Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Gebed vir 'n onbekende ma
Aniki
Aniki Joseph

Enkele ure vantevore het ons nog onder die sierlike sirkelboodskappe van seemeeue teen die grysblou lug gestaan.

Vierdubbele rye spore in die klam sand op die strand getrap. Geterg, gelag en mekaar se name uitbundig in die wind gestrooi.

Vroeër die dag het ek vir ons studente ’n Sondagmaaltyd gekook in hul gerieflike woonstel aan die voet van die berg. Huiskos. Ons groet swaar.

“Mooi bly, mansmense. Onthou, julle name is altyd in ons gebede.”

“Nogmaals dankie vir alles, Pa! En Mams . . . Ma is ons spesiale vroumens.”

Die vlug van Kaapstad na Johannesburg veroorsaak dat ons laataand op die snelweg na Pretoria reis, maar vir die ekstra ure met ons kinders is dit ’n klein opoffering.

Ek is dankbaar.

Dan sien ek hom onder die floublou straatlig. ’n Donker stukkie medemens.

Dan sien ek hom onder die floublou straatlig. ’n Donker stukkie medemens. Opgekrul in ’n fetale posisie bo-oor ’n vuil stuk geskeurde karton vol spelfoute. Stoksielalleen in die ongenadige gange van die mensdom.

Iemand se kind. Sonder ’n toekoms. Ek wil nog ’n opmerking maak, maar die verkeerslig is reeds groen, dit is laat en die nuwe week wink. Die musiek speel sag in die motor. In die truspieël sien ek die klein stukkie oop-en-blootheid wat ons al te dikwels miskyk met alledaagse oë en ek dink oor hierdie mens.

Het hy eens die troos van ’n warm bad geken? Die bekendheid van ’n eie bed? Het hy ’n identiteitsdokument of dalk net ’n opgefrommelde foto in die sakke aan sy lyf? Is daar iemand iewers wat nog saans sy naam voor God prewel? Droom hy soms en as hy droom, waaroor droom hy? Sy ouers, ’n ouma en ’n oupa, of droom hy van huiskos en iemand wat hom op ’n spesiale troetelnaam aanspreek? Wie is die ma wat hom eens in haar arms gehou het en in wie se oë hy die eerste lewenslig gesien het? Of het hy so gewoond geraak aan sy wonde dat hy niks meer voel nie?

Die mens se oudste behoefte is om saak te maak vir iemand.

’n Bekende musikant het met verwysing na sy rebelse jare gesê: “As jy niks het nie, voel jy ook niks.” Sou dit waar wees?

Die mens se oudste behoefte is om saak te maak vir iemand. Om iemand te hê wat vir jou wag wanneer jy op pad is of iemand te hê wat die pad saam met jou loop.

Net voordat ons aan die slaap raak, sê ek vir manlief: “Amazing Grace” is steeds vir my die mooiste lied ooit…

Hy vra niks, sê niks. Trek my net stywer teen hom vas. Wanneer mense lank getroud is, kom die diep verstaan met min woorde. Ek dink aan die woorde van wyle Lucas Maree in een van die laaste onderhoude wat hy toegestaan het: “Niks is vir niemand ’n gegewe nie. Als wat jou kant toe kom, is ’n gawe.”

Dan klim ek weer uit die bed uit, kniel en bid vir ’n ma wat ek nooit ontmoet het nie se kind, wie se naam ek nie ken nie. Joseph is ’n rubriekskrywer en reisiger van Pretoria.

Meer oor:  Aniki Joseph  |  Gebed  |  Ma  |  Medelye  |  Omgee  |  Menswees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.