Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Kort gebed, ’n Damaskus-oomblik
Ivor Price

Die man se gerimpelde hande het my al kort voor die tafelgebed opgeval. Elke rimpel was deel van ’n padkaart; ’n herinnering aan sy eindelose dae in die ongenaakbare son. Sy hande was, as ’n boer, die laaste paaiement van sy lewenslange liefde vir die grond.

Tydens die tafelgebed kon ek nie help om ongemerk, sommer met die een oog, weer na sy hande te staar nie. Dit was byna volmaak in dié van sy vrou s’n gevou; so asof hulle hande in ’n ander tyd reeds bestem was om eendag mekaar te vind. Hul kinders, twee opgeskote meisiekinders, se hande was byna kontrasterend onverbeterlik – ’n indikasie dat hulle nog nie ’n dag in hulle lewe gewerk het nie.

Ons, as ’n gesin, het self nooit hande vasgehou tydens die tafelgebed nie, hoewel dit ’n gebruik is wat my nog altyd met ootmoed gevul het. Soos die meeste mense, seker maar, was dit vir my ’n blote formaliteit wat gewoonlik afgerammel is sodat die ete en gesprek kon begin. Trouens, my pa moes my male sonder tal op die vingers tik wanneer ek begin eet het voordat die seën gevra is.

Maar iets aan dié man se hande was anders… Hy’t sy hoed afgehaal, dit op die etenstafel neergesit en sy dogters nader geroep. Toe het hulle hande vasgehou, ook myne, waarna hy ’n eenvoudige gebed gesê het waarmee ek self grootgeword het: “Seën die voedsel, en seën die hande wat dit voorberei het. Wees ook met dié wat minder het as ons.”

Ons, as ’n gesin, het self nooit hande vasgehou tydens die tafelgebed nie, hoewel dit ’n gebruik is wat my nog altyd met ootmoed gevul het.

Asof, vir die eerste keer, het ek die woorde gehoor; die tafelgebed skielik nie meer bloot ’n vlugtige, skuldige gedagte voordat daar weggeval word aan ’n oorlaaide tafel nie, maar eensklaps ook ’n herinnering aan hoe bevoorreg ons werklik is. Selfs meer ontnugterend is dat ek nooit vantevore gedink het aan die lang lys mense wat as deel van ’n landbou-waardeketting die einste kos voorberei het wat uiteindelik op ons borde beland het nie.

Tot dié dag, op ’n plaas in die dorre Karoo, was “die hande wat dit voorberei het” maar nog altyd nét my ma, of die een wat vir ’n spesifieke maaltyd verantwoordelik was. Ek het nie eens gedink aan al die boere wat hul geld in die grond geplant het, saam met al die landbouwerkers na die grondgesondheid en gewasse omgesien het en eindelik ook die markte en ’n voorsienings­ketting tot op my tafel gevind het nie.

Tot op hierdie spesifieke oomblik het ek nooit die goddelike hand herken (en beslis ook nie erken) in die hande wat dit gesaai het, die hande wat die lande bewerk het, asook die hande wat die oes ingesamel het nie. Dit was nog ’n Damaskus-oomblik in my reis deur elke uithoek van die land; ’n lewensles in erkentlikheid wat tot ’n kopskuif oor landbou gelei het.

Ivor Price is ’n televisieaanbieder, skrywer en sosiale entrepreneur.

Meer oor:  Ivor Price  |  Bid  |  Tafelgebed  |  Damaskus-Oomblik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.