Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Huishulp se kompas vir SA
Johann Maarman

Om die lelike plooie van misdaad in ons samelewing uit te stryk, trek mense vandag swart aan om primêr die vlaag van sinnelose moorde, maar bepaald plaasmoorde, in die land te belig.

Dis reg so, want hierdie misdaad-greep waarin ons land is, is besig om ons op ons knieë te dwing – as ons nie al klaar op ons knieë is nie.

Te veel mense boet eenvoudig onnodig met hul lewe en dit het tyd geword dat die mense die regering lei, want kennelik is hulle nie in staat om die geweldmisdade stop te sit nie.

Ondanks die oorweldigende verbeteringe in die nuwe Suid-Afrika, is daar so baie wat ons tot kommer en ongemak stem. Armoede bly vyand nommer een. Saam daarmee kom soveel ander kwale. Gewelddadige misdaad, as ’n voorbeeld, is tans op vlakke wat geen gerespekteerde, beskaafde land sommerso kan aanvaar nie.

Myns insiens is die gebrek aan waardes die belangrikste oorsaak van die probleem. Ondanks die armoede deur die jare was daar nog nooit so min re­spek vir jou medemens nie. Respek vir jou medemens se eiendom, respek vir jou medemens se menswaardigheid, maar bowenal, respek vir jou medemens se lewe. Ons praat eintlik van ’n barbaarsheid wat ons oorval en waarmee ons gaandeweg begin saamleef het. In jou grootworddae het ’n mens soms arm aan wêreldsgoed gevoel, maar jy was skatryk aan dit wat saak gemaak het. En selfs al het ’n mens arm gevoel, is daar nie geroof en doodgemaak op die skaal wat ons vandag beleef nie.

Iewers langs die pad het ons samelewing erg sielskade gely. Ons betaal nou duur, baie duur, daarvoor – mees­tal met ons lewe.

Hierdie geweldmonster het ook nie gister of eergister begin nie. Dit het nie begin met die wrede moord op die Bolandse boer Joubert Conradie, wat in sy eie huis geskiet is nie. Dit het ook nie begin in die land se townships nie waar duisende mense elke dag, elke tree, met die dood stap. Elke dag is soos Russiese roulette in ons armste woonbuurte. Jy weet nooit wanneer die koeël jou naam op het nie.

By die begrafnisdiens het antie Mollie langs Joubert se kis gestaan met drie donkerpienk rose in die hand. Dis asof sy afskeid van haar eie kind geneem het.

Maar net so barbaars as wat dit is om ’n weerlose bejaarde egpaar met ’n warm strykyster te martel en met kookwater te brand voordat hulle met byle gekap word, is dit om ’n plaaswerker te vermoor en in ’n vlak graf te smyt. Die punt is dat een moord nooit belangriker geag kan word as die ander een nie. Wat ’n mens opgeval het met die moord op Joubert was die gedeelde smart van boere en plaaswerkers. ’n Mens kon nie net die trane oor die wange van die Conradie-gesin sien biggel nie, maar ook die skok en ongeloof op die gesigte van sy plaaswerkers sien.

Kyk maar net na die foto’s van Elizabeth (Mollie) Julies, die 72-jarige huiswerker van die Conradies.

Sy het Joubert soos haar eie grootgemaak en haar woorde “ek sal maar ook sy kinders grootmaak” getuig van die diepe band wat tussen ’n plaaseienaar en plaaswerker aanwesig was.

By die begrafnisdiens het antie Mollie langs Joubert se kis gestaan met drie donkerpienk rose in die hand. Dis asof sy afskeid van haar eie kind geneem het.

Het ons land nie dalk meer antie Mollies nodig nie? Nie die breedsprakige soort wat nou die snaphaan wil
terugtrek en wild wil begin skiet nie. Ook nie die soort wat met hul gifbeker rondloop en rassehaat aanblaas nie.

Ons land het eerder meer van die Mollie Juliese nodig om ons deur hierdie verskriklike pyn en tyd te dra. En dis vir die Mollies van Suid-Afrika dat ek vandag swart sal aantrek.

Meer oor:  Plaasmoord  |  Johann Maarman  |  Huishulp  |  Klapmuts
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.