Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Kind wat ’n robotmannetjie is, is verlore
Annelie Botes

So vier jaar gelede het ek en die gryse besluit om uiteet as ’n rariteit te beskou. Dit het weinig met geld uit te waai – dit gaan oor die hoeveelheid kos wat ons op ons oudag op een slag kan verorber.

Toe ons 20 jaar gelede in die Baai ingetrek het, kon die gryse lag-lag ’n kilogram varkribbetjies opeet. Daarby ’n swartpotjie bonesop en ’n roosterkoek as voorgereg. En malvapoeding.

Daardie tyd is verby. Lyk my soos ’n mens se nekvelle met die ouderdom rek, só krimp jou maagwande. Want ná ’n uiteetsessie is ons twee dae lank siek omdat ons ons vergryp en soos horingwurms eet.

Deesdae eet ons kort-kort winkelkos, maar klein porsies. ’n Pasteitjie, ’n samoesa, ’n vegetariese rolletjie by die Chinese winkel, ’n klein bakkie calamari, ’n vlaskyf. Dan blaas ons nie so op nie. En kry nie galkopsere nie.

Twee weke gelede sterf ons van lus vir Ocean Basket se Platter for One. Ons oortree die reël en eet heeldag niks.

Laatmiddag sit ons kwylend met die spyskaart voor ons. Knap het ons bestel, of ’n bejaarde egpaar met ’n seun van so tien jaar oud kom sit by die tafel langs ons. My vermoede is dat dit ’n oupa en ouma is wat hul kleinseun trakteer.

Sy ouma probeer vrugteloos sy aandag by die spyskaart kry, maar sonder opkyk, mompel hy: “Soesji.”

Maar hy het vrede met hulle. Ál sy aandag is by die speletjie op sy selfoon. Hy gesels nie met hulle nie; kyk nie na hulle nie. Sy ouma probeer vrugteloos sy aandag by die spyskaart kry, maar sonder opkyk, mompel hy: “Soesji.”

Hy is só ingesuig deur die speletjie dat sy lyf saambeweeg; kort-kort ruk sy asem op. Onder die tafel wip, wip sy voete en soms lyk dit of hy briek trap. ’n Lewende toonbeeld van spanning.

Kennelik is die grootouers iesegrimmig, maar hulle sê niks; bekyk die gedoente met stroewe gesigte. Die kind is onbewus dat sy soesji voor hom neergesit word.

Toe hy ten laaste die selfoon neersit en die eetstokkies opneem, sien ek hy is geoefen met die stokkies. Dis nie die eerste keer dat sy ouma-hulle sak omdop vir soesji nie. Hy wurm deur die soesji. Sy oupa-hulle is halfpad deur hul panne vis, toe gryp hy weer die selfoon en die kompetisie begin van voor af.

As oumens wat niks van selfoonspeletjies weet nie, het dit my siek laat voel. Wat gaan in daardie jong seun se kop aan? Klim hy ooit boom en bou ’n sandkasteel?

Lees hy? Hoe gee hy aandag aan sy tuiswerk? Gesels hy met sy ma in die kombuis? Hoe werk die kommunikasie in sy ouerhuis? Hoeveel slaap hy, en is dit ’n rustige slaap?

Iewers sal iemand nou weer my kop gelyk met my nek afkap, en my uitskel vir ’n antieke moroon, maar om ’n kind toe te laat om sy lewe te minimaliseer en te verskraal met selfoonspeletjies, kom vir mý neer op kindermishandeling.

Skep reëls en grense. Hóú daarby, met deernis en humor. Onthou, dis ’n kind wat eendag ’n volwaardige grootmens moet wees. Dis nié ’n robotmannetjie nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.