Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Man vergeet nooit sy eerste stel wiele nie
Nolan Venter

Niks op dese aardbodem maak ’n jongman so wintie as sy eerste stel wiele nie. Soveel te meer as hy as laaitie halwe bakstene en rivierklippe verbeeldingryk op ’n plattelandse werf rondgestoot het.

Op oorle’ Oupa se donkiekar het ek ook vele dae die leisels oorgeneem. En dis dán dat my verbeelding behoorlik op hol gegaan het. Veral as ons twee geliefde langore, Arnols en Vrystaat, so fluks voor my getrippel en hulle elke draaitjie gevat het waarin ek hulle stuur.

Maar hier in die vroeë 1980’s kry ’n ou idioom toe sowaar vir my betekenis – dat agteros ook in die kraal kom. Nogals danksy ’n vakansiejoppie wat ek elke jaar ná die eindeksamen met albei hande aangegryp het.

Ek het vele aande tot hier in die vroeë oggend geswoeg en gesweet in ’n bakkery waar ek Kerskoeke versier het. Tot so ’n mate dat my betaalpakkie oor naweke boep gestaan het.

Dis was dan ook hier kort voor Kersfees dat die geluksgodin haar weg na my kant toe gevind het in ’n ryding – ’n blink tweedehandse vuurwa so na my hart. Pragtige poublou met ’n wit vinieldak en spieël-blink allooiwielvellings. Enige jongman se droom. Al het die bitterbekke gespot dat Ford staan vir “Found On Rubbish Dump”, was my 1974 Ford Cortina V6 in my oë eenvoudig net ’n F****n Ordentlike Ry Ding.

Sy het hier onder my gebewe soos ’n brahmaanbul wat net wil storm.

Ek kan nog onthou hoe sleg ek daardie eerste aand geslaap het. Kort-kort opgestaan om seker te maak dat sy nog hier reg onder my kamervenster geparkeer was.

Kyk, as ek soggens daardie 2.5-enjin in haar borskas aangeskakel het, haar uit rat gehaal en die versneller ’n paar keer diep ingetrap het om haar op te warm, was die ganse buurt in ’n oogwink wakker. Dan het sy hier onder my gebewe soos ’n brahmaanbul wat net wil storm.

Om nie eens te praat van die straal helder water wat met elke wind-opbreek by haar uitlaatpyp uitgeborrel het nie.

Met my karige onderwyssalaris van destyds het ek die Transkeise platteland deurkruis terwyl die groen golwende heuwels soos uit ’n sprokieswêreld by my verbyflits. Saterdae is sy blinkgepoets terwyl die soetste musiekklanke uit die 1980’s uit haar binneruim opgeklink het.

Ek was toe in die fleur van my jeug en as dit by die skoner geslag gekom het, het daardie vuurwa sommer self die praatwerk gedoen.

Ek sukkel om te onthou hoe ons paadjies geskei het. Maar toe ek nou anderdag vir my huidige ryding ’n battery moes aankoop, kom spook die fortuin wat ek destyds vir haar opgedok het, weer by my.

Want die haasbek-batteryverkoopsmannetjie glimlag toe ewe breed oor die afslag van R20 wat hy my op my nuwe battery bied. Dit terwyl ek ’n dikke R400 meer daarvoor betaal as die R1 200 wat ek as jongman vir my eerste vuurwa opgedok het – padwaardig, gelisensieer en bowenal ’n hartebreker soos min. Ai, as ’n mens maar net die wysers van tyd kon terugdraai.

Meer oor:  Nolan Venter  |  Wiele  |  Vervoer  |  Enjin  |  Motor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.