Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Man, sy flessie vol uraan en sy ratelslang
Tom Dreyer
Tom Dreyer.

Onlangs onderbreek ’n stop-ry-halte my tog deur die wingerde. Ek kyk na ’n hadeda en ’n ontluikende eikeboom, na ’n dam waarop pelikane ’n rukkie lank droomwit vertoef voordat hulle weer na ’n ander, beter wêreld uitwyk. En kort voor lank vlieg ek saam, tot hoog bo die Boland, tot in ’n ruim waar alle plekke en gebeure saampraat, selfs Oklahoma, en selfs die sonderlinge insidentjie wat onlangs daar afgespeel het.

Dit was die man se gesigsuitdrukking wat my eerste opgeval het: Hy kyk gedwee na die polisiekamera, maar iets aan sy houding suggereer dat hy bo kleinighede soos inhegtenisneming verhewe is.

As dit nie vir die beuselagtighede en beslommernisse van die lewe was nie, sou hy op ’n vryer en hoër vlak gefunksioneer het – dít is wat sy ongeskeerde kaak sê, sy wydgesette oë, sy haarslierte so uitbundig soos die korona van ’n son.

Sy naam is Stephen Jennings en hy is in Guthrie, Oklahoma, afgetrek omdat sy nommerplate verval het. Maar dit was ’n raarder geval hierdie, want die swart Ford Explorer was nie bloot ongelisensieerd nie, dit was gesteel, en vol items wat die mees gesoute polisieman sal laat kopkrap.

Saam met hom in die kajuit was ’n halfleë bottel Kentucky Deluxe, ’n pistool, ’n lewende ratelslang en ’n staalbuis vol verpoeierde uraan.

Saam met hom in die kajuit was ’n halfleë bottel Kentucky Deluxe, ’n pistool, ’n lewende ratelslang en ’n staalbuis vol verpoeierde uraan. Laasgenoemde, gemerk “Caution: Radioactive material”, het die polisiemanne laat bontstaan. ’n Spesiale opruimingspan is ingeroep, want, soos polisiesersant An­thony Gibbs tereg opgemerk het: “The uranium is the wild card here.”

Jennings is in hegtenis geneem vir die besit van ’n gesteelde voertuig en vir bestuur met ’n oop houer alkohol. Dit was die enigste aanklagte, want in die jagseisoen in Oklahoma is ’n ratelslang geen probleem nie. En snaaks genoeg is die besit van verpoeierde uraan ook nie onwettig nie. Dit word onder meer in die vervaardiging van sekere patrone gebruik en is vryelik in die handel verkrygbaar, selfs op Amazon.

Jennings het eers spottenderwys verduidelik dat hy van plan was om ’n “super-slang” te teel, maar moes uiteindelik ’n meer prosaïese verduideliking gee: die uraan is afkomstig van ’n verklikker wat hy kort tevore uitmekaargehaal het.

Ek weet nie of die polisie dié storie geglo het nie, maar iets laat my twyfel. Gibbs klink na ’n man met aanvoeling. Sekerlik het hy Jennings net een kyk gegee – na daardie oë waarin die verlatenheid van die woestyn deurskemer – en gesien hoe hierdie man, met sy drank en sy uraan, voet in die hoek sit oor die vlaktes van hul vaderland. Amarillo, Albuquerque en Las Vegas sal wegraak onder wiele wat nie sal ophou draai voordat hulle in Area 51 tot stilstand kom nie.

By daardie terminus van die Amerikaanse droom sal Jennings se uraankorrels tot hul reg kom, want in daardie onwerklike landskap is selfs die atoom se geheime so alledaags soos stof of gruis of Josua-bome.

Dis waar Stephen Jennings sal kan asemhaal, waar hy nuwe woorde op sy tong sal voel tintel, terwyl sy ratelslang by sy voete krul, en hy met nuwe oë kan kyk na die ondeurgrondelike lug bo Groom Lake, Guthrie en Drakenstein.

  • Dreyer is ’n bekroonde skrywer.
Meer oor:  Tom Dreyer  |  Polisie  |  Vryheid  |  Uraan  |  Ratelslang  |  Herinneringe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.