Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Groot taak lê vir Cyril voor

Dit was Maandag presies ’n jaar gelede wat pres. Cyril Ramaphosa dr. Nkosazana Dlamini-Zuma verslaan het in ’n naelskraapse oorwinning in die ANC se leierskapstryd.

Dit was die begin van die einde van Jacob Zuma se bewind. Zuma het tot aan die einde ’n Ramaphosa-oorwinning probeer keer. Sy pogings was egter net-net tevergeefs en die land het ’n kollektiewe sug van verligting geslaak.

Die dun marge van Ramaphosa se oorwinning was egter ’n probleem. Dit was nie ’n groot genoeg mandaat vir hom om hom heeltemal in die regerende party te laat geld nie. Daar was te veel Zuma-gesindes in die ronde om die wêreld vir hom moeilik te maak. Hy het nietemin voortgeploeg en tog daarin geslaag om die land met hoop te vervul.

Suid-Afrikaners was opgewonde oor die positiewe, nuwe politieke narratief.

Die Zondo-kommisie van ondersoek na staatskaping is aangestel en het begin om getuienis aan te hoor oor hoe Zuma en sy meelopers die staat van skaars hulpbronne gestroop en staatsondernemings gruwelik wanbestuur het.

Van die getuienis was verdoemend en skok die land steeds.

Dit was sonder twyfel ’n groot knou vir Zuma en die staatskapers in die regering wat soveel skade aangerig het. En nou wag 2019 en ’n algemene verkiesing. Ramaphosa sal die verkiesing eenvoudig oortuigend moet wen. Nie net vir sy posisie in die ANC nie, maar ook in die land.

Meningspeilings dui daarop dat die ANC se posisie nie so kwesbaar is as wat aanvanklik vermoed is nie. Inteendeel, dit lyk baie goed.

Met sy onsekere mandaat het Rama­phosa versigtig getrap. Hy het byvoorbeeld nie enige radikale veranderinge aan sy kabinet (eintlik Zuma se kabinet) gewaag nie.

Dit hang af van wat in Mei gaan gebeur en is in die hande van die kiesers. Ek dink Ramaphosa het genoeg gedoen om ’n behoorlike kans te kry om sy staal te wys. Die vraag is of dieselfde van sy party gesê kan word.

Sy onlangse wysigings was kosmeties met Zuma-ondersteuners soos die onbeholpe Bathabile Dlamini, minister vir vroue, en die nuwe omgewingsminister, Nomvula Mokonyane, steeds daar.

Ná Dlamini se erge wanbestuur van die maatskaplike toelae-stelsel moes sy al lankal in die pad gesteek gewees het.

Maar sy is ook president van die ANC-vroueliga, wat haar sterk politieke beskerming bied. Met sy eie, oortuigende mandaat van die kiesers sal Rama­phosa beter bemagtig voel om teen hulle op te tree. Hul tyd behoort dus net ná die verkiesing verstreke te wees.

Verkiesingsjare is moeilike tye vir beleidsbesluite. Daar sal dus wat beleid betref, in die eerste vyf maande van die nuwe jaar nie veel gebeur nie.

Die uitdagings bly legio. Ons ekonomie is in ’n diep groef. Die groeikoers het in die vorige kwartaal ’n opwaartse neiging getoon en ons uit ’n tegniese resessie gelig. Min kenners verwag dat die onverwagte kwartaallikse groei van 2,7% volhoubaar is. Ekonome en die belangrike graderingsagentskappe verwag steeds dat die groeikoers op ’n jaargrondslag onder 1% sal wees.

Tog bly Ramaphosa positief en verwag dat ’n ommeswaai om die draai is. Hy kan nie anders nie. Hy kan allermins bekostig om deel van die negatiewe gees te word. Hy moet alles doen om die land se staatsondernemings te stabiliseer en om te keer.

Die vooruitsigte vir Eskom, die grootste bedreiging, begin al hoe beter lyk. Ook die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se toekoms lyk rooskleuriger noudat sy omstrede vorige hoof en stoere Zuma-man Tom Moyane uit die pad is. Die belangrikste is egter dat Rama­phosa ’n kabinet saamstel wat opgewasse is om die land op die herstelpad te sit.

Dit hang af van wat in Mei gaan gebeur en is in die hande van die kiesers. Ek dink Ramaphosa het genoeg gedoen om ’n behoorlike kans te kry om sy staal te wys. Die vraag is of dieselfde van sy party gesê kan word.

  • Jeffreys is ’n vryskutjoernalis.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.