Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Erfenis-gelykenis

’n Groot groep mense het daardie jaar saam met Jesus op die grasperk voor die Uniegebou saamgetrek, skryf Cas Wepener.

Foto: Gallo

Op ’n dag in September 2020 het Jesus verby Madiba se standbeeld in die Uniegebou se tuine gestap en op die trappies tussen die kannas gaan sit.

’n Groot menigte wat hom van oor die land heen tot daar gevolg het, het op die grasperk groepies gevorm. Jesus het aan die skare gesê hulle kan omstandighede nou reeds verbeter omdat hulle mekaar het.

Die mense het sy woorde nodig gehad, want hulle was baie broos vanweë die ontberings van die inperking. Nadat hy klaar gepraat het, het Jesus opgestaan en na die mense gegaan. Hy het met sagte oë na elke­ mens gekyk, daarna sy hand op hul skouers gesit en geduldig na elkeen se verhaal geluister – daar was 5 000 mense. Almal het toe ook na mekaar begin luister en was dit eens dat hulle daarna beter gevoel het.

Daar was wel een klein groepie wat gesê het Jesus kan hulle maar oorslaan, hulle is oukei.

Doodhonger

Toe die son anderkant Vryheidspark en die Voortrekkermonument begin sak, het Jesus se vriende aan hom gesê hy moet die mense nou wegstuur. Die klomp kan nou mos maar op ander plekke in Pretoria vir hulle gaan kos soek, want om die Uniegebou sal daar nie genoeg vir 5 000 wees nie.

Die meeste mense was nou doodhonger, maar hulle wou nie uitmekaar gaan nie. Die enigste uitsondering was daardie een groepie wat gesê het hulle is nog nie lus om te eet nie, maar is nuuskierig oor wat verder gaan gebeur. Hulle het een van Jesus se vriende nader gewink, gevra wat sy naam is (dit was Johannes), hom gekomplimenteer op sy mooi Afrikaans en geld gegee om vir hulle espresso’s by ’n Italiaanse restaurant te gaan haal.

Terwyl Johannes weggedraf het, het Jesus sy ander vriende aangesê om die 5 000 mense iets te gee om te eet. Sy vriende het vir hom gefrons, want hulle het gedink hy maak ’n grap.

’n Seuntjie wat dit gehoor­ het, het na hulle­ geloop, sy kosblik oopgemaak en gesê almal wat daarvan wil hê, kan kry. Die 5 000 mense het die kind fyn dopgehou.

In die blou kosblikkie was twee klein bruin Lucky Star Pilchards-viskoekies en ’n toebroodjie met grondboontjiebotter wat in vyf blokkies gesny was. Toe die mense sien hoe die kind sy kos deel, het almal hul eie kosblikke (wat hulle gehoop het niemand sal raaksien nie) uit hul hand- en rugsakke gehaal en dit ook gedeel.

Bodemlose verskonings

Toe Jesus se vriende die espresso-drinkers van die kind se kos aanbied, het hulle hande om hul koffiebekers geklem gebly. Die eerste persoon het effens teruggedeins­ en wou weet of die brood graan- en suikervry is. Die tweede het geaarsel, geproes en toe gesê hy is allergies vir neute. Die een langs hom het, terwyl hy afkyk, gesê hy vermoed dat hy dalk onlangs ’n jodium-allergie ontwikkel het. Net soos die kind se vis en brood in die blou kosblikkie, het hul verskonings ook nie opgeraak nie.

Jesus was net mooi van plan om die mense te vra om in een groot sirkel te gaan sit sodat die ete kan begin, toe die gemeentes wat kerk hou in die parkeerterrein vlak by die Uniegebou daar aangekom het. Op hul skouers het hulle stapels tafels en stoele van plastiek gedra. Hulle het sommer dadelik begin om een lang(plastiek)tafel te pak en die 5 000 mense het met gemak aangesit.

Jesus het toe weer gepraat en gesê die kos en wyn is lekker, maar die eintlike erfenis van die land is dat die mense mekaar het.

Jesus het die outjie wat eerste sy kos met almal gedeel het, genooi om aan die hoof van die langtafel te sit. Dit was beurtkrag, maar gelukkig was daar ’n paar meisies met gelaaide selfone – die flitsliggies in hul selfone was pragtig tussen al die kos op die tafel. Nadat al 5 000 aangesit het, was daar nog plek. Net die espresso-drinkers wou nie kom sit nie, hulle het gesê die gras is lekker sag, hulle bly sommer waar hulle is.

Jesus het op die ander ent van die langtafel gaan sit en gesê­ hy kan nie aan ’n lekkerder manier dink om Erfenismaand so in die kente in ons hoofstad te vier nie. Die seuntjie beduie toe ook met ’n vingertjie aan Jesus dat die eerste jakarandas begin bot. Jesus het geglimlag en gesê ja, só kom die somer, selfs ná ’n staat van inperking, saggies, maar hy kom.

‘Umngqusho’ en bokswyn

Xolile van Bizana het vir Jesus ’n skep umngqusho aangegee en geskaterlag toe Jesus probeer om umngqusho uit te spreek.

Oom Koos, wat al die pad van die Paarl af gekom het, het die kraantjie van ’n boks rooiwyn oopgemaak en al 5 000 kon ’n polistireenglasie lig. Sajila van Durban het van agter haar boerka gesê hy moet haar roti proe en die mense het gegiggel toe Jesus se wange bloedrooi uitgeslaan het. Dit was terwyl Petra van Ventersdorp skywe van ’n geelvet beesbiltong met haar knipmes afgesny en vir die mense om haar aangegee het.

Jesus het toe weer gepraat en gesê die kos en wyn is lekker, maar die eintlike erfenis van die land is dat die mense mekaar het.

Toe het hy opgestaan, die eenkantgroepie nader gewink, gesê dit sal baie lekker wees as hulle ook by die langtafel aansluit, want daar was oorgenoeg plek vir hulle. Boonop is dié kos en wyn verniet, geen geld kan dit koop nie.

Hulle het hul koppe geskud en onderlangs gemompel dat dit niks minder as ’n wonderwerk gaan vat om hulle by die langtafel te kry nie.

  • Prof. Wepener is hoogleraar in praktiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Cas Wepener  |  Teologie  |  Erfenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.