Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'n Lewe: Tee, magnetisme – en ’n besonder liriese stem

Die liriese sopraan Nellie du Toit (88), wat verlede Sondag in Stellenbosch aan longontsteking oorlede is, was een van die land se voorste operasterre en sangonderwysers. Die tenoor Gé Korsten het oor twee dekades dikwels saam met haar opgetree en was ook een van haar studente.

Nellie du Toit, een van Suid-Afrika se mees vermaarde operasangeresse.

Nie net was sy ’n voortreflike en gesofistikeerde operaster nie, sy het vele jong mense opgelei wat later internasionaal naam gemaak het. Van hulle is onder andere Michelle Breedt, Andrea Catzel,
Virginia Davids en Christiaan Snyman.

Sy was een van Suid-Afrika se mees vermaarde operasangeresse van die 1960’s en 1970’s wat haar loopbaan eksklusief in Suid-Afrika gemaak het. Haar loopbaan as uitvoerende kunstenaar het oor byna drie dekades gestrek. Sy was ook 'n sangpedagoog vir meer as 40 jaar.

Du Toit het oorspronklik sanglesse as kind by haar musikale ma ontvang. Ná matriek het sy haar musiekstudie in die vroeë 1950’s aan die Suid-Afrikaanse
Musiekkollege in Kaapstad onder madame Adelheid Armhold en Gregorio Fiasconaro met lof voltooi.

Sy het verder in Engeland en Oostenryk studeer. In haar MA-verhandeling oor Du Toit se loopbaan skryf Sabina Mossolow dat sy in 45 operaseisoene vir die destydse uitvoerende kunsterade gesing het in die 17 jaar tussen 1963 en 1979 – die jaar waarin haar sangloopbaan tot ’n einde gekom het.

In 1986 het sy na die operaverhoog teruggekeer in die rol van die Marschallin in Der Rosenkavalier van Richard Strauss. Dit was ook haar vaarwel aan die verhoog. Die titelrol in Madama Butterfly kan as haar bekendste rol beskou word, skryf Mossolow.

‘My ma was ’n dapper vrou.’

Haar dogter Christine Nolte sê: “Toe ons nog kinders was, het sy baie gereis, maar sy het altyd seker gemaak dat sy ons verjaardae kon vier met spesiale kinderpartytjies. My ma was ’n dapper vrou. Die paaie in haar loopbaan was nie altyd maklik nie, maar sy het altyd volgehou met haar doel. Sy het by my ’n passie gewek vir opera. Ons het as ’n gesin (en met vriende) baie spesiale kuiertye gehad in Jonkershoekweg toe sy en my pa (uit Pretoria) Kaap toe getrek het. Daar was baie vreugde en liefde.”

Nic de Jager, aanbieder van die musiekprogram Nic se goed oor RSG, sê: “Haar stem was altyd vir my ’n besonder ‘ronde’ liriese stem, in die lyn van Renata Tebaldi en Mirella Freni. Ek weet vergelykings is ook die duiwel se oorkussing, maar dit gaan net oor die stemklank. ’n Mens kon daardie klank ook in haar studente redelik maklik eien. ’n Formidabele kunstenaar was sy.”

Die operasangeres Andrea Catzel het uit Sydney laat weet: “Te danke aan haar kon ek ’n loopbaan in opera hê. As ek gesukkel het, het sy altyd gesê: ‘Kom ons drink tee!’ Dan het ons in die kombuis gekuier.”

Acáma Fick, dirigent en oudmusiekdosent, vertel Du Toit het altyd ’n persoonlikheidstransformasie ondergaan voordat sy die verhoog betree het.

“Sy het dan ’n innerlike gloed en magnetisme uitgestraal.”

Die operasanger Christiaan Snyman sê: “Ek was vir nege jaar ’n student van haar tot ek Duitsland toe gegaan het. Sy was soos ’n ma vir my. Ek het baie gekuier, oorgebly, saam gaan uiteet. Sy was streng, want sy het die beste vir ’n mens gesoek. Sy was glad nie opgetrek met haarself soos ander soprane nie.”

Du Toit is in Pietersburg (vandag se Polokwane) gebore. Haar lewe word Woensdag in die Stellenbosse Moederkerk gedenk. Die diens begin 11:00.

Haar man, Philip Crouse, het haar in 1999 ontval. Sy word oorleef deur vier dogters en sewe kleinkinders.

Petronella du Toit, gebore 17 Desember 1929, oorlede 29 Julie 2018.

Meer oor:  Sterfgeval  |  'N Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.