Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Lied vir SA in genadestraat
Judith February
Judith February.

Hoe kan dinge voortgaan nes tevore? Dít was verlede week die noodkreet. Suid-Afrika het baie van hulle, maar verlede week het na ’n hoogwatermerk gevoel.

Baie het gebeur. Ons het kwaad geword oor die hoë vlakke van verkragting en moord op vroue en kinders. Ons het kwaad geword oor toksiese manlikheid. Ons het kwaad geword oor ons strafregstelsel, wat ons almal in die steek laat.

Uyinene Mrwetyana het ’n pakkie gaan haal. Jessie Hess en Lynette Volschenk was in hul huise. Ons het gehuil oor almal wat nooit sal terugkom nie, wat weggeneem is deur ’n samelewing waarin moord bloot roetine is.

Terwyl die woede uitgespeel het in die strate van Kaapstad en voor die deure van die konferensiesentrum waar die Wêreld- Ekonomiese Forum vergader het, het pres. Cyril Ramaphosa, wat moeg en tam gelyk het, uiteindelik die nasie in ’n voorafopgeneemde boodskap toegespreek.

’n Mens wonder wat sy raadgewers gedink het. Iemand moes in sy oor gefluister het dat die land kwaad is.

Middestede het ook gebrand weens xenofobiese geweld wat lewens en eiendom verwoes het. Die tragiese tonele in Johannesburg en ander stede is immers soos dit ontvou het regstreeks op ons televisieskerms vertoon.

Ramaphosa se toespraak was ’n paar dae te laat.

Ramaphosa se toespraak was ’n paar dae te laat.

Beloftes is gemaak dat verkragters en moordenaars se tyd verby is, maar die vertroue tussen die staat en sy burgers is so diep verbreek dat sinisme voorverlede Donderdag ál was wat oor was.

Ná al die betogings en woede het Ramaphosa Mrwetyana se gebroke ouers besoek. Hoe is woorde genoeg om ’n vermoorde dogter te vervang? Dit is gepas dat die woede steeds voortduur.

Te midde van hierdie nasionale krisis het ons gehoor die rugbyspeler Chester Williams is voorverlede Vrydag in die ouderdom van 49 dood. Hulle sê net die goeie mense sterf jonk.

Williams was die enigste swart speler in die span wat in 1995 die Rugby-wêreldbeker gewen het. Dit kon nie maklik gewees het nie en tog het dit gelyk of al ons verskille iets van die verlede is toe Francois Pienaar die Web Ellis-trofee bo sy kop gelig het.

Ons het in eg Suid-Afrikaanse styl feesgevier. Madiba het ons aangemoedig en Joel Stransky het homself tot in miljoene mense se harte geskepskop.

Dit was ’n ander tyd. ’n Tyd waarin ons die krake van ons verdelings toegeplak het. Williams het die hoop vergestalt wat ons toe gehad het. Inwoners van sy tuisdorp, die Paarl, het hom vandeesweek tereg as ’n held gehuldig.

Ons tel nou oral stukke op en probeer dít wat gebreek het, regmaak. Ons moet herbou, hoe moeilik dit ook al is.

“Hy het dit in 1995 vir ons gedoen en ons hoop Cheslyn Kolbe en die ander sal dit vanjaar vir ons doen.”

Ons rou oor Williams se dood, en ons rou ook oor dit wat verby is en betreur die toestand van ons land.

Maar die kompleksiteit sou altyd deel wees van ons toekoms, ondanks die oordrewe euforie van 1994. Ons het nie die Zuma-jare sien kom nie (miskien moes ons?), die korrupsie, die vermorste geleenthede en die verwoesting as nalatenskap.

Ons tel nou oral stukke op en probeer dít wat gebreek het, regmaak. Ons moet herbou, hoe moeilik dit ook al is.

Die sangeres Claire Johnston en Mango Groove het in 1993 gesorg vir die liedjie “Another Country”.

Chris Hani is vermoor en die land was op die rand van ’n afgrond. Dit was gepas vir ’n baie spanningsvolle tyd in ons geskiedenis.

Dit is weer in 2016 deur Zolani Mahola opgeneem en is nou weer gepas waar ons in genadestraat is: But let’s begin / To look within / To where the future lies // And find a strength to live beneath / Another country’s skies // Another time / Another place / Another country / Another state of grace.

Meer oor:  Moord  |  Geweld Teen Vroue  |  Noodkreet  |  Verkragting  |  President  |  Vrouegeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.