Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Laaste boodskap in die koue . . .

Deesdae se koue laat Willem Fransman jr. onwillekeurig terugdink aan ’n aand toe hy só koud gekry het dat hy ’n laaste boodskap aan geliefdes opgeneem het.

Die Cederberge Foto: Gallo Images

Dit was in die winter van 2004.

En elke keer wanneer dit koud word, betrap ek myself dat ek daaraan dink: Die keer toe ek my lááste boodskap, net voor ek gedink het ek gaan sterf, agtergelaat het.

Vroeg in Junie van dáárdie winter het ek en twee vriende, Henry Davids en Albertus Davids, soos so baie al voor ons gedoen het, die Cederberge in die winter aangepak. Ons wou van Algeria se bosboustasie oor Sneeuberg en Sneeukop na Wupperthal stap.

Om die waarheid te sê, hierdie tog was eintlik die verwesenliking van ’n persoonlike lewensideaal.

In die kattebakke was genoeg eet- en drinkgoed teen die koue weer.

Ons het uit die Kaap vertrek met twee voertuie. Op die N7, as ons ’n bietjie afgetrek het, ek van die een voertuig na die ander ingeklim.

Dan het ek Henry en dan Albertus vir geselskap gehad. In die kattebakke was genoeg eet- en drinkgoed teen die koue weer; veral die voggies om die koue in ’n nog kouer berghut uit jou lyf te hou.

Al ons reëlings het in plek geval.

Ons ry deur Clanwilliam tot by Wupperthal. Daar los ons een voertuig op die Morawiese kerk se werf in Wupperthal. Eerw. Chris Wessels was toe die herder daar.

Sneeu en koue is nie ’n stapper of bergklimmer se vriend nie. Foto ter illustrasie. Foto: Jaco Marais

Daarna ry ons terug Algeria-bosboustasie toe. Ons slaap in ’n rondawel sonder elektrisiteit, maar heerlike sop en sjerrie en Albertus se lawwe liedjies hou die koue op ’n manier weg.

Die volgende oggend, met die hulp van die veldwagter, Boeta Abie, en Albertus ry ons drie uur lank om by die berghut die naaste aan Sneeukop te kom.

Dit is van grondvlak tot op die berg se spits byna twee keer hoër as Tafelberg. Met die rugsakke, wat sowat 20 kg weeg, stewig op ons rûe begin ek en Henry die klim na die kruin. Die ouer twee wag in die berghut op ons terugkoms.

Henry is in sy element. Op die Grens het hy aan uiterste toestande gewoond geraak.

Die veld is nat van die vorige dag se neerslag. Gou is ons broekspype papsopnat. Die staptog is uitmergelend, maar ek kla nie. Henry, my soldatevriend wat in die tyd van die Bosoorlog in Angola en die Caprivistrook geveg het, loop met berekende hale voor my uit.

Bo op Sneeukop staan ons oprygstewels enkeldiep in die sneeu. Henry haal ’n apparaatjie uit sy parka se binnesak. Hy fluit hoorbaar deur sy tande en lees hardop dat die temperatuur -9 °C is. Ons neem soos wafferse ontdekkingsreisigers foto’s.

Ons tande klap op mekaar. Henry is in sy element. Op die Grens het hy aan uiterste toestande gewoond geraak. Vir my, wat nog net Tafelberg ’n paar keer uitgeklim het, is dít skielik ’n berg wat voor my kom lê.

Is dit hoe Scott gevoel het?

Everest, die wêreld se hoogste berg. Sir Edmund Hillary het die kruin in 1953 bereik. Foto: Getty Images

Ons begin die terugtog. Gly-stap sou ’n beter beskrywing gewees het. Dit neem ons minstens ’n uur en ’n half om by die berghut terug te kom. Daar word ons met ’n warm drankie inwag.

Daarna pak ons op en Albertus en Abe gaan terug na die Algeria-bosboustasie.

