Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Lekker, lang en duidelike mondvol
Gerhard van Huyssteen

’n Leser SMS Beeld se redakteur verlede week: “31 is die getal (sic) letters in mediumtermynbegrotingstoespraak. Kan ons nie maar net vier los woorde daarvan maak nie? Vra net.”

Monde vol vrae en antwoorde spruit uit dié vraag.

Die wêreld van vertaling en terminologieskepping (oftewel vakleksikografie) is ’n boeiende ene. Daar is ’n paar katte wat meer van saffraan én godsdiens weet as wat ek van dié twee terreine weet, maar ek waag tog maar ’n paar rigtingwysers.

Alvorens jy ’n term vertaal of skep, is dit baie belangrik om eers die konsep korrek te verstaan. Dit gebeur dikwels dat ’n Engelse term nie noodwendig ’n goeie of akkurate term vir ’n konsep is nie, maar dat dié term nietemin klakkeloos in Afrikaans vertaal word. Vergelyk byvoorbeeld die Engelse “Twitter handle”: Daar is talle besprekingsfora op die internet waar Engelse mense vra wat presies ’n “Twitter handle” is. Dit is reeds ’n aanduiding dat die Engelse term nie eintlik deursigtig (en suksesvol) is nie. Vervolgens gebeur dit dat mense “Twitter handle” vertaal met “Twitterhandvatsel”. Die arme Afrikaanse gebruiker word dus niks wyser nie. As jy weet dat die konsep waarna “handle” verwys niks anders as jou gebruikersnaam is nie, sal ’n term soos “Twittergebruikersnaam” of “Twitternaam” dalk veel beter wees.

Die vraag is dus: Wat presies is die konsep waarna die Engelse “medium term budget” verwys? Ek bel freneties rond, want van die ekonomie weet ek nog minder as van vertaling. Interessant genoeg kry ek ’n klomp uiteenlopende menings van mense wat ek gedink het sou moes weet waarna die term verwys. Die meeste mense dink dit verwys na die begrotingsaanpassings wat in die middel van die huidige finansiële jaar aangekondig word. Geen wonder dat onder andere JacarandaFM se nuusspan dan ook verwys na die “halfjaarbegroting” nie. Selfs in Engels gebruik byvoorbeeld Daily Maverick die misleidende term “mid-term budget”.

As ons nou vervolgens “medium termyn” met “begroting” kombineer, word dit een woord.

In die inleiding tot min. Gordhan se toespraak word dit egter duidelik: “The Medium Term Budget Policy Statement (MTBPS) . . . communicates to Parliament and the country . . . fiscal policy objectives and spending priorities over the three-year expenditure period.”

“Medium term” verwys dus na ’n “medium termyn van drie jaar lank” en staan teenoor kort termyn (die huidige boekjaar) en lang termyn (sê nou maar vyf tot tien jaar). Engelse skoolvosse sou kon sê dat die korrekte skryfwyse dus eintlik “medium-term budget” moet wees, net soos “medium-term goals” of “medium-term investment”.

As ons nou vervolgens “medium termyn” met “begroting” kombineer, word dit een woord. Waarom? Want in Afrikaans skryf ons (samestellende) samestellings vas. Daar is ’n reuseverskil tussen ’n “rooivleisprodusent” (’n produsent van rooi vleis) en “rooi vleisprodusent” (die vleisprodusent is rooi – waarskynlik kommunisties). Dit is ’n heerlike, ryk vermoë wat Afrikaans het: Ons kan subtiele betekenisverskille uitdruk deur woorde los of vas te skryf; die Engelse skrywer moet dit omskryf (“producer of red meat”) indien hy/sy seker wil wees dat daar nie betekenisverwarring ontstaan nie.

En met “mediumtermynbegroting” as basis kan ons dan “mediumtermynbegrotingsbeleidstoespraak” skep: ’n Lekker mond vol 38 letters sonder enige onduidelikheid oor presies wat bedoel word.

Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen  |  Taal  |  Afrikaans  |  Rubriek  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.