Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'n Lewe: Veelbekroonde skrywer skryf al as kind sy eerste ‘roman’ – in SA
Peter Temple

Peter Temple (71), wat verlede maand oorlede is, was ’n Suid-Afrikaanse koerantman wat later in Australië en internasionaal groot bekendheid verwerf het as een van die groot name in misdaadfiksie.

In 2010 het hy die gesogte Miles Franklin-prys vir sy boek Truth ontvang. Dit was een van vele hooggeëerde pryse wat aan hom toegeken is.

Hy het nege boeke geskryf, waarvan die vier Jack Irish-romans in ’n televisiereeks omskep is. Die karakter Jack Irish is ’n twissoekerige oudprokureur en skuldinvorderaar wat nie oor die moord op sy vrou kon kom nie. Die akteur Guy Pearce het dié rol op TV vertolk.

Kritici het hom geloof vir sy fyn ontleding van die donker kant van die (op die oppervlak) blymoedige en jolige Australiërs.

Temple het ’n sagte plek vir honde gehad, en hulle het gereeld in sy boeke hul opwagting gemaak. In die werklike lewe het hy op ’n slag ’n pikswart hond met die naam Blue gehad.

In Suid-Afrika het hy aanvanklik as joernalis en subredakteur by The Argus en die Sunday Express gewerk. In die laat 1970’s is hy eers vir twee jaar na Duitsland, en in 1980 het hy hom voltyds in Australië gevestig. Hy het onder meer vir The Sydney Morning Herald gewerk.

Sy suster Lois Apter vertel vanuit Hermanus: “Hy het een van sy boeke aan ons ma opgedra, maar gemaan dat sy dit nooit mag lees nie omdat daar vloekwoorde en sexy gedeeltes in verskyn. Hy het toe selfspottend vir haar vertel hy weet nie van sulke dinge nie en het iemand betaal om dit vir hom te skryf.”

Temple het reeds sy eerste “roman” geskryf toe hy agt was, maar daar het dadels van gekom. Hy het gewoonlik twee boeke gelyktydig geskryf omdat hy verveeld geraak het met die een.

Temple is in Vryburg gebore en het aan die Selborne College in Oos-Londen gematrikuleer. Daarna het hy by die destydse Argus-kadetskool sy opleiding in joernalistiek in The Star se gebou in Sauerstraat, Johannesburg, voltooi.

Op 23 is hy na die Rhodes-Universiteit in Grahamstad om geskiedenis te studeer.

Hy is in Ballarat, Victoria, Australië, aan kanker oorlede. ’n Kwaadaardige breingewas is ses maande gelede – op die dag waarop sy eerste kleinseun gebore is – by hom gediagnoseer.

Temple word deur sy vrou, Anita Rose-
Innes, ’n seun, ’n kleinseun en drie sibbes (al drie woon nog in Suid-Afrika) oorleef.

Peter Temple, gebore 10 Maart 1946, oorlede 8 Maart 2018.

Meer oor:  Sterfgeval  |  'N Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.