Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'n Lewe: ‘In sy hart was hy altyd ’n student.’

Die regsman prof. Marinus Wiechers (80), wat onlangs ná ’n lang siekte in Pretoria oorlede is, was nie net ’n grondwetkenner en voormalige rektor van Unisa nie, maar ’n fynbesnaarde mens en kunstenaar.

Prof. Marinus Wiechers in 2008. Foto: Robert Tshabalala

“Menswaardigheid was die kern van Marinus se wese. Hy was ’n sosiale en kulturele gelykmaker en het almal gemaklik en spesiaal laat voel, van die Dalai Lama tot ’n eerstejaarstudent,” sê ’n vriendin, prof. Ronel Rensburg.

“Hy was soms plofbaar, maar daarvoor was altyd ’n rede. Hy was partykeer depressief, maar dit was deel van die introspeksie van ’n briljante enkeling wat altyd gereken het hy kan ‘nog beter, nog meer’.

“Ek onthou hoe hy 'n paar uur voor sy dood vir almal wat hom bygestaan het met die basiese lyftakies van ’n sterwende ‘dankie’ gesê het. Hy het almal se storietjies uitgeluister, geduldig. Hy het sy vriende onvoorwaardelik aanvaar en wou niemand ooit oormaak nie.”

Alet Rademeyer, redakteur van Forum Tydskrif, vertel hy was een van bitter min mense wat sy ken wat nooit jou naam vergeet het nadat hy jou ontmoet het nie.

“Sy kennis oor staats-, volke- en admi­nistratiewe reg was fenomenaal en sy bydrae tot die skryf van die Suid-Afrikaanse Grondwet van onskatbare waarde. Min mense kon grondwetlike beginsels en wette op so ’n logiese en eenvoudige manier soos prof. Wiechers verduidelik. As rektor en dosent het hy ook die universiteitswese ten diepste verstaan,” sê sy.

‘In sy hart was hy altyd ’n student.’

Die regsgeleerde dr. Loammi Wolf het uit Duitsland laat weet: “Hy is meer bekend as staatsregtelike, maar hy was ook die eerste akademikus wat ’n handboek oor administrasiereg uitgegee het. Dit was heeltemal ’n nuutjie in die 1970’s.

“Hy het in Parys daarvoor navorsing gedoen en was destyds daar ook in aanraking met Brink en Breytenbach. Hy was ook ’n kunstenaar en filosoof, altyd nederig en hoflik, ’n grootse mens.”

Oudregter Johann Kriegler sê: “Hy was ’n uitmuntende juris, staatsregkenner en akademikus, sy tyd ver vooruit, meestal sonder erkenning.”

Oor sy kuns vertel sy vriend Pieter van Heerden, direkteur van die Pretoriase Kunsvereniging: “Sy styl was impressionisties én ekspressionisties. Hy het ook in humoristiese spotprente uitgeblink.”

Wiechers is in die Ou Moedersbond in Pretoria gebore. Sy pa, Jakobus, was ’n geskiedenisonderwyser en sy ma, Adriana, was voltyds moeder en ’n bekwame kunsnaaldwerker.

Sy dogter, Lila Bosman, sê haar pa was wyd belese en het graag gereis, en was veral lief vir die Europese kultuur.

“Ek dink in sy hart was hy altyd ’n jong Franse student in Parys, en ons het grootgeword met Brel en Piaf lank voor dit so wyd populêr was.” Sy sê al het hulle grootgeword in die huis van ’n akademiese reus, en met al sy eie ambisie, het hy dit nooit op hulle geforseer nie.

“Dit was vir hom belangriker dat ons gelukkig moes wees as dat ons een of ander status moes bereik.”

Oor sy kunsloopbaan sê sy dat hy op skool reeds kunsklasse by Walter Battiss geneem het en altyd gereis het met ’n sketsboek. “Ná sy aftrede by Unisa het hy besluit om hom toe te wy aan ’n nuwe loopbaan as kunstenaar, en dit met oorgawe aangepak. Met dieselfde toewyding as in sy akademiese loopbaan het hy homself herdefinieer, en ’n bekende naam in die kunskringe geword.

“Sy laaste projek was ’n memoir, in die vorm van gesprekke oor sy lewe en ervarings, met sy eie sketse. Dit is ons kinders se plan om dit die lig te laat sien.”

Wiechers was voorheen getroud met Isa Steynberg en word oorleef deur hul drie kinders, Coert, Sybrand en Lila, en kleinseun Coert.

Marinus Wiechers, gebore 14 Oktober 1937, oorlede 31 Augustus 2018.

Meer oor:  Marinus Wiechers  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.