Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Man wat nie van Kersfees gehou het nie
Aniki
Aniki Joseph

‘Come they told me / Pa rum pum pum pum / A new born king to see / Pa rum pum / Our finest gifts we bring / Pa rum pum pum / To lay before the king / Pa rum pum pum.” (“Little Drummer Boy”)

“Kom, my vrou. Kom laat ons net hier uitkom! Die musiek is te hard. Die mense is te veel. Te veel plastiek, te veel gejaag, te veel klatergoud.”

Hy is gewoonlik die geduldigste lid van die gesin, maar die kommersialisering van Kersfees stuit hom teen die bors. Die man kon nog nooit verstaan dat Kersfeeswinskopies al sedert September elke jaar uitgebasuin word in winkelvensters en op advertensieborde nie. Dat die mensdom so koorsagtig koop nie. Ja, tot op die laaste minuut van Oukersaand nog steeds koop nie. Daardie laaste desperate, nuttelose geskenke wat dikwels gekoop word omdat jy aan niks anders kan dink op die oomblik nie en wat dan iewers in ’n laai beland.

“Little baby / Pa rum pum pum / I am a poor boy too/ Pa rum pum pum / I have no gift to bring / Pa rum pum pum / That’s fit to give our king / Pa rum pum pum.”

Sy lippe gebars. Sy hande grof. Sy gesig blink gesweet. Sy tekkies dun geloop. Sy lyf dun.

Die motorwag help om die inkopiesakke in die bagasiebak te laai. Sy lippe gebars. Sy hande grof. Sy gesig blink gesweet. Sy tekkies dun geloop. Sy lyf dun.

“Dankie, meneer! God bless.”

Hy glimlag tandeloos. Prop die muntstukke in ’n plastieksakkie en dan in sy flenter broeksak. Waai totdat die motor buite sig is.

Laataand kom plak die studentekind ’n nagsoen op die ma se voorkop. “Mams, ek kan nie ophou dink aan daardie motorwag van vandag nie. Hoekom kry mense so swaar? Hy het bitter min en werk steeds blymoedig en hard daarvoor. Ek wonder of hy ’n gesin het. Ek wens ek kon vir hom en vir hulle ook ’n mooi Kersfees gee. Nag, Mams.”

Die vrou rol om en om. Sy dink aan die woorde van Adam Small: “die Here het gaskommel en die dice het verkeerd geval vi’ ons daai’s maar al”.

Die bedliggie skyn flou op die bladsye van die dun papier met die goudkleurige rande. Sy lees die woorde duidelik daar geskryf: “Gaan leer wat dit beteken: Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.”

Dit is dan, in daardie oomblik, dat sy haar man en haar kind se harte duideliker sien en verstaan as ooit tevore. Méér as dit. Sy verstaan watter geskenk waardig vir die Koningskind sal wees . . .

Toe die middaguur uitval op die dag voor Kersfees, oorhandig hulle die geskenke aan die motorwag. Hy huil onbeskaamd.

Kersdag sal daar ook vir hom en sy gesin hoender, rys, groente, ingelegde perskes en boksievla wees.

Dit is toe dat sy opkyk in die oë van die studentekind. Dit skitter!

Immanuel. Die naam beteken God by ons. Geseënde Kersfees. God by ons.

Joseph is ’n skrywer en reisiger van Pretoria.

Meer oor:  Aniki Joseph  |  Kersfees  |  Karwag  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.