Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Gebedjie van ’n Vrystaatse laaitie word ryp
Charles Smith

Ek was baie, baie ongelukkig toe die Vrystaat die Curriebeker-eindstryd in 1975 in die laaste oomblikke teen Noord-Transvaal verloor het. Ek het Jesus só mooi gevra met my reine seuntjiehart dat hy ons ’seblief moet laat wen.

Ek sou nie meer die werfhoenders rondjaag nie. Maar Jesus het mos geweet dit was eintlik die honde wat so stout was. Dit was daardie windhond, Mauritzfontein Blitz. Hy was so lief om die hoenders te skraap. Ek het ook gesweer in daardie Vrydagaand-gebedjie dat ek nie meer skelm kalwers sou ry met ’n spantou as my ouers slaap nie.

Ek het ook plegtig belowe ek sou nie daardie lang, warm Sondagmiddag alleen in die gronddam gaan swem nie. Ek sou net langs die dam sit en met die kettie skiet. “Nee, ek skiet nie voëltjies nie, Jesus. Ek skiet sommer klippe in die water . . .!”

Maar daardie Saterdag het ek woedend op my bed geduik. “Pierre Spies. Hoe kon Jy hom toelaat om te onder-skep, Jesus? Hy is dan só maer. Was dit nie dalk ’n vorentoe- aangee nie . . .? Net dalk . . .”

Vir lank het ver-loor soos wafels en koffie gesmaak wat my ma halftyd op Mispa bedien het. Almal was in ’n goeie bui. Dalk, net dalk is dit Vrystaat se beurt. Toe kom Pierre Spies.

Ek het ’n jaar later, toe Wouter Hugo se span die Curriebeker wen, iets begin verstaan van godsdiens en van wen en verloor. Ek sou nog baie aan die verloorkant wees, maar besef ’n mens verdien niks nie. Alles is net genade, soos die Bybel sê. Ja, ja al is jy ’n Vrystater wat altyd deur die skeidsregters ingeloop word. Genade en harde werk. En talent ook seker, ja.

Ek het Saterdagaand in die Vrystaatstadion weer so wafel-en-koffie-sooibrand begin kry.

Ek het Saterdagaand in die Vrystaatstadion weer so wafel-en-koffie-sooibrand begin kry. Niks wou regloop vir die Wit Tornado nie. Van die verwoestingswerk waarmee Ox & kie die WP so afgeslag het, was nie veel te sien nie. Maar hoe lig was ons geloof nie . . .

Die Vrystaat-Cheetahs was soos ’n trop leeus wat teruggehang het . . . Dit was asof hulle teen ’n driekwartpas gespeel het. En skielik is die teken gegee om aan te val. Om alle krane oop te trek. Doer in die noordelike kwartgebied waar Kennedy Tshimba se voortande uitgeskiet het, het William Small-Smith se drie begin. Clayton Blommetjies het deur gapings begin dans en Ox Nché en Joseph Dweba het begin maai onder die Natallers.

Franco Smith en die bestuur verdien alle eer vir die besluit om Ruan Pienaar en Blommetjies vir die Curriebeker nader te trek. Blommetjies het seker die beste heelagterspel in dekades in die stadion gelewer. En steeds weet hy nie of hy Saterdagaand ’n werk het nie . . .

Ek weet 44 jaar later ’n tikseltjie meer van geloof. Dit sluit vertroue in. Dié span bied alles. Ons moet net vertrou. En hul meesterlike spel geniet. Hulle verdien ’n vol stadion wat bankvas agter hulle Vrystaaaaat! skreeu.

Meer oor:  Charles Smith  |  Sport  |  Curriebeker  |  Rugby  |  Koffie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.