Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'n Lewe: Aktrise, skrywer en helper van haweloses

Die aktrise en skrywer Lerina Erasmus (72) was amper klaar met ’n nuwe boek toe sy onlangs op haar verjaardag aan kanker in Johannesburg dood is. Haar welslae met Die Mannheim-sage-trilogie, eers as radioreeks, toe vir TV en later as boeke, het selfs háár onkant betrap.

Lerina Erasmus

Haar sukses in die toneelwêreld en as outeur word wyd erken, maar daar is sekere kante van haar veelsydige lewe en persoonlikheid wat nie alombekend is nie.

Haar jarelange vriendin, die regisseur Annie Basson vertel Erasmus en haar man was die soort Christene wat nie net daaroor gepraat het nie, hulle het dit uitgeleef.

“Vir amper 20 jaar het hulle self vir hawelose mense gaan kos gee. Daar was baie, en driekwart van die kospakkies het uit hul eie sakke gekom. Ek het vir Nerina nooit hoor sleg praat van iemand nie, sy het niemand ooit beswadder nie.”

Johan van Lill vertel van ’n radio-onderhoud wat hy in 2016 met haar gevoer het oor haar toe pasverskene boek, Die leliemoordenaar.

“Ons het in haar studeerkamer gesit in so ’n lekker ingeboude sonkamertjie. Dit was een van daardie onderhoude waar ek al my mikrofoon by die voordeur aangeskakel het. Ons het net gaan sit en begin gesels. Sy kon so lekker gesels. Die gesprek het sommer net rondgespring – sy kon die een oomblik vir jou die interessantste en snaaksste staaltjie vertel van die ou Johannesburg en dan sommer diep en ernstig raak oor kanker, die lewe en reis.”

'Sy was misterieus en bekoorlik.’

Die aktrise Elsabé Daneel sê: “Sy was misterieus en bekoorlik. As jong aktrise het ek Lerina ervaar as ’n sensitiewe siel en gedugte kunstenaar. Sy het ’n eksotiese, misterieuse aura gehad. Haar groot oë, swaannek en ryk stem was betowerend, asof sy aan ’n ander wêreld behoort.”

Die akteur, aanbieder en vervaardiger Hannes van Wyk vertel: “Ek was gelukkig om Lerina jare gelede te leer ken toe ek vir Sukovs gewerk en gereeld aan huis van (die akteurs) Ernst Eloff en Wim Vorster gekuier het. Reeds as jong akteur was sy vir my hierdie enigmatiese, charismatiese vrou en toe al ’n legende.

“Ek onthou hoe ek aan haar lippe gehang het as sy stories vertel het. In die jare daarna wat ek ook met haar onderhoude gedoen het, het ek net nog steeds met meer bewondering na haar gekyk.”

Wim Vorster onthou die teaterdoyen Anna Neethling-Pohl was soos ’n mentor vir Erasmus.

“Met radiowerk het sy die spelers toegelaat om die karakter te ontwikkel en sommer te ad lib. As jy die volgende week in die ateljee kom, het een van daai ad libs ’n storielyn geword,” sê hy.

Die aktrise Annelize van der Ryst vertel sy het as mens ’n hart van malvalekkers en so ruim soos die grootste teater gehad vir afvlerk-akteurs wat ondersteuning en bystand nodig gehad het.

“As aktrise het sy veral geskitter in rolle in Griekse dramas soos Medea. Een ding wat Lerina nie kon doen nie – Annie (Basson) ook – hulle kon nie mooi sing nie. Dit het lewenslank ’n grap tussen ons drie gebly, omdat ek kon sing en hulle in die agtergrond (vals) moes neurie.”

Lerina en haar man, Günter.

Pieter de Vos, ’n goeie vriend, sê: “Ek ken Lerina en haar man al langer as 40 jaar. Ek het destyds die teks vir die Mannheim-sage geredigeer, en het pas weer op ’n woordeboek afgekom wat sy destyds (in 1984) vir my present gegee het. Dit maak my hartseer om só die spore van ’n lang, lang vriendskap te volg.

“In 1987 het Lerina ’n private ondersoek vir ses maande gelei met ’n paar vriende – ek ook – na korrupsie in die SAUK, en ons het uiteindelik ’n dokument van seker 200 bladsye se getuienis aan Alwyn Schlebusch, destydse minister, voorgelê.

“Sy is in Namibië, noord van Windhoek gebore. Ek het haar ouers goed geken – tannie Vera was ’n groot, gesellige, spitsvondige vrou en haar pa, oom Rassie, meer die introvert.”

Sy word oorleef deur haar man, Günter Schmikal, seun, Stefan, sy vrou, Michelle, en tweelingkleindogters.

Lerina Erasmus, gebore 20 Augustus 1946, oorlede 20 Augustus 2018.

Meer oor:  Lerina Erasmus  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.