Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'n Lewe: ‘Hy was soms ongewild by skynheiliges.’
Prof. Kay de Villiers

Prof. Kay de Villiers (90), wat onlangs in Kaapstad oorlede is, was van die land se voorste neurochirurge. Hy was egter ook bekend as ’n uithalerstorieverteller, ’n lewensgenieter en iemand wat wyd gelees het.

’n Gesogte versamelstuk wat hy geskryf het, is sy bekroonde meesterwerk, Healers, Helpers and Hospitals – A History of Military Medicine in the Anglo-Boer War, Die eerste volume alleen beslaan ’n stewige 772 bladsye! en die kleiner tweede volume 324.

In Dwarstrekkers, dwepers en dokters skryf hy oor ’n hele aantal eksentrieke karakters wat hy tydens sy navorsing vir sy groot historiese werk teëgekom het. Hy was ook medeskrywer van Yeoman of the Karoo, ’n boek oor die belangrike Yeomanry-hospitaal in Deelfontein in die

Karoo tydens die Anglo-Boereoorlog.

De Villiers was ook die stigter van die waardevolle Kaapse Mediese Museum in Groenpunt. In Maart 1985 toe oudpres. PW Botha ’n beroerte gekry het, is hy en dr. Paul Cluver gevra om na sy breinskandering te kyk.

Hy het die skade aan Botha se brein

gediagnoseer as die tipe beroerte wat gereeld sielkundige versteurings veroorsaak, soos onder meer ongeïnhibeerde en vurige woedeuitbarstings. Hierdie inligting is grotendeels op Botha se aandrang geheim gehou.

Sy seun, Charl, sê: “Volgens my pa se eie CV is hy in Klerksdorp gebore, nie die Paarl nie. Hy het die see ook die eerste keer gesien toe hy aan die Universiteit van Kaapstad begin studeer het.”

Hy het hier as geneesheer graad gevang en het later nagraads in neurochirurgie in Londen gekwalifiseer.

Hy was oorspronklik in Swellendam as huisdokter werksaam en later by die fakulteit geneeskunde van die UK. In 1970 is hy hier as hoof van neurochirurgie aangestel.

Die bekende Seepuntse huisarts dr. John Sonnenberg onthou hom as ’n skrander student wat sommer maklik gedigte in Spaans uit sy kop kon opsê.

“Mense was verstom. Ons is op dieselfde dag op 12 Desember 1952 getroud en het albei ons wittebrode per toeval in die Wildernis gehou.”

De Villiers se eerste vrou, Kina Botha, het hom in 1968 ontval. Daarna is hy met Jeanne Marié Erica du Plessis getroud, wat twee jaar gelede oorlede is.

Die fynproewersjef Peter Veldsman sê: “Prof Kay was een van die laastes van ’n generasie van kundige mense wie se belangstellingsvelde ver gestrek het. Vir my was dit ’n voorreg om saam met hom by talle geleenthede wat aan C. Louis Leipoldt gewy is, op te tree.

“By die eerste Leipoldt-fees in Clanwilliam het hy, André P. Brink, Ernst van Jaarsveld, John Kannemeyer en ek elk ’n referaat gelewer oor onderskeidelik die mediese aspekte, die letterkundige bydrae, die natuurlewe en die botanie, die lewensverhaal, en die kos van Leipoldt.”

Charl onthou verder: “Hy het inderdaad wye belangstellings gehad: T.S. Eliot, die kruistogte, die oom wat bosluise in sy oor gekry het elke keer as hy sy geliefde melkkoei melk, kop teen die bees se blad, Martin Buber, evolusie, Die Bybel (veral Job), Jan Smuts, pres. Steyn, Carl Jung, Eugène Marais, Boris Pasternak, Karel die Grote. Te veel om op te noem.

“Hy was sy eie mens en soms ongewild by dwepers, ‘sesgatjakkalse’ en skynheiliges, ongeag nering of geboorte. My pa was soos die son in die middelpunt van ? planetêre stelsel met ’n magdom planete van alle vorms en groottes rondom hom.”

Hy word oorleef deur sy seun en dogter, Elfrida, asook vier kleinkinders.

Jacquez Charl (Kay) de Villiers, gebore 7 Maart 1928, oorlede 5 Junie 2018.

Meer oor:  Sterfgeval  |  'N Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.