Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Goeie skeutjie gesonde verstand kan ons almal baie help

Menige mens se grens tussen gesonde verstand en stommiteit herinner sterk aan ons land se grense – onbewaak en oop.

’n “Waaghals” druk tydens ’n vertoning ’n swaard in sy keel af, tot net die handgreep by sy mond uitsteek. Hy trek die swaard uit, neem ’n omstander se sambreel, maak dit toe en druk dit stadig in sy keel af. Toe hy dit wil uittrek, steek die metaalpunte vas. Hy sterf.

Die sotlikhede wat mense aanvang, is voorwaar verbysterend. Watter beter plek sal en sou die wêreld nie gewees het nie as die mens hom (en haar) deur gesonde verstand en nie deur dwaasheid nie, laat lei!

Die sieklike oorlogsugtigheid van terreurgroepe en sommige lande se leiers dompel mens en dier in die diepste putte van ellende, maar daardie idiotiese mentaliteit duur voort. Van dié aggressors cum dwase se arsenale bult met vernietigende oorlogsmasjinerie, terwyl die swak toestand van die einste lande se gesondheidsdienste, padnetwerke, krag- en watervoorsiening, voedselproduksie en onderrigstelsels ten hemele skree.

Die sotlikhede wat mense aanvang, is voorwaar verbysterend.

En ons hier ter plaatse? Wat doen elkeen van ons om ons dorp, stad, omgewing, provinsie, land en uiteindelik ook die wêreld, te verbeter? Neem ons inisiatief ter oplossing van probleemsituasies of kritiseer, ignoreer en kla ons eerder net? Watter verkwikking hou ’n benepe boksiementaliteit in?

Van ons reik na groot dinge en dit is prysenswaardig, maar wat ook van die nou en die hier om ons wat aandag en optrede vereis?

Waarom net aanvaar dat “iemand” wel die waterpyp wat al vir dae lek, onder die munisipaliteit se aandag gebring het? Waarom nie self seker maak dat dit wel aangemeld is nie? En die stopteken wat weke gelede platgery is, maar steeds op die sypaadjie lê? Blameer ons “hulle” wat dit nie kom herstel nie, al het ons “hulle” nie van die situasie verwittig nie?

Wat is ons reaksie as ’n baal veevoer wat van ’n vragmotor geval­ het, in die pad lê? Is dit “sjoe, daai ding kan ’n ongeluk veroorsaak!” terwyl ons voortry, of hou ons stil en sleep dit uit die pad? Waarom gaan ons steeds op sperstrepe by voertuie verby en bring nie ons voertuie tot stilstand by ’n stopteken nie? So asof daar “opsioneel” onder “stop” staan?

Ons hoor vir die soveelste keer hoe ’n hond bitterlik van pyn en vrees tjank terwyl hy mishandel word, maar ons wil nie “betrokke raak” of “inmeng" nie. Ons druk ons ore toe en kry die hond intens jammer, maar verroer nie ’n vinger om ondersoek in te stel, die wreedheid te keer en die mishandeling aan te meld nie!

Kom ons inspireer mekaar tot positiewe betrokkenheid en deelname. Ons dorp, stad, omgewing, provinsie, land en die wêreld smag na optrede geskoei op gesonde verstand.

“Die Wysheid roep hardop daarbuite . . .” Hoor ons dit nie?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.