Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'n Lewe: Kaiser kry goeie mediese sorg in SA, maar sien toe dis nie vir almal

Herbert Kaiser (94), wat einde Maart aan sy hart in Palo Alto, Kalifornië, dood is, se lewe het ’n onverwagte wending geneem toe hy in 1971 Suid-Afrika as ’n Amerikaanse diplomaat besoek het.

Herbert Kaiser en sy vrou, Joy, saam met oudpres. Nelson Mandela.

Hy het hier ’n melanoom (velkanker) ontwikkel, en het opgemerk hy kry uitstekende mediese sorg omdat hy wit is, maar dat daar bitter min gekwalifiseerde swart dokters in die land is en dat die mediese sorg wat die swart bevolking kry, ver te kort skiet.

’n Dekade later, nadat hy uit die staatsdiens afgetree het, het hy teruggedink aan dié insident en begin navorsing doen oor die skreiende ongelykhede in Suid-Afrika se geneeskundige professie.

In 1984 was daar net oor die 20 miljoen swart mense, met slegs 350 swart dokters, minder as 120 aptekers en 20 tandartse.

Swart mense het 70% van die bevolking uitgemaak, maar daar was slegs 3% swart dokters. Die wagkamers by swart hospitale was tot barstens toe vol en daar was net een bed vir elke twee pasiënte.

Een van hulle moes dus op die vloer slaap. Die getal ma’s wat met geboorte gesterf het, was tien keer hoër as hul wit landgenote s’n, en 190 uit elke 1 000 swart babas het gesterf, vergeleke met 13,4 uit 1 000 wit babas.

Beperkte toegang tot mediese dienste het beteken swart landburgers het doodgegaan aan voorkombare siektes soos tering, masels, maagdermontsteking en ingewandskoors, siektes wat merendeels onder die wit bevolking geëlimineer was.

Dit het hom en sy vrou, Joy, genoop om die organisasie Medical Education for South African Blacks (Mesab) te stig. Aanvanklik het hulle vanweë sanksies en omdat die Suid-Afrikaanse regering nie juis belanggestel het in die projek nie, gesukkel om geld in te samel. Hul eerste voorsitter was die paleo-antropoloog prof. Phillip Tobias.

Toe die donasies wel begin instroom, het Mesab van 1985 tot sy ontbinding in 2007 11 243 beurse toegeken aan studente om by 26 verskillende universiteite en technikons te gaan studeer. Daar is ook geld geskenk vir tandheelkunde, palliatiewe versorging en verpleegkunde.

Luidens The Washington Post is Kaiser in Brooklyn, New York, gebore. Sy pa het huise geverf en het die huis verlaat toe sy seun slegs sewe was. Sy ma het bejaardes opgepas om vier kinders te onderhou. In die Tweede Wêreldoorlog was hy ’n duikbootvaarder, en hoewel hy by Yale aanvaar is, het hy hom by die staatsdiens aangesluit.

Kaiser kon verskeie tale praat.

Hy word oorleef deur sy vrou, drie kinders en drie kleinkinders.

Herbert Kaiser, gebore 8 Junie 1923, oorlede 30 Maart 2018.

Meer oor:  Sterfgeval  |  'N Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.