Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Groot Wit Atoombom bedreig Yanks

Ek is nie ’n ou wat dobbel nie. Maar ek voorspel ’n nuusgebeurtenis wat baie Trompetters (Donald Trump-fanatici) nie wíl weet nie.

Die kans word ál groter dat Trump die eerste Amerikaanse president in moderne tye gaan word wat in ’n staat van beskuldiging (impeachment) geplaas word. Die kans raak skraler dat hy sy termyn gaan oorleef.

Van die groot fanfare en hoera’s waarmee die sogenaamde Groot Wit Hoop vir wit konserwatiewes oor die wêreld – ook in Suid-Afrika – sy bewind begin het, met beloftes van ’n muur tussen Amerika en Mexiko, om Isis “weg te blaas” en Hillary Clinton tronk toe te stuur, is min oor.

Verskeie ingrypende ondersoeke staar Trump in die gesig slegs maande nadat hy as die 45ste president en magtigste man in die wêreld (naas Wladimir Poetin, natuurlik) ingehuldig is.

Ironies genoeg is die ernstigste aantyging teen hom dat hy geklassifiseerde sekuriteitsinligting aan die Russe uitgelek het, terwyl hy wou hê Clinton moes opgesluit word omdat sy geklassifiseerde inligting sou rondstrooi deur as minister van buitelandse sake ’n private e-posbediener te gebruik.

Die Wit Huis én Amerika is onder beleg, ja. Deur ’n narsistiese bullebak.

Hy het James Comey pas summier as FBI-hoof afgedank omdat hy “sy werk vrot gedoen het” (lees: nie Clinton vervolg het nie), maar nou wil dit lyk dit is omdat hy Comey sou beveel het om die ondersoek teen Michael Flynn, Trump se gewese veiligheidsraadgewer, te staak. Comey is besig om die Russe se rol in die inmenging met die presidentsverkiesing te ondersoek en Flynn is juis afgedank oor sy noue kontak met die Russe.

En wat gebeur toe? Trump blaker inligting oor ’n Isis-aanval op ’n Russiese vliegtuig uit aan die Russiese minister van buitelandse sake wat die Withuis besoek het. Dit klink redelik, maar dit is geheime inligting wat van Israel bekom is, terwyl die Russe hand om die blaas is met Iran, Israel se groot vyand. Israel is ook die Yanks en konserwatiewes se groot bondgenoot.

Jason Chaffetz, Republikeinse voorsitter van die kongres se oorsigkomitee, is gereed om ’n dagvaarding uit te reik vir alle notas, kommunikasie en opnames tussen Trump en Comey. In kort: As Trump wél ingemeng het in ’n ondersoek wat Amerika se demokrasie en onafhanklikheid bedreig, is hier groot pêrre.

Trump is buite beheer: Hy is soos ’n beer met ’n seer tand in die Withuis wat almal verskreeu, hire en fire en doen wat hy wil. Drie weke gelede was hy op die punt om oorlog teen Noord-Korea én ’n Derde Wêreldoorlog te begin. Nou veg hy vir sy oorlewing.

Die Withuis én Amerika is onder beleg, ja. Deur ’n narsistiese bullebak. Die Groot Wit Hoop het ’n Groot Wit Atoombom geword wat in sy eie land se gesig kan ontplof. En Poetin lag en tokkel dié week vals “Moscow Windows” op die klavier. Dit was só maklik. Na zdorovie!

Meer oor:  Donal Trump  |  Rubriek  |  Mening  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.