SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Menings
'n Lewe: Ntshona het sy gehore gemesmeraais met spel

Die akteur Winston Ntshona (76), wat onlangs in sy huis in sy geboortedorp New Brighton in Port Elizabeth dood is, het gehore met uitstekende toneelspel “gemesmeraais”.

Die dramaturg Athol Fugard saam met John Kani (links) en Winston Ntshona in September 1973 voor die Royal Court-teater in Londen.

Sy lewenslange vriend en medeakteur John Kani het in ’n radio-onderhoud uit Italië, waar hy tans aan ’n produksie skiet, gesê: “Hy was soos my tweelingbroer. Ek huil my oë uit. Om te dink ek was nie by hom toe hy gesterf het nie. Ek is verpletter. Ek sou nog so graag saam met hom op die verhoog wou wees, maar sy gesondheid het stadig agteruitgegaan. Hy kon nie meer toer nie.

“Hy het vir my gesê hy gaan op jong mense in sy omgewing fokus om hul dramatalente te ontwikkel.”

Brian Astbury, wat in 1972 die invloedryke Kaapse alternatiewe teater Die Ruimte saam met sy aktrise-vrou, Yvonne Bryceland, geopen het, skryf uit Londen: “Hy en John Kani het in daardie jare gehore gemesmeraais en platgeslaan met hul puik spel in produksies soos Sizwe Banzi is Dead en The Island.

“Hulle is geanker in die geskiedenis van dié teater. Op ’n Sondagaand, 15 Oktober 1972, het hulle met Sizwe Banzi is Dead geopen, of liewer op die verhoog ontplof.

“Die gehoor was verlam. Swart mense se lewens is soos ’n spieël voor ’n wit gehoor opgehou. Hulle het geskrik. Hulle was opeens blootgestel aan onbekende lewens wat gesensureer en gesegregeer was. Dit was die begin van Die Ruimte as ’n belangrike ruimte vir vernuwende teater in alle vorme.”

‘Hy staan uit vir sy nederigheid en integriteit.’

Sarah Roberts, medeprofessor in drama aan Wits, sê: “In ’n era waar glansmense oormatig opgehemel word en waar sukses afhang van hoe goed jy jou eie beuel kan blaas, staan Ntshona uit vir sy nederigheid en morele integriteit.”

Die teaterganger Mike Kantey vertel toe hy destyds vir Ntshona by Die Ruimte op die verhoog gesien het, was dit altyd asof hy nie kon glo hy het die oudisie geslaag nie. “Daar was ’n aura van beskeie oorbluftheid om hom,” sê hy.

Die akteur Vinette Ebrahim onthou daar was ’n tyd toe dit te gevaarlik vir John Kani en Ntshona was om na hul wonings in Gugulethu terug te keer. Daar is besluit hulle moet in die teater slaap, en die kleedkamers is ná vertonings in slaapkamers verander. Dit was haar verantwoordelikheid om die kamers saans voor te berei en in die oggende weer na kleedkamers te laat lyk.

The New York Times skryf sowel Kani as Ntshona was fabriekswerkers in die Oos-Kaap toe hulle in die middel-1960’s by die Serpent Players aangesluit het. Dit was ’n ondergrondse veelrassige teatergeselskap waarvan Athol Fugard ’n stigterslid was.

Swart mense mag nie as kunstenaars gewerk het nie. Fugard het hulle as sy bediendes geklassifiseer in die “dompas” wat hulle moes dra.

Later, ná die onverwagte sukses van Sizwe Banzi is Dead en The Island in Kaapstad, het hulle die wêreld daarmee vol gereis en internasionale gehore betower. Albei was die hoofskrywers van hierdie produksies.

In 1975 is hulle vereer met ’n Tony-toekenning as beste akteurs in ’n toneelstuk vir albei produksies. Bekende akteurs soos Henry Fonda het met hulle meegeding om hierdie toekenning.

In 1976 is hulle vir drie weke in die tronk gesit ná ’n vertoning van Sizwe Banzi is Dead in Butterworth in die Oos-Kaap.

Benewens Ntshona se verhoogwerk het hy ook in rolprente soos The Wild Geese en A Dry White Season gespeel.

Vriende sê sy gesondheid het die afgelope agt jaar stelselmatig agteruitgegaan.

Ntshona word oorleef deur sy vrou,

Vuyelwa, en sy seun, Lawula.

Winston Ntshona, gebore 6 Oktober 1941, oorlede 2 Augustus 2018.

Meer oor:  Winston Ntshona  |  'N Lewe  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.