Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Mandjie vol groente gee kleur aan taal
Jana Luther

’n Groot deel van Afrikaans se idiomeskat is al etlike honderde jare oud. Baie van ons spreekwoorde en gesegdes gaan selfs terug tot vorige millennia. Heelparty dateer van die Griekse en die Romeinse mitologie. Sommige is aan oeroue fabels ontleen. Talle kom uit die Bybel; ander uit die Middeleeue en die riddertyd.

Uit die dae toe ons voorgeslagte nog na aan die natuur geleef het, kom gesegdes wat aan die diere van die veld en hul gewoontes herinner. Verskeie Afrikaanse uitdrukkings het hul oorsprong in die seevaart en die lewe van matrose. Uit die agrariese leefwyse van ons voorouers kom idiome wat aan die landbou ontleen is. Uit die trekkersbestaan van weleer uitdrukkings wat met waens en osse verband hou.

Maar vandeesweek was ek in die WAT en die HAT se groentetuine, waar plante nie net as kos dien nie, maar ook kleur aan ons taalgebruik verleen. Hier is ’n mandjie vol:

Plesier is nes ’n jong komkommer, as jy hom pluk, verlep hy sommer.

Hy was so kwaad, jy kon ’n aartappel in hom gaarmaak;

Hy is ’n ongeskilde aartappel, dié ruwe, ongepoetse vent;

Kan ’n mens aartappels in iemand se ore plant? Dan het hulle seker lanklaas ’n waslap gesien;

Iemand wat sy of haar aartappels nie twee keer skil nie, praat een maal klaar; doen ’n ding een maal en doen dit reg;

Plant jy beet tussen jou beddings? Dan praat jy Afrikaans met Engelse woorde tussenin en maak jy taalpuriste die boontjies in. As jy self die bone in raak of in die bone sit, is jy in die moeilikheid;

Kom ’n mens êrens vir spek en bone, rig jy daar niks uit nie;

’n Heilige boontjie hou hom vroom.

Weet jy hoeveel blou boontjies vyf maak? Dan het jy die waarheid ontdek. Wil jy iemand op haar plek sit? Beduie dan aan háár hoeveel blou boontjies vyf maak;

’n Heilige boontjie hou hom vroom; haal Farisese streke uit, sê die WAT;

Kom daar boontjies van iets, kom daar niks van nie;

Elke moer wil ’n ertappel wees.

As jy iemand in die boontjies kry, fop jy hom. Maar onthou: Boontjie kry sy loontjie; wie kwaad doen, word gestraf;

Daan en Faan lyk soos twee boontjies op mekaar, soos vinkel en koljander. Soos twee boontjies stem hulle ook oor alles saam;

“Plesier is nes ’n jong komkommer, as jy hom pluk, verlep hy sommer,” het F.W. Reitz gesê. En Piet Cillié, komkommerkoel: “Eet jou rape eerste!”; en

Laat jy jou knolle vir sitroene verkoop? Dan is jy ’n pampoen(kop) wat jou allerhande dinge laat wysmaak. Dan het jy ’n pampoenbril op; skille oor jou oë, wat jou dalk net in tamatiestraat kan laat beland. En dis nie sommer ’n patat nie. Dis die waarheid.

Wie ken nóg nuwe, onopgetekende uitdrukkings, soos die Varsgebek-wenner “elke moer wil ’n ertappel wees”? Toe. Uit met die mandjie patats.

By viva-afrikaans.org/varsgebek.

Meer oor:  Taal  |  Afrikaans  |  Groente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.