SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Menings
'n Lewe: ’n Nobelpryswenner – en ook ’n ongeskikte ou man

Een van die Engelse wêreld se grootste skrywers, V.S. (Vidia) Naipaul (85), wat verlede week oorlede is, was ’n ongeskikte ou man wat selfs in Suid-Afrika berug was.

V.S. Naipaul – “the public snob, the grand bastard”.

Sy persoonlikheid tersyde: Naipaul het homself as ’n gerekende skrywer ingewortel met die verskyning in 1961 van sy roman A House for Mr Biswas.

Sy sukses as internasionale skrywer – hy het oor die 30 boeke geskryf – het hom egter nie ’n man, soos die Engelse sou sê, “with a generosity of spirit” gemaak nie. Hy was verkleinerend teenoor mense wat hy as sy intellektuele mindere beskou het – en volgens hom het dit die meerderheid van die mensdom ingesluit.

The New Yorker het ’n dekade gelede na hom verwys as “the public snob, the grand bastard”. Tydens die onderhoud met hom was daar blykbaar ’n bleek vrou teenwoordig wat hy soos sy kneg behandel het. Later het die joernalis, James Wood, besef dit is Nadira, Naipaul se vrou.

’n Uur lank het Naipaul gebulder oor Trinidad, sy geboorteplek, waarvan die gesoute onderhoudvoerder glo niks geweet het nie. In 1962 het hy tydens ’n regstreekse uitsending op TV by die ateljee uitgestorm omdat hy gevoel het die gasvrou was onvoorbereid.

As hy gaan uiteet het, het hy gereeld vir die kelners geblaf. Volgens The New York Review of Books het hy baie geskel as hy gereis het – oor die gehalte van die hotel se handdoeke, kos en diens – wat volgens sy standaarde nooit goed genoeg was nie. “Dit was asof dit persoonlike aanvalle teen hóm was,” skryf hulle.

Hy het met een van sy beste en lewenslange vriende, die skrywer Paul Theroux, oornag ’n uitval gehad. Toe hy hom in ’n straat in Londen sien stap, het hy reg verby hom geloop. Met Salman Rushdie was daar ook legio openbare bekgevegte.

Suid-Afrika het hom benoud gemaak.

The New York Times skryf die outeur Saul Bellow het oor Naipaul se nors voorkoms gesê: “After one look at him, I could skip Yom Kippur.”

Tydens ’n besoek aan Suid-Afrika het hy meer as een keer luidkeels gesê die plek verveel hom omdat daar geen intellektuele hier is nie. Boonop het die land hom benoud gemaak, want alles gaan oor ras.

Tydens ’n informele kuier by Winnie Madikizela-Mandela het sy vrou die hele private gesprek ná die tyd net so neergeskryf in ’n artikel vir die London Evening Standard. Madikizela-Mandela het heftig teen haar eksman en Desmond Tutu uitgevaar en moes ná die artikel vele vure doodslaan.

Hy het dekades lank ’n verhouding met Margaret Gooding gehad terwyl hy getroud was met sy eerste vrou. Vir sy vrou het hy reguit gesê sy kan hom nie bevredig nie. Naipaul het erken hy het Gooding fisiek aangerand. Toe sy eerste vrou sterf, het hy sy jarelange minnares gelos en twee maande later met sy nuwe vrou getrou.

Naipaul se talent as skrywer is egter onbetwis en hy het vele belangrike pryse oor die jare verower. Hy het onder meer die Booker-prys in 1971 vir In a Free State gewen, ’n roman wat grotendeels in Afrika afspeel. In 2001 het hy die Nobelprys vir letterkunde gewen. Hy het ongeveer 50 jaar lank fiksie, niefiksie, reisverhale en outobiografiese werke gepubliseer.

Prof. Robert Muponde, lektor in Engels by Wits, sê: “V.S. Naipaul sal onthou word vir sy hartelose én oorredende kritiek op die tekortkominge van sy medemens. Daar is ook ’n les te leer uit sy misantropiese uitkyk op homself en sy herkoms.”

Naipaul was die tweede kind van Droapatie Capildeo en Seepersad Naipaul. Hy het vyf susters gehad, asook ’n ontslape broer, Shiva, ook ’n skrywer.

Hy word oorleef deur sy vrou, lady Nadira Naipaul (Khannum Alvi), ’n joernalis uit Pakistan, en haar dogter, wat Naipaul in 2003 aangeneem het. Sy eerste vrou, Patricia Ann Hale, het hom in 1996 ontval.

Sir Vidiadhar Surajprasad Naipaul, gebore 17 Augustus 1932, oorlede 11 Augustus 2018.

Meer oor:  Sterfgeval  |  Skrywer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.