Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'n Lewe: Volkseie Pam het voluit in die kabaret van die SA lewe gedans

Pam Golding (89), wat Dinsdag oorlede is, se naam het volkseie status in Suid-Afrika verwerf. Sy is verweef met die land se tydsgees én geskiedenis, net soos Sol Kerzner, Desmond Tutu en selfs Mrs Ball’s-blatjang.

Pam Golding

Golding was ook een van die land se rykste vroue; haar eiendomsagentskap se omset het jaarliks miljarde rande beloop. Sy het haar onderneming in 1976 op 48 jaar met min geld begin, maar sy het genoeg chutzpah, persoonlikheid en deursettingsvermoë gehad om dit tot een van die kontinent se grootste sakeryke op te bou.

In die biografie Judge Pat Tebbutt Remembers: A Life Spiced with Variety vertel hy dat hy in die 1970’s besturende direkteur van die beleggingsfirma Syfrets Trust was. Hy vertel van ’n skrander vrou wat meer eiendomme as enigiemand anders kon verkoop, haar naam: Pam Golding.

Sy was ook ’n ondersteuner van die kunste en het gereeld finansieel bygedra tot die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, asook Fine Music Radio, waarvan sy ’n stigterslid was. Mark Jennings, hoof van die stasie, sê sy het gereeld die omroepers self gebel en met
hulle gesels.

Dr. John Sonnenberg (89) van Kaapstad onthou haar soos toe sy nog 19 was. “Behalwe vir haar intelligensie en goedhartigheid, was sy een van die mooiste vroue wat ek in my lewe nog gesien het.”

Jennifer Neish, wat 26 jaar lank in die Seepunttak van Pam Golding werk, sê: “Sy het in elke persoon wat vir haar gewerk het, belanggestel. As jy jou haarstyl verander het, het sy dit opgelet.”

In ’n onderhoud met die Britse koerant The Independent word daar vir haar gevra wat sy graag sou wou doen indien sy nie ’n eiendomsagentskap begin het nie.

“Ek sou graag ’n kabaretdanser wou word,” het sy sonder huiwering geantwoord.

Hierdie joernalis onthou hoe lekker sy ’n paar dekades terug met ’n vriend van hom by die modevrou Gloria Arendz se verjaardagpartytjie gedans het. Daar was geen keer aan haar stylvolle danspassies nie, sy was een van die laastes op die dansbaan.

Sy is in Umtata gebore, en het aan die Collegiate Girls’ High School in Port Elizabeth gematrikuleer.

Golding het daarna met ’n beurs ’n honneursgraad in sielkunde aan die Universiteit van Kaapstad behaal.

Die laaste paar jaar was sy in ’n rolstoel. Sy is in haar huis in Wittebome, Constantia, oorlede en word deur drie kinders en tien kleinkinders oorleef. Haar man, Cecil, het haar in 2014 ontval.

Pam Golding (geb. Stroebel), gebore 12 September 1928, oorlede 3 April 2018.

Meer oor:  Pam Golding  |  'N Lewe  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.