
Jana Luther
’n Paar van die woorde wat van Julie tot September in die Woordeboek van Afrikaans Vandag (nou ook by PharosAanlyn) opgeneem is:
Gereeld in die nuus was “internetberoemdes” en “sosialemedia-beïnvloeders”, by wie die nuwe tendens, in Engels, “cancel culture” ontstaan het: op Twitter, Instagram, Facebook word openbare figure, organisasies en maatskappye wat hulle aan diskriminerende of beledigende gedrag skuldig maak, of daarvan verdink of beskuldig word, deur gesaghebbende meningsvormers aangeval totdat hulle jammer sê of hulle uit die voete maak.
In Afrikaans is “cancel culture” dadelik met “kanselleerkultuur”, ook “kansellasiekultuur”, vertaal. Af en toe sien ’n mens “afskafkultuur”, “boikotkultuur”, “uitsluitkultuur”, en ook “retrosensuur”: die verwydering, uit ou tekste en films, geboue, die openbaar, van elemente wat weens veranderde norme en waardes nou as onaanvaarbaar beskou word.
“Deugdwang” verwys na die sosiale druk op mense om hul optrede en denke by die heersende mening aan te pas; “dwangkrag” na die vermoë en mag van “deugpronkers” om mense te laat doen wat hulle uit vrye wil waarskynlik nie sou nie. Is dit moreel regverdigbaar? Stel dit vas met ’n “bloostoets”, word gesê: Kan die boikot, afskaffing, uitsluiting onbeskaamd verduidelik word?
Uit Namakwaland en die Karoo kom streek-juwele soos “dreunlyf”, vir iemand wat kwaad is, en “fluisterdraf” soos ’n wildsbokkie.
Op vlak 1 van die Covid-19-pandemie bly nuwe woorde kom en gaan: “motorfiets-ambulans”, “fietsambulans”. Vir direkter kontak, interaksie van aangesig tot aangesig – “aangesigtyd”, “sientyd” – dra baie nie sommer enige hierjy-smoelkappie meer nie, maar “modemaskers”, wat as modebykomstigheid dien. Buite-aktiwiteite is in, en “binneblykonserte”, vir tuisstroming, bly hopelik gewild. In “bioborrels” sluit “leeflinge” (Louis Esterhuizen se woord vir “lewensmaats”) hulle knus van die buitewêreld af (maar ’n mens lees ook van “eensaamheidsdood”).
Naas “PIMS” (“pediatriese inflammatoriese multisisteemsindroom”), ’n eens seldsame sistemiese afwyking, gekenmerk deur ernstige ontsteking en koors by kinders, is “PIMS-TS” (PIMS ná blootstelling aan Sars-CoV-2, wat Covid-19 veroorsaak) nou ’n aanmeldbare siekte.
Agter die Engels aan het Afrikaans se koerante en tydskrifte die skryfwyse “Covid-19” gevestig, al sê die reëls vir die skryf van afkortings in Afrikaans ’n beginhoofletter deug eintlik net vir eienaamwoorde. Vir die name van siektes, wat soortnaamwoorde is, beveel die AWS aan: kleinletters (“covid-19”, “vigs”), of hoofletters (“COVID-19”, “VIGS”).
Voorbeelde van spesialisterme wat opgeneem is, is “misofonie”, of “geluidshaat”, ’n hewige afkeer van bepaalde geluide; en “antilokusie”, waarby negatiewe aanmerkings oor iemand of ’n groep gemaak word, sonder om die aanmerkings direk tot die persoon of groep te rig.
Uit Namakwaland en die Karoo kom streek-juwele soos “dreunlyf”, vir iemand wat kwaad is, en “fluisterdraf” soos ’n wildsbokkie.
“Karoo-oesters” is lamsknatertjies; “rissel”, die gebakte rugvel van ’n ystervark; “ghries”, grondboontjiebotter en konfyt; en “streepmuis”, roosterkoek – wat “vloekbrood” word as jy dit op die rooster omdraai en jou vingers verbrand.
- Luther versamel woorde by afrikaans-vandag.co.za.