Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Klankbaan vir Suid-Afrika se padreise

‘Wáár is jy?” vra sy oor die selfoon. My verwagte aankomstyd op die plaas was heelwat vroeër, maar ek het reeds padlangs vrede gemaak met die simpel GPS-tannie wie se kortste roete toe die langste duur.

“Tussen niks en nêrens. Maar als is oukei. Nou-nou daar,” is my antwoord. Al wis ek dis net die halwe waarheid.

Annemarie van der Walt.

Verby die alles van die plat landskap van Noordwes – soms mis ek die woord Wes-Transvaal – en die êrens wat my ontwyk, was my gedagtes die rit lank al die heelal oor en deur. Soms was dit oukei, soms kon ek nét lag of nét huil. Dis mos wat gebeur as ’n mens agterpaaie ry: Al die dink en drome en spyt skud langsaam los en kom sit effe ongenooid in die passasiersitplek. En moenie dink hulle bôdder eens met ’n veiligheidsgordel nie.

Ek het die CD-speler se volume hoër gedraai: die meesterlike klankbaankomponis Ennio Morricone se “Once Upon a Time in the West” gesing deur Patricia Janecková.

Daar is mense, veral Suider-Afrikaners, in wie se oë ’n veraf iets skyn as daar sprake is van ’n padreis. Dis asof daar gewedywer word oor wie die mees afgeleë en onbegaanbaarste paaie gery het.

Vergeet liefs die sieliges wat spreekwoordelik slegs supermark toe en terug ry. Laat hulle buite berekening, want wanneer sou hulle tog tyd kry om te luister na, sê maar, Gert Vlok Nel se lang-lang lied “Waarom ek roep na jou vanaand”?

Miskien is ons suidelikste bewoners van hierdie wye vasteland so gewillig om die pad te vat omdat dit tog veiliger is om aan te hou beweeg pleks van om soos ’n haas in ’n motor se ligte uitgevang te word en in vrees te versteen. Daarby is dit seker onrustige gene: Ons is hier immers almal inkommers vanweë die eeue-oue geskiedenis se eb en vloed.

Deur ’n diep drif was my voet te laat op die rempedaal; die CD spring: Amy MacDonald se unplugged weergawe van Bruce Springsteen se “Dancing in the Dark” stotter tussen “Man, I ain’t getting nowhere . . .” na “ . . .there’s some-thing happening somewhere . . .”

Is die wanhoop dat dit dalk, op die volgende dorp, beter sal lyk die rede dat ons dit al hoe verder waag van die gekaarte roetes af? Want geen berg, waterval of woestynduin – niks in die natuur – kan ooit so verskrik en verskriklik verwese lyk nie soos Trompsburg, Edenburg, Carolina, Hartbeesfontein, Musina en byna élke plek tussenin.

Laatskemer was ek uiteindelik op die plaas. Dit was soos ’n tuiskoms, en ons het tot diepnag gekuier op die ongetraliede stoep; ja, teen ons beterwete, in die oopte en wydte. Sy sal môre die kortpad beduie, het my niggie gesê. Maar die langpad was onbedoeld goed, was my antwoord.

Sy het ook vir my ’n CD gegee, met sulke sad songs, soos “Somewhere Between Your Heart and Mine”. Die CD spring telkens, want sy ry elke dag grondpad. Maar ek onthou elke hartseer sin; dis asof dit deur my are en my land weeklaag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.