Ek en Henry stap ’n verdere 5 km na ons oornaghut. Ons lyk klein tussen die magtige bergklowe, soos klein slakkies wat hul pa’s se skulpe dra!

En toe tref ’n ander ramp ons. Dit begin swaar reën. Binne ’n japtrap is ons klere deurdrenk. Gelukkig het die parkas waterdigte voerings. Selfs die beroemde Crystal se poel doem skielik aan ons linkerkant op.

By die oornag-berghut aangekom, rol ons die grondmatjies en slaapsakke oop en gaan sit langsbeen daarop.

Robert Falcon Scott op sy laaste tog na die Suidpool. Foto: Getty Images

In ’n japtrap is die aandete gereed. Teen sesuur is ons binne-in ons slaapsakke. Gereed vir die lang, koue nag. Ons maak ’n paar kerse brand en sit dit op strategiese plekke in die hut neer. Maar dis snerpend koud. My bosvegtersvriend sit kaalbolyf in sy slaapsak. Ek het twee T-hemde en flennie-slaapklere aan.

Hy skink vir elkeen ’n stewige skeut brandewyn. Die doppe volg mekaar snel op, maar die hitte bly weg!

My spiere begin kramp, my tande kletter op mekaar. Bosvegter slaap die slaap van ’n dooie. Ek bid later saggies en smeek by God dat hy my tog net moet help om van die berg af te kom.

Deur die pyn wonder ek hoe sir Edmund Hillary op die berg Everest moes gevoel het. En ook aan sy antwoord toe hulle hom gevra het hoekom hy dit aangepak het: “Because it’s there.”

Ek dink ook aan die Britse ontdekkingsreisiger Robert Falcon Scott wat so graag die Suidpool vóór die Sweed Roald Amundsen wou bereik en daar dood is. Ek dink aan Scott se laaste inskrywing in sy dagboek: “There is no more hope and so God, look after our people!”

En toe word ek yskoud, indien dit nog moontlik was. Wat sal my laaste woorde wees as ek hier in die berghut, met sy yskoue, klam mure, sonder enige vensters, moet sterf? Hier is nie eens ’n skrompeltjie papier om my laaste woorde op neer te pen nie.

Toe onthou ek my diktafoon wat altyd ingepak word. Dis toegewikkel in lae plastiek, diep in my rugsak weggebêre. Ek fluister toe my “laaste woorde” in die silwer mikrofoontjie.

’n Gelukkige einde

Willem Fransman jr.

Die volgende oggend, toe die wekker op my selfoon afgaan, haal Henry die diktafoon uit my hand. Steeds aangeskakel, die batterye pap.

Wat op daai bandjie vasgevang is, sal ek vir niemand sê nie. Vergeet dit!

Ná ontbyt val ons in die pad. In een stadium kry ons vars luiperdspore. Toe stap ons éérs suutjies! Oor riviere en berge en dale stap ons met berekende hale, terwyl die sonnetjie skamerig kom hallo sê toe ons deur Kleinvlei, ’n Wupperthal-buitewyk, stap.

Dan, uiteindelik sien ons die skilderagtige Wupperthal ver onder ons voete. Vanaf die bekende Singkop kyk ons vir oulaas op dié sendingdorpie af. Dis vanaf hierdie koppie waar inwoners nou al dekades met ’n kers in die hand lofliedere tot God sing.

Later sit ons moeg maar tevrede en drink ’n yskoue Coke in die Lekkerbekkie-restaurant in die historiese Leipoldt-huis.

Met die koue Kaapse weer van deesdae kan ek myself nie keer om te dink ek aan die aand toe ek my laaste boodskap aan dié wêreld gelos het nie . . .

Fransman is ’n skrywer en vryskut-joernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Willem Fransman Jr.  |  Edmund Hillary  |  Everest  |  Clanwilliam  |  Wupperthal  |  Koue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.