Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Haas uit die hoed is nodig

Die woelinge in die DA het die kollig van die probleme in die ANC gesteel. Maar net vir ’n oomblik.

Die media is meegesleur deur al die dramas wat in die grootste opposisieparty afspeel. Dit sal wel nie lank wees voordat die aandag weer terugkeer na wat werklik saak maak in die Suid-Afrikaanse politiek nie, en dit is die ANC en die wel en wee van pres. Cyril Ramaphosa se pogings om die land uit sy verknorsing te red.

Tito Mboweni, minister van finansies, lewer vandag die mediumtermynbegrotingsrede, ’n gebeurtenis wat die aandag weer op die ANC en Ramaphosa sal terugplaas. Die groot vraag is wat Mboweni gaan sê oor Eskom, wat die land en ekonomie geruk het met ’n onverwagse herinstelling van beurtkrag, iets wat die ekonomie geweldig knou. Dit nieteenstaande die toewys van miljarde rande van die fiskus om die sukkelende kragverskaffer te ondersteun.

Die DA se voortbestaan is baie belangrik vir die voortbestaan van ons demokrasie. Ongelukkig het die ANC, die party van bevryding, oor die jare heen ’n versmorende effek op die demokrasie gehad, in so ’n mate dat die party al gesien word as ’n bedreiging vir die einste demokrasie wat hy so baie gedoen het om te help bewerkstellig.

Dit is onwaarskynlik dat Mboweni vandag goeie nuus vir Suid-Afrikaners gaan hê. En die land soek antwoorde, veral oor Eskom.

Dit is onwaarskynlik dat Mboweni vandag goeie nuus vir Suid-Afrikaners gaan hê. En die land soek antwoorde, veral oor Eskom. Wanneer sal die nuwe permanente hoof aangestel word en wat van die maatskappy se ontbondeling waarna die president in sy staatsrede verwys het?

Suid-Afrika kan nie suksesvol wees indien Eskom nie suksesvol is nie. Juis daarom is wat Mboweni vandag oor die kragverskaffer gaan sê so belangrik. En dit wat hy gaan sê moet opgevolg word met sigbare optrede om doeltreffendheid te herstel.

Daar is wel ook aansienlik politieke werk om te doen, alvorens Eskom weer kan funksioneer. Die meeste van die uitdagings lê tussen die regering en die vakbonde, wat gekant is teen die hervormings wat nodig is vir die herstelproses om op dreef te kom. Soos byvoorbeeld die ontbondeling van Eskom in drie onafhanklike eenhede wat as aparte maatskappye sal funksioneer. Vakbonde het daaroor ’n streep in die sand getrek. Dit sal al Ramaphosa se onderhandelings- en oorredingsvermoë verg om hulle tot ander insigte te bring.

Daar sal fyn na Mboweni se toespraak geluister word.

Daar sal fyn na Mboweni se toespraak geluister word, nie net in die parlement nie, maar ook in die finan­siële hoofstede van die wêreld, soos New York, Londen en Hongkong.

Veral die internasionale graderingsagentskappe sal aandag skenk. Hulle wag nou al lank op die regering se planne om die ekonomie reg te ruk. Mboweni sal ’n oortuigende haas uit die hoed moet trek om hulle te oorreed.

Vir al die graderingsagentskappe skaats Suid-Afrika op dun ys. Hulle sal natuurlik menings hê oor die standvastigheid van die opposisie en wat met die DA gaan gebeur. Maar wat goed is vir die demokrasie, is nie noodwendig goed vir die ekonomie nie. Hul eintlike bekommernis is die ANC-regering en sy planne met die ekonomie.

Sing Mboweni vandag enige vals note­, sal die land ’n prys daarvoor betaal. Die soort prys wat ons oor die afgrond kan stuur en waarvan ons moeilik, indien ooit, sal kan herstel.

Suid-Afrikaners wat omgee vir die demokrasie, sal hoop dat die DA gou herstel van sy selfopgelegde probleme. Dit kan net goed wees vir die stand van die demokrasie. Die DA sal wel die meeste kiesers moet oortuig dat hy die beste party is om te regeer en die ekonomie te red.

Wat nou in die party gebeur, het waarskynlik daardie dag buite die bereik van die opposisie geplaas.

  • Jeffreys is ’n politieke kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Tito Mboweni  |  Ekonomie  |  Da  |  Anc  |  Toespraak  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.