Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'n Lewe: Mayle se boeke oor Provence het miljoene verkoop en toeriste gelok

Die Britse skrywer Peter Mayle (78), wat onlangs oorlede is, het met sy romantisering van die platteland in Frankryk in sy boek A Year in Provence (1989) ’n hele nuwe internasionale beweging en bedryf in hierdie genre teweeggebring.

Volgens The Guardian was dit die begin van boeke met ’n legio soortgelyke temas, realiteitsreekse oor haute cuisine, eksotiese reisavonture na sorgelose landelike milieus, en programme oor idilliese bouvallige plaashuise op rustieke eiendomme omring deur welriekende krui- en blomtuine.

Selfs in Suid-Afrika het die bekoring van die Franse gramadoelas soos ’n wegholveldbrand deur die bevoorregte middelklas getrek.

Nadat hy en sy vrou gereeld hul somervakansies in die suidooste van Frankryk deurgebring het, het hy besluit om ’n plaasopstal naby die dorpie Ménerbes te koop.

Die plan was om ’n novelle in die stilte en afsondering te skryf, maar gou is sy aandag afgelei deur onvoorsiene opknappingswerk aan die huis en die alledaagse gebeure rondom hom. In ’n lang apologie aan sy agent het hy geskryf hy kom nie by sy skryfwerk uit nie omdat bouers, loodgieters, die plaas langsaan, ’n maltrap donkie en die pluk van
wilde sampioene hom te besig hou.

Vir The Independent het hy vertel: “Ek was maklik verlei deur ’n nuwe sjef se gourmet-skeppings, gerugte van truffels onder ’n
akkerboom en om plaaslike inwoners te beloer van die kafeerestaurant se stoep af.”

Sy agent het laat weet: “Skryf nog 250 bladsye hieroor, ek sal ’n uitgewer kry.” Die boek wat op dié opdrag gevolg het se aanvanklik oplaag was slegs 3 000 omdat niemand veel belangstelling verwag het nie. Uiteindelik is ses miljoen verkoop, is dit in 40 tale vertaal en dit is verfilm vir ’n TV-reeks. Daar was ook twee opvolge: Toujours Provence (1991) en Encore Provence (1999).

Minder welkom was die feit dat sy Franse huis ’n toeristetrekpleister geword het met busvragte Japannese wat kom foto’s neem, Italianers wat in sy swembad kom baljaar en ’n Britse paartjie wat ongenooid binnegekom het vir ’n koppie tee.

Hy het ook die boek Where Did I Come From geskryf nadat sy seuntjie vir hom gevra het wat ’n orgasme is.

Mayle is in Brighton gebore en het in sy jonger dae as kopieskrywer vir David Ogilvy in New York gewerk. Sy tweede vrou,
Nicola, was The Beatles se sekretaresse. Hy is ná 'n kort siekte in Frankryk oorlede en laat sy derde vrou, Jenny, en vyf kinders agter.

Peter Mayle, gebore 14 Junie 1939, oorlede 18 Januarie 2018.

Meer oor:  Peter Mayle  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.