrawers was so verswak dat slagoffers in massagrafte sonder doodskiste begrawe is. ’n Mens kan jou beswaarlik die ellende en smart voorstel.

Maar in lande waar kwarantyn ingestel en die kans op oordraging laer was, het die Groot Griep aansienlik minder lewens gegryp.

Op 11 November 1918 het die Verdrag van Versailles die Eerste Wêreldoorlog tot ’n einde gebring. Soms wonder ek of die pandemie nie ’n Opperhand se manier was om te sê genoeg is genoeg nie, stop hierdie oorlogmakery.

In 1997 het voëlgriep by markte met lewende hoenders in Hongkong uitgebreek. Sedert 2014 het die Ebola-virus, verbind met vlermuise en ape, mense in Afrika afgemaai. Nou is korona hier. Dit word in dié stadium verbind met onder meer slange en het glo uitgebreek by ’n vismark in China.

Het dit nie dalk tyd geword vir die slim wêreldredders om met ouma wolf se groot oë te kyk na resepte om die aarde se higiëne te verbeter en oorbevolking te bekamp nie? Sodat daar meer voedsame kos is vir minder mense.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Virus  |  Groot Griep.Coronna
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.