Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Maatjie vir ’n naatjie

Wanneer sogenaamde “vriende met voordele” ter sprake kom, moet jy maar die fynskrif behoorlik gaan lees, skryf Erla-Mari Diedericks.

Erla-Mari Diedericks

’n Maatjie vir ’n praatjie. Wie onthou nog die CB-radio van jare gelede?

Vandag sit ons met ’n ander mutasie. ’n Maatjie vir ’n naatjie (en ja, ek het die “I” uitgelaat, want hierdie is ’n gesinswebtuiste!).

Friends with benefits. Vriende met byvoordele. Vryvriende. ’n Geleentheidsmaat. ’n Geriefsvriend. Innienoodjie en ’n kom en gaan.

Vry is hier die sleutelwoord. Jy is vry om te vry met jou vriend. Jy is ook vry om ander mense te vry. En jy is vry van enige verantwoordelikhede tot daardie persoon.

Geen liefde, geen verhouding, geen sprake van ’n toekoms saam of getrouheid. ’n Vrygesel in die ware sin van die woord.

“Waar kan ek aansluit!” hoor ek duisende mans gil. En ja, grom nou maar dat ek diskrimineer, maar studies bewys dat al sal vroue toetree tot sodanige reëling, dit baie beter by die man se biologiese samestelling pas as by dié van ’n vrou.

Biologies gesproke is vroue geneig om geheg te raak (wat sy kan verwar met liefde) sodra die dopamienhormoon tydens seks vrygestel word.

Dopamien help mans weer om te ontspan. Bande word nie noodwendig gesmee nie en dit kan daartoe lei dat een van die twee maatjies seerkry. Biologiese feit: Vroue kan tot twee weke geheg voel aan ’n man ná seks en ’n man net sowat twee uur.

Maar wat is vriende met voordele? Die term friends with benefits het glo vir die eerste keer sy opwagting gemaak in Alanis Morissette se lied “Head over Feet”.

Maar as jy my vra, is hierdie gebruik van “kom ons hou mekaar besig totdat iemand anders opdaag”, al so oud soos die berge.

Dus sal twee mense ooreenkom om seksueel met mekaar te verkeer sonder enige bande of ’n verhouding. Waar dit verskil van ’n one-night stand of rondslapery, is dat die ooreenkoms gewoonlik behels dat dit julle net vir mekaar gaan sien of dan wel op ’n gereelde grondslag en nie net een keer nie.

Lees egter die fynskrif. Gaan jou maatjie ander maatjies ook hê? En wat is jou maatjie se idee van gereeld? Een keer per dag, per week of per maand?

Vir diegene – man of vrou – wat in so ’n vriendskap betrokke raak met die hoop dat dit in iets meer sal ontwikkel, hier is die uitslag: Net 15% het verlief geraak op mekaar.

Vryvriende is nog steeds ’n ooreenkoms. En waar ’n ooreenkoms gesluit word, is daar ook die ingeboude meganisme dat dit verbreek kan word. In 2015 is ’n studie gedoen met 191 mense wat vryvryers was. ’n Jaar later het hulle die paartjies weer besoek.

Hiervan was 28% weer net vriende buite die slaapkamer, 26% het nog tussen die lakens gekuier en 31% was nie meer bymekaar nie.

Vir diegene – man of vrou – wat in so ’n vriendskap betrokke raak met die hoop dat dit in iets meer sal ontwikkel, hier is die uitslag: Net 15% het verlief geraak op mekaar.

Maar wat ook al. Wat my punt is, is dat ek dink dis paartyd. Of dalk maak die wind mans onstuimig. Of dalk is dit die naderende winter. Maar ek het die laaste tyd drie uitnodigings gekry om iemand se innienoodjie te wees.

Die veronderstelling is natuurlik dat ek enkellopend is en dus in die nood is en smag na voordele.

Die term “voordele” het egter vir my ’n effens ander betekenis en het niks met ’n kom-en-gaan-situasie te doen nie.

Maar om alleen in die stort te sing is net so lekker. En jy hoef nie ’n ekstra handdoek ná die tyd te was nie en jou hart bly heel.

As jy ’n dokter is met ’n voorskrifboekie wat ek na hartelus kan gebruik vir antibiotika, pynpille en morfien . . . fantasties. (Moenie oordeel nie, dalk skerts ek net).

As jy Exclusive Books besit of gratis toegang het tot die jongste boeke – wel, dis ’n groot voordeel. As jy ’n drankwinkel besit of ’n kelder vol wyn, is dit ’n besliste voordeel.

Maar vryerige voordele?

Kom ek stel dit so: Sing is ’n wonderlike ding. Ek is mal daaroor. Daar is altyd die een of ander liedjie in my kop. Natuurlik kan ’n mens ’n duet ook sing. Soms klink dit selfs beter. Maar om alleen in die stort te sing is net so lekker. En jy hoef nie ’n ekstra handdoek ná die tyd te was nie en jou hart bly heel.

Daarom sing ek solo – totdat iemand natuurlik kom met ’n beter voorstel.

Met dank aan Jean Meiring vir sy uiters oorspronklike Afrikaanse voorstelle vir FWB.

• Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.