Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Herinnering aan die krag wat hoop gee

Moedeloosheid en die gevoel dat jy wil handdoek ingooi, is iets wat enige mens kan bekruip. Dit is waarskynlik een van die redes waarom nuusberigte verlede week oor ’n vrou wat ná 27 jaar uit ’n koma wakker geword het, my so gefassineer het.

Sommige mag skepties oor die storie wees, maar dit is duidelik dat sy vir jare versorg en gevoed is omdat daar mense was wat nooit moed opgegee het nie.

’n Mens dink onwillekeurig aan Madiba se 27 jaar in die tronk en sy deursettingsvermoë. Of aan Augustinus se moeder, Monica, wat 17 jaar vir hom gebid het voor sy bekering. Watter geestelike leier sou hy nie word nie?

Izak de Villiers het my herinner aan madame Curie se verwerking van tonne afvalmateriaal in haar soeke na radium, asook Goodyear se navorsing oor die vulkanisering van rubber. Almal behalwe sy vrou het vir hom gelag.

Daar is ’n uitdrukking wat sê dat hoop daardie fyn stemmetjie is wat, wanneer die wêreld vir jou sê dat alles verby is, vir jou fluister om net nog een keer te probeer.

Hoop het ’n lang asem. Hoop is geduldig. Hoop raak nie angstig nie en het ’n goeie perspektief op die geskiedenis.

Hoop het ’n lang asem. Hoop is geduldig. Hoop raak nie angstig nie en het ’n goeie perspektief op die geskiedenis. Dit is ’n bron van energie en voed ons geloof. Hoop laat kinders beter leer, red gebroke verhoudings en laat ons anders optree. Hoop laat jou met energie opstaan en help jou om moontlikhede raak te sien as ander net donkerte ervaar.

Ware hoop is ook realisties. Dit kyk die werklikheid in die oë, kyk na die feite, maar werk dan geduldig en berekend deur die feite. Vir gelowiges beteken dit dat die wêreld om ons nie geringgeskat word nie, maar dat ons nie daarvoor terugdeins nie. Ons kan dit soos ’n Nehemia berekenend ondersoek. Gelowiges bring egter ook die werklikheid in berekening dat God deel van ons toekoms sál wees.

Daarom kon Paulus uitroep: “Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo en so die vader van baie nasies geword.”

Verlede week was ek bevoorreg om saam met kerkleiers van 15 verskillende kerke, onder leiding van ’n konsultasiemaatskappy, berekenend na die gebrokenheid en armoede van landelike gemeenskappe rondom myne in die Noord-Kaap te kyk. Deeglike ontledings van die aard, oorsprong en omvang van die armoede is gedoen. In ’n stadium moes almal soos klein kindertjies met vetkryt prente begin teken van hoe hulle ’n ideale toekoms vir die streek sien. Die glimlagte wat hierdie hoopvolle drome op hul gesigte gebring het, het my skielik anders na ons land laat kyk.

Onthou, dit is gemeenskapsleiers wat daagliks mense met hooplose honger moet bedien Mag die hoop, as gawe van God, ons in die dae opnuut kom verras.

Dr. Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis.

Meer oor:  Braam Hanekom  |  Hoop  |  Herinneringe  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